Die uitvoerende hoof van die Namibiese Kamer van Mynwese mnr. Veston Malango sien uit na die jaar se mynbou ekspo op 31 Augustus.
Foto Augetto Graig
Die uitvoerende hoof van die Namibiese Kamer van Mynwese mnr. Veston Malango sien uit na die jaar se mynbou ekspo op 31 Augustus. Foto Augetto Graig

Supersiklus wag op mynbou

Uraanmyne wil ontsoutingsaanleg bou
Die Kamer van Mynwese maak gereed om vanjaar behoorlik by die mynbou-ekspo te spog.
Augetto Graig
“Die nywerheid groei. Ons gaan net een rigting, en dit is die regte rigting. Met uitbreiding kom meer inkomste, meer werksgeleenthede en meer wat beter vir almal is.

Só het die uitvoerende hoof van die Namibiese Kamer van Mynwese, mnr. Veston Malango, gister gesê.

Hy het besonderhede bekend gemaak oor die eerste mynbou-ekspo ná die ontwrigting van Covid-19 en wat verlede jaar tot ’n virtuele konferensie gelei het. Die ekspo vind op 31 Augustus plaas.

Hy is tevrede aangesien sy ontledings daarop dui dat mynbou in Namibië die golf van die begin van die volgende supersiklus in wêreldkommoditeitspryse ry.

Voorsiening word vir 150 stalletjies by die Windhoek Skougronde vir die ekspo gemaak, waarvan 126 reeds bespreek is en die oorblywende 24 sal na sy verwagting vinnig bespreek word.

Mynbou-uitstallers het 88 van die stalletjies bespreek omdat “ons eie nywerheid besluit het om daar te wees, saam met uitstallers vanaf die streek en internasionaal. Die geleentheid is opgeteken en is reeds ’n reusegeleentheid op die Windhoek Skougronde se kalender. Ons het die handelsmerk laat registreer as eiendom van die Kamer van Mynwese om nabootsing hok te slaan,” sê hy.

Danksy groter eksplorasiebeleggings is Namibië voorberei om die neigings van kommoditeitspryse te benut, met ’n toename van 47% in eksplorasie-uitgawes vanaf N$548 miljoen in 2020, na N$804,6 miljoen in 2021.

Malango sê eksplorasie maak voorsiening om ’n myn se lewensduur te verleng, en ’n waglys van myne wat in die toekoms gevestig mag word.

Namibië staan reg om dié oes te pluk met die herlewing van die Langer Heinrich-myn wat reeds aangekondig is en nog twee Australiese uraanmyne, Bannerman se Etango en Deep Yellow se Tumas, wat toustaan en wag vir die internasionale prys om nog te styg.

Die enigste kwessie wat kommer wek, sê hy is die tekort aan water vir die groeiende uraanmynsektor.

Tans gebruik die Husab- en Rössing-uraanmyn gesamentlik 10 miljoen kubieke meter water per jaar. Die nuwe uraanmyne sal na verwagting dié vraag na 21 miljoen kubieke meter opstoot.

Die Kamer van Mynwese wil seker maak daar is genoeg water beskikbaar wanneer dit nodig is.

“Die enigste ontsoutingsaanleg is nie voldoende nie. Ons benodig meer water wat te alle tye beskikbaar is. Die uraanprys kan vinnig styg. Die regering moet optree en ons voorstel oorweeg,” sê hy.

Uraanmyne het deur die kamer saamgespan en aangebied om ’n tweede ontsoutingsaanleg te bou, in vennootskap met NamWater, ’n regeringsinstelling.

Die partye het navorsing oor die koste van voortdurende watertekorte reeds by die regering ingedien.

“Die regering mag nie in staat wees om so vinnig die aanleg te bou nie, so hoekom doen ons dit nie om te verseker die land mis nie uit op die geleentheid nie?” vra hy.

Volgens Malango wag die kamer op die groenlig om lewensvatbaarheidstudies en beplanning vir koste en die grootte van die aanleg te doen.

GROEIPUNTE

Nog ’n hoogtepunt is die implementering van die MV Benguela Gem wat 500 000 karaat diamante jaarliks vir 30 jaar kan byvoeg, en reeds na verwagting 67% tot diamantproduksie kan bydra.

“Die toekoms van diamante lê in die see,” sê Malango.

Verder brei die Kanadese B2Gold se Otjikoto- en Poolse QKR se Navachab-goudmyn albei ondergronds uit terwyl die Kanadese Osino ook na sy Twin Hills-goudmyn se eerste produksie mik.

AfriTin se Uis-tinmyn staan ook uit weens die stygende prys en vraag na tin, maar ook omdat hulle binnekort litium op grootmaat sal vervaardig. Paladin Energy beoog om vanadium by Langer Heinrich te ontgin.

“Kommoditeite lyk goed en toon ’n oplewing, wat goeie nuus vir die land is. Die nywerheid is verseker op ’n gunstige paadjie, met voordele, werksgeleenthede en inkomste wat groei.

Namibia Lead and Zinc kry weer lewe en Okanjande (Imerys Gecko) kom terug in produksie.

Talle beleggers het gekom en Namibië kan ’n groot rolspeler in die voorsiening van minerale vir die wêreld se oorskakeling na hernubare energiebronne wees. Groot geleentheid vir waardevoeging bestaan,” sê hy.

Die Kamer van Mynwese is ook betrokke by die regering se planne om die vervaardiging van groenwaterstof in Namibië te vestig, en is deel van ’n taakspan wat vir waardeketting-ontwikkeling verantwoordelik is, sê Malango.

Hy het gesê die gebruik van waterstof om vragmotors aan te dryf, is net een nut, terwyl die vervaardiging van ammoniak-nitraat deur die verdeling van watermolekules en vir die gebruik in plofstof nog groter voordele vir mynbou kan inhou.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 19° | 33° Oshakati: 23° | 32° Ruacana: 20° | 35° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 24° | 33° Windhoek: 23° | 31° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 18° | 23° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 24° | 35° Mariental: 26° | 39° Keetmanshoop: 25° | 40° Aranos: 26° | 39° Lüderitz: 19° | 31° Ariamsvlei: 25° | 40° Oranjemund: 17° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 24° | 37° Lubumbashi: 15° | 21° Mbabane: 16° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 18° | 23° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 23° | 31° Cape Town: 20° | 28° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 32° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 16° | 28° #REF! #REF!