Soektog na litium kry spoed

Augetto Graig
Die stormloop om litium in Namibië te ontgin en voordeel uit dié gesogte battery-mineraal te trek, neem toe met een voorloper, Xingeng Investments, wat kennis gegee het dat hy aansoek om ’n omgewingsklaringsertifikaat gaan doen vir ’n aanleg om litium plaaslik te verwerk.

Belangstellendes het net tot 9 Mei om by die konsultante Minera-Xplore te registreer en om kommentaar, kommernisse en vrae in te dien. Geregistreerde belanghebbers sal glo na ’n openbare vergadering genooi word waar die beplande aanleg saam met kommer oor mynboubedrywighede naby Uis bespreek sal word.

Dié Chinese mynbouer is reeds besig om litiumerts op mynbou-lisensiegebied 243 sowat 45 km buite Omaruru te ontgin, terwyl die maatskappy ook kleiner bedrywighede op afgepende myngrond (kleims) naby Uis bedryf.

Volgens die ministerie van myne en energie word bedrywighede sowat 55 km buite Uis saam met Long Fire Investments as 5%- aandeelhouer van die projek voortgesit.

Long Fire Investments verteenwoordig die Daure Daman Tradisionele Owerheid wat die Okambahe-reservaat – waar kleinskaalse kleims geleë is – bestuur.

Die voorgestelde aanleg word vir kleim 73418 beplan, sowat 50 km suidoos van Uis, met toegang langs die C35- of langs die D2342-pad.

Kleim 73409 tot 73418, asook nabygeleë kleims 70515, 70516, 73409, 74090, 74098, 74110, 74121, 74164, 74168, 74155 en 74163 sal erts aan die aanleg voorsien.

Die gemeenskap het verlede maand protes teen die mynbedrywighede op dié kleims aangeteken, met verskeie klagtes van korrupsie en onreëlmatighede wat geopper is.

Xinfeng is sedert verlede jaar onder die vergrootglas toe uitvoere van onverwerkte litiumerts deur Walvisbaai reaksie vanaf die minister van myne en energie, Tom Alweendo, uitgelok het.

Alweendo het die uitvoere opgeskort voor sy ministeriële beamptes uitvoerpermitte en goedkeuring vir die uitvoer van duisende ton litiumerts na vore gebring het.

Ondersoek sou by Xinfeng se Omaruru-myn ingestel word, monsters is vir laboratoriumtoetse gestuur en die maatskappy het glo uitvoere gestaak, alhoewel erts steeds na die hawe op vragmotors vervoer, en daar geberg word.

Die ministerie se woordvoerder, Andreas Simon, het dié week bevestig daar is in Desember 2022 ook uitvoer- en ontginningspermitte aan Long Fire Investments uitgereik.

“Al is daar ’n uitvoerpermit is die ministerie ingelig dat geen besendings al uitgevoer is nie,” voeg hy by.

In terme van die hoeveelheid erts wat landswyd geberg is, sê Simon dit is moeilik om vas te stel. Mynboulisensies vir litium is reeds aan Andrada se Uis-tinmyn toegeken, aan Xinfeng en aan Lepidico naby Karibib, sê Simon.

Hy sê die ministerie wag nog op die uitslae van die laboratoriumtoetse terwyl verdere toetse ook gedoen word. Die toetse moet bepaal of daar wel minder as 2% litium in die uitgevoerde erts is, soos Xinfeng beweer.

Die erts mag ook tin, tantaal of halfedelgesteentes bevat, waarvoor Xinfeng geen tantième of belasting betaal het nie.

Intussen kondig Karas Lithium Resources ook dié week aan dat hy aansoek doen vir omgewingsklaring om vir litium suid van Karasburg te verken. Hierdie projek sal naby die Oranje Rivier geleë wees, en registrasie om insette hieroor te lewer, kan tot 5 Mei by Environmental Compliance Consultancy gedoen word.

Gemco Investments doen ook aansoek om sy eksklusiewe eksplorasielisensie 6990 wes van Uis te hernu en om daar in die Tsiseb-bewaringsgebied en binne die Dorob Nasionale Park vir litium te verken. Belanghebbers kan tot 8 Mei by Serja Hydrogeo Environmental Consultants registreer om insette te lewer en op hoogte gehou te word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 26° Rundu: 19° | 34° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 21° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 20° | 34° Windhoek: 22° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 17° | 21° Rehoboth: 22° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 34° Aranos: 22° | 34° Lüderitz: 16° | 29° Ariamsvlei: 19° | 35° Oranjemund: 16° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 22° Mbabane: 18° | 28° Maseru: 18° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 22° | 32° Cape Town: 19° | 23° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 17° | 24° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 25° Harare: 17° | 21° #REF! #REF!