Rössing wys hoe

Stoot wins op na N$840 miljoen vanaf N$192 miljoen
Namibië se oudste uraanmyn het begin met die implementering van sy plan om die myn se lewensduur te verleng.
Augetto Graig
Geen werksure het verlede jaar verlore gegaan weens enige noodlottige, nadelige of verhinderende ongelukke, terwyl inkomste van N$4,84 miljard deur 873 permanente werknemers, en 28 op vastetermynkontrakte, gegenereer is. Die frekwensiekoers van die totale beserings (AFIR) was 0,43 in vergelyking met die teiken van 0,48.

Rössing Uranium – wat al 46 jaar volhoubaar in Namibië myn – het dié syfers in ’n volhoubaarheids- en prestasieverslag van 2022 bekend gemaak

Die myn het verlede jaar 16,6 miljoen ton erts gemyn, sowat 9 miljoen ton erts gemaal en 2 659 ton uraanoksied vervaardig. Daarmee het Rössing 4,4% van die wêreld se produksie vir 2022 gelewer, en bygedra om Namibië se plek as die derde grootste uraanbron op aarde te behou.

Rössing se grootste prestasie in 2022 mag wel winste van meer as N$840 miljoen wees, teenoor N$192 miljoen in 2021. Aandeelhouers het reeds tussentydse dividendbetalings ter waarde van sowat N$50 miljoen (N$49,7 miljoen) ontvang.

Die voltooiing van die plan om die myn se lewensduur te verleng, en die aanneming van die plan in Februarie vanjaar, is een van die myn se langtermynprestasies.

Die myn wat 12 km buite Arandis geleë is, sou na verwagting in 2026 sy deure moes sluit, maar met dié plan is die myn se lewensduur tot 2036 verleng.

Die uitvoerende direkteur van die myn, Johan Coetzee, lê egter klem op die voltooiing van die nuwe waterreservoirs op die myn ter waarde van N$100 miljoen, wat ’n bykomende 60 000 kubieke meter stoorkapasiteit bied. Dit om werksaamhede te laat voortgaan wanneer groot hoeveelhede swael in die Atlantiese Oseaan voorkom (sulphur bloom) wat soms tot die sluiting van die Orano-ontsoutingsaanleg lei.

Die reservoirs is gebou sonder om ’n druppel te mors, spog hy.

Die meerderheidsaandeelhouers, China National Uranium Corporation (CNUC) se voorsitter Chen Junli, en China National Nuclear Corporation se voorsitter Yu Jianfeng, was beide Maandag by die bekendstelling van die verslag op Droombos net buite Windhoek teenwoordig, asook die nuwe Chinese ambassadeur in Namibië, Zhao Weiping.

Volgens Junli was 2022 ’n belangrike jaar vir CNUC wat, danksy Rössing se bydrae, die tweede meeste natuurlike uraan kon verkoop.

Hy het die myn se bestuur en arbeidsmag geprys en aangemoedig om vanjaar weer teikens te bereik deur risiko’s te identifiseer, koste te verminder, doeltreffendheid te verhoog, en te fokus op veiligheid en produksie.

Weiping het gesê ’n week nadat hy in Namibië aangekom het – vier maande gelede – het hy Rössing besoek en was beïndruk met die myn se goeie verhouding met die publiek, en sy bydrae tot plaaslike ontwikkeling.

Hy het China se president Xi Jinping aangehaal: “Ware ontwikkeling, is ontwikkel vir almal, en goeie ontwikkeling is volhoubare ontwikkeling.”

Die Chinese regering moedig Chinese maatskappye aan om altyd die belange van die mense in die lande waar hulle belê, in ag te neem, het hy gesê.

“CNNC Rössing Uranium vertel ’n suksesverhaal van wedersydse voordelige ekonomiese samewerking tussen China en Namibië. Ek hoop en glo ons sal meer sulke stories in die toekoms hoor,” het Weiping gesê.

Die adjunkminister van myne en energie, Kornelia Shilunga, het die verslag amptelik vrygestel, en gesê Rössing is ’n veerkragtige maatskappy deur onsekere tye en ’n voorbeeld van

korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid wat ander mynbouers kan volg.

Sy het ’n beroep gedoen op meer direkte beleggings in verwante nywerhede vanaf mynbou en sê oor die algemeen is die vlakke van plaaslike verkryging nog onbevredigend.

Rössing het egter verlede jaar N$2,54 miljard op plaaslike verkrygings bestee, of 74% van sy totale begroting vir die jaar van N$3,42 miljard.

Die grootste begunstigdes van dié besteding was onder meer NamPower wat N$287,7 miljoen ontvang het, NamWater met N$163,5 miljoen, en TransNamib met ongeveer N$20,3 miljoen.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!