Die koers vir huishoudelike skuld teenoor besteebare inkomste het van 87,7% in 2020 tot 77,4% verlede jaar verbeter. Dié skuld is geld wat aan banke en nie-bankinstellings soos mikroleners terugbetaal is. Foto Unsplash
Die koers vir huishoudelike skuld teenoor besteebare inkomste het van 87,7% in 2020 tot 77,4% verlede jaar verbeter. Dié skuld is geld wat aan banke en nie-bankinstellings soos mikroleners terugbetaal is. Foto Unsplash

Skuld se angel minder giftig

BoN: ‘Moenie té gerus raak nie’
Hoewel Namibië se finansiële stelsel stabiel is en 'n beter jaar as 2020 agter die rug het, flikker nuwe gevaarligte soos stygende rentekoerse vir vuisvoos verbruikers.
Jo-Maré Duddy
Verbruikers het verlede jaar gemiddeld N$7 413,50 se besteebare inkomste elke maand in hul sak gehad, maar N$5 738 hiervan moes gebruik word om hul skuld te delg en net gemiddeld N$1 675,50 was vir maandelikse dag-tot-dag uitgawes oor.

Die Bank of Namibia (BoN) se jongste Finansiële Stabiliteitsverslag is gister vrygestel en toon die gemiddelde Namibiër se geldsake was verlede jaar minder beroerd as in 2020.

Gemiddelde jaarlikse besteebare inkomste het met 15,6% van N$76 930 in 2020 tot N$88 962 gestyg. Die BoN skryf dié styging toe aan maatreëls wat ingestel is om die impak van Covid-19 te verlig, asook aan regeringsubsidies aan huishoudings om die pandemie se uitwerking te versag.

Die sentrale bank beklemtoon egter dat dit eenmalige verligting was en dat groei in besteebare inkomste in die toekoms weer sal normaliseer.

LENINGS, RENTE

Die koers vir huishoudelike skuld teenoor besteebare inkomste het van 87,7% in 2020 tot 77,4% verlede jaar verbeter. Dié skuld is geld wat aan banke en nie-bankinstellings soos mikroleners terugbetaal is.

Huishoudings het verlede jaar baie minder geleen met krediet aan verbruikers wat met net 2,1% teenoor 2020 toegeneem het.

Volgens die BoN het verbruikers van rekordlae rentekoerse gebruik gemaak om hul skuld vinniger te vereffen.

Die koers vir huishoudelike finansieringskoste, soos rente, teenoor besteebare inkomste was 17,2% – aansienlik meer as die 9,0% in 2020. In totaal het verbruikers verlede jaar N$15,3 miljard se rente gedelg, 45,2% meer as in 2020.

Intussen het rentekoerse egter begin styg met 2022 wat reeds twee verhogings agter die rug het.

SLEGTE SKULD

Plaaslike handelsbanke moes verlede jaar N$54 miljoen se lenings afskryf – minder as die N$63 miljoen in 2020, maar beduidend meer as die N$20 miljoen in 2019.

Sowat 8,6% van totale lenings is verlede jaar afgeskryf vergeleke 11,23% in 2020. In 2019 was dié syfer 2,3%.

Afskrywings in 2021 het 0,05% van banke se wins verteenwoordig. Die vorige jaar was dit 0,06% en in 2019 was dit 0,02%.

Die banksektor se koers vir wanpresterende lenings (NPL’s) in 2021 was 6,41% vergeleke 6,44% in 2020. Dit oorskry egter steeds die BoN se reeds verhoogde koers van 6,0% in krisistye. ‘n Lening word as wanpresterend beskou as dit 90 dae agterstallig is.

Die effense herstel is danksy ‘n verbetering in die NPL’s van hoofsaaklik huisverbandlenings, aangesien dit meer as die helfte van banke se totale leningsboek uitmaak.

NPL’s vir persoonlike lenings was 27,6% hoër as in 2020, terwyl die syfer vir kredietkaarte met 31,3% gestyg het. NPL-toenames van 10,5% vir oortrokke rekeninge en 8,6% vir ander lenings is aangeteken. “Ongunstige ekonomiese toestande” het dié stygings veroorsaak, aldus die BoN.

RISIKO

“Heersende ekonomiese toestande speel ‘n beduidende rol in die vermoëns van kliënte om hul skuld te delg, meer so met afdankings en afleggings wat ondervind is,” sê die sentrale bank.

Hoewel die kredietrisiko van banke verlede jaar afgeneem het, kan moontlike rentekoersrisiko vanjaar opnuut tot hoër kredietrisiko lei, sê die BoN.

Die banksektor se totale nettowins verlede jaar was N$628 miljoen – N$70 miljoen of 12,6% méér as in 2020. Dit is egter veel laer as die N$703 miljoen van 2018 en N$798 miljoen van 2019.

Ondanks die trae ekonomie was die banksektor in 2021 likied, winsgewend en genoegsaam gekapitaliseer, sê die BoN.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer