Rosh Pinah myn voort terwyl Trevali kopers soek

Augetto Graig
Mynbedrywighede duur steeds voort by die Rosh Pinah-sinkmyn ten spyte van donker wolke wat onlangs om die eienaars, Trevali Mining Corporation, se koppe saamgetrek het.

Trevali se president en uitvoerende hoof, mnr. Ricus Grimbeek, en direkteur, mnr. Dan Isserow, het dié maand bedank, saam met die Kanadese onderneming se hoof operasionele beampte, mnr. Derek du Preez, wat op 14 Oktober afskeid neem.

Die handel in Trevali se aandele is ook vanaf Augustus vanjaar op die Toronto-aandelebeurs opgeskort.

Dit volg nadat ’n hof in Burkina Faso twee van Trevali se bestuurders by die Perkoa-myn skuldig bevind het aan manslag, ná agt mynwerkers in April gedurende kitsvloede verdrink het.

Die Suid-Afrikaner, mnr. Hein Frey, is met US$3 000 beboet en ’n opgeskorte vonnis van 24 maande opgelê. Die Australiër, mnr. Daryl Christensen, wat vir ’n kontrakteur Byrnecut gewerk het, het ’n 12 maande opgeskorte vonnis gekry asook ’n boete van US$1 500, volgens Mining.com.

Die hooggeregshof in Brits-Columbië het verlede Vrydag toestemming gegee vir ’n proses om bates te verkoop, of beleggings te lok vir mynbates wat Trevali wêreldwyd besit.

Bedrywighede mag steeds voortgaan as gevolg van die toekenning van beskerming onder die Kanadese Wet op Maatskappye se Krediteurereëling (die “CCAA”).

Volgens Trevali se direkteur verantwoordelik vir beleggersverhoudings, mnr. Jason Mercier, word die Rosh Pinah-myn se werksaamhede minimaal beïnvloed.

“Die Rosh Pinah-myn het geen impak op sy daaglikse myn- en verwerkingsbedrywighede gehad nie,” het hy aan Republikein gesê.

“Die maatskappy is op 19 Augustus onder CCAA geplaas en werk aktief saam met ons leners om ʼn oplossing te vind vir ons skuld en operasionele kwessies binne spesifieke benaderings vir elk van Trevali se bates,” brei hy uit.

“Toe Trevali Corporation en sy filiaal Trevali NB in Augustus onder CCAA toegetree het, is die vroeë werksprogram by Rosh Pinah onder hersiening geplaas en die RP2.0-uitbreidingsprojek is opgeskort terwyl Trevali Corporation ’n finansieringsinisiatief volg,” voeg hy by.

Die maatskappy het nie ’n verpligte vooruitbetaling van ongeveer US$7,5 miljoen op sy senior versekerde kredietfasiliteit nagekom toe die bedrag op 17 Augustus 2022 betaalbaar was nie, volgens Trevali se webwerf.

Mercier sê net werknemers by die Rosh Pinah-myn wie se werk direk verbind is met die opskorting van die RP2.0-uitbreidingsproses, kan moontlik tydelik afgelê word.

Die Rosh Pinah-myn het sowat 400 werknemers met omtrent dieselfde aantal kontrakteurs.

“Sommige kontrakteurs se werknemers sal deur die opskorting van die RP2.0-uitbreidingsprojek geraak word,” sê hy.

Teen Junie het Rosh Pinah vir 2022 reeds 17,1 miljoen pond sink in die eerste kwartaal en 16,7 miljoen in die tweede kwartaal vervaardig, met die hersiene verwagting vir die volle jaar wat na tussen 62 en 66 miljoen pond aangepas is.

“Die Rosh Pinah myn is in ʼn gunstige mynboujurisdiksie geleë, is sedert 1969 in produksie, en het 12 jaar oor vir produksie. Boonop het die RP2.0-uitbreidingsprojek in Augustus 2021 sy haalbaarheidstudie bereik. Hierdie eienskappe maak Rosh Pinah-myn ’n begeerlike bate,” sê Mercier.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!