Namibië se neiging van stagnante groei en inkomstevlakke dui op hardnekkige maatskaplike bestedingsdruk, sê Moody's. Foto Tanja Bause
Namibië se neiging van stagnante groei en inkomstevlakke dui op hardnekkige maatskaplike bestedingsdruk, sê Moody's. Foto Tanja Bause

Verswelg deur rommel

Nóg ‘n kredietafgradering
Die regering se kredietwaardigheid lê opnuut aan flarde ná Moody's dit verder in die rommel gedompel het.
Jo-Maré Duddy
Jo-Maré Duddy – Met die regering se kredietwaardigheid wat nou as hoogs riskant beskou word, gaan enige skuld wat dit in buitelandse geldeenhede aangaan, teen ‘n hoë prys kom.

Trae ekonomiese groei en ‘n hoë skuldlas is laat Dinsdag deur Moody’s uitgelig toe dié internasionale kredietgradeer Namibië se langtermyn skuld in buitelandse geldeenhede opnuut afgradeer het – dié keer van Ba3 na B1.

Dit is die land se vierde afgradering van sy sub-beleggingstatus by Moody’s sedert 2017. Die regering se langtermyn skuld in buitelandse geldeenhede word ook deur Fitch Ratings as rommel beskou.

Die jongste afgradering beteken die regering se vermoë om sy buitelandse skuld af te los, word as “hoogs spekulatief met ‘n hoë kredietrisiko” beskou.

“Dit beteken dit gaan moeiliker vir Namibië wees om kapitaal van buitelandse beleggers te bekom of te lok. Moody’s se opvatting dat daar groter risiko hieraan gekoppel is, impliseer leningskoste gaan waarskynlik verhoog,” het mnr. Theo Klein, ekonoom by Simonis Storm, gister gesê.

“Dié hoër koste kan potensieel verdere druk op die regering se finansies vorentoe plaas,” het hy bygevoeg.

Volgens finansminister Iipumbu Shiimi se begrotingsdokumente wat Februarie in die parlement ter tafel gelê is, gaan rente op staatskuld tussen 15% en 16% van inkomste in die drie fiskale jare tot 2024-’25 opslurp.

EUROBOND, GIPF

Die regering moet in Oktober 2025 sy tweede Eurobond van US$750 miljoen aflos. Volgens Moody’s se projeksies gaan die regering se kwartaallikse opvul van sy delgingsfonds in Amerikaanse dollar onvoldoende wees om die Eurobond af te los.

Die regering het verlede November sy eerste Eurobond van US$500 miljoen herfinansier deur dit in ‘n eenmalige transaksie as langtermyn skuld aan die regering se pensioenfonds (GIPF) te verkoop.

Tensy die GIPF weer tot sy redding kom, gaan die regering die tweede Eurobond teen 2025 gedeeltelik moet herfinansier. Moody’s se jongste afgradering kan ‘n invloed op die koste hiervan hê, aldus mnr. Robert McGregor, ekonoom by Cirrus Capital.

Moody’s het gesê aanduidings dat Namibië se likiditeitsrisiko’s toeneem soos wat sy kapasiteit verklein om lenings vir sy aansienlike befondsingsbehoeftes teen redelike koste te bekom, sal waarskynlik tot ‘n verdure afgradeing lei.

VOORUITSIG

“Die B1-gradering vang die ekonomie se verkleinde vermoë vas om skok te absorbeer, asook die voortgesette styging in die skuldkoers wat oor die volgende drie jaar geprojekteer word – tot 75% van die bruto binnelandse produk (BBP) in die 2024-begrotingsjaar,” het Moody’s sy afgraderingsbesluit gemotiveer.

Die kredietgradeerder sê Namibië se neiging van stagnante groei en inkomstevlakke dui op hardnekkige maatskaplike bestedingsdruk, insluitende druk om die impak van hoër voedsel- en brandstofpryse te versag wat deur die oorlog in Oekraïne veroorsaak word. Dít verhoog die kans dat Namibië nie by sy begrotingsplanne sal kan hou nie.

Moody’s het sy vooruitsig vir Namibië van negatief na stabiel verander.

“Ondanks die rigiede bestedingstruktuur, verwag Moody’s dat die regering se pogings vir begrotingskonsolidering uiteindelik doeltreffend sal wees,” het die kredietgradeerder gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!