Regering sal leeueaandeel van olie-inkomste ontvang

Tot 55% van olie-inkomste vir die staat
Tantieme, belasting en 10% van dividende deur Namcor kan die regering se beursie vul.
Augetto Graig
Die minister van myne en energie, mnr. Tom Alweendo, sê Namibië sal die meeste by enige olie- en gasontginning in die land baat.

Alweendo het Maandag ’n openbare lesing by die Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) in Windhoek oor die Namibiese perspektief op olie-ontginning geopen.

Dit volg op onlangse aflandige olie-ontdekkings deur Shell en Total langs die Namibiese suidkus, met die potensiaal om ’n beduidende inkomste vir die land te genereer, indien die beoordeling van oliereserwes gunstige resultate oplewer.

By dieselfde geleentheid het mnr. Immanuel Mulunga, besturende direkteur van Namcor, die staat se oliemaatskappy, wat saam met QatarEnergie die minderheidsaandeelhouers in dié ontdekkings is, gesê Shell en Total sal vyf nuwe boorgate in die derde kwartaal van 2022 boor “om die hoeveelheid olie vas te stel”.

“Om die ontdekkings in konteks te plaas; is daar diegene wat glo daar is nog meer olie in Namibië as in Gyana,” sê Mulunga, met verwysing na die reuse-reserwes van 11 miljard vate wat ExxonMobil in dié Suid-Amerikaanse land ontdek het.

“Dis nie ’n klein kwessie nie, maar betekenisvolle ontdekkings,” dring hy aan.

“Ons mag binne ’n dekade die derde grootste olievervaardiger in Afrika suid van die Sahara wees,” het hy bygevoeg.

“Die boorgate Graff-1 (Shell) en Venus 1-X (Total) is tussen die top-20-ontdekkings in die laaste dekade, wat tot US$5,6 miljard per jaar tot staatsinkomste kan bydra, en die bruto binnelandse produk (BBP) teen 2040 amper na US$37 miljard kan verdubbel. Teen 2028 kan 3 600 bykomende werksgeleenthede geskep word,” voeg Mulunga by.

Alweendo het uitgebrei oor hoe dié geld na die staatkas sal vloei.

“Ons sal tantieme uit die inkomste van die olie ontvang; ons tantieme koers is nou 5%. Ons sal belasting op daardie inkomste genereer teen 35%. Daar is ook voorsiening gemaak vir bykomende belasting op meevallerwins, wat tussen die vervaardiger en die regering onderhandel sal word,” sê hy.

Die minister voeg by dat Namcor se 10%-aandeelhouding in die ontdekkings inkomste vir die staat sal beteken, uit wins wat die oliereuse mag maak.

Alweendo sê volgens die ministerie se model sal die staat tot 55% van die inkomste kry, nog voor uitgawes en wins bepaal word.

Die ondervoorsitter van die Vereniging vir Namibiese Petroleumoperateurs (Nampoa) en hoofbestuurder van ExxonMobil se eksplorasie en produksie Namibia, me. Bridget Venner, het gesê: “Namibië was baie slim rakende belasting, om ’n proporsionele aandeel tussen 55% en 65% in te samel. Eintlik kry Namibië die leeueaandeel van die inkomste en winste,” sê sy.

Die minister waarsku egter dat die toename in inkomste ’n bedreiging vir die ekonomie kan beteken as daar nie meer aandag aan ander sektore gegee word nie, of as die ekonomie afhanklik van olie-inkomste word.

Die samelewing is kwesbaar as die geld gesteel word, of as te veel buitelandse invloed plaaslike verhoudings destabiliseer.

“Ons benodig sterk instansies en prosedures vir die sistemiese bestuur van die inkomste en die hulpbron,” het Alweendo gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!