Namibië se reële bruto binnelandse produk (BBP) die afgelope twee jaar was die kleinste sedert 2013. Foto Tanja Bause
Namibië se reële bruto binnelandse produk (BBP) die afgelope twee jaar was die kleinste sedert 2013. Foto Tanja Bause

Werkers amper ‘n miljard armer

Resessie tegnies verby
Op papier is die ekonomie terug in die groen, maar die groeisyfers is steeds veel laer as dié van 'n paar jaar gelede.
Jo-Maré Duddy
Die totale vergoeding van Namibiese werkers het in beide 2020 én 2021 met bykans N$1 miljard gekrimp.

Data wat gister deur die Namibië Statistiekagentskap (NSA) vrygestel is, toon werknemers is in 2020 en 2021 sowat N$80,37 miljard en N$80,29 miljard onderskeidelik in totaal betaal. In 2019 het totale vergoeding bykans N$81,25 miljard beloop.

Die syfers toon Namibië se reële bruto nasionale inkomste (BNI) per capita in 2021 was N$54 841, sowat twee present minder as die vorige jaar en die laagste in minstens nege jaar. In 2015 – vóór Namibië se resessie van vyf jaar – was die reële BNI per capita N$63 921, of sowat 14% méér.

Dié statistiek is vervat in die NSA se voorlopige nasionale rekeninge, wat toon Namibië se ekonomie het verlede jaar met 2,4% gegroei ná die rekord inkrimping van 7,9% in 2020.

Namibië se reële bruto binnelandse produk (BBP) verlede jaar was ongeveer N$136,6 miljard, sowat N$3,2 miljard meer as in 2020. Die BBP is egter steeds ver onder die N$146,1 miljard van 2018. Namibië se reële BBP die afgelope twee jaar was die kleinste sedert 2013.

PRIMêRE SEKTOR

Die primêre sektor het die ekonomie se bas verlede jaar gered deur met 8% te groei – ‘n verbetering op die -6,9% en 5,9% van 2019 en 2020 onderskeidelik.

Mynbou het groei van 13,6% aangeteken, op van -15% in 2020. Uraan se groei het met 25,8% geblom ná inkrimpings die vorige twee jaar. Groei in die myn van diamante het na 2,5% herstel ná dit in 2020 met 14,9% ingekrimp het.

Mynbou het verlede jaar sowat N$13,4 miljard in reële terme in die ekonomie ingepomp.

Landbou het ook positief gegroei, maar teen ‘n koers van 2% was dit ‘n droëer vertoning as die 6,5% van 2020. Dié sektor het bykans N$11,2 miljard tot die BBP bygedra.

SEKONDêRE SEKTOR

Namibië se sekondêre sektor het sy tweede opeenvolgende jaar in die rooi deurgebring en met -6,6% gegroei. Dié sektor het in 2020 met 12,1% ingekrimp. Dit kon sedert 2016 nog net een jaar positief groei.

Vervaardiging het met -6,2% gegroei, ‘n beter vertoning as die -17,1% van 2020.

Konstruksie se inkrimping van 10,2% beteken dié sektor is nou reeds ses opeenvolgende jare in resessie.

Sekondêre bedrywe het verlede jaar in reële terme sowat N$20,2 miljard in totaal tot die BBP bygedra, sy swakste vertoning sedert minstens 2014. Reëel gesproke het die sektor se BBP-bedrae in 2015 teen N$27,3 miljard gepiek.

TERSIêRE SEKTOR

Die tersiêre sektor het uit die resessie ontsnap deur verlede jaar met 1,9% te groei.

Groot- en kleinhandel het sy beste jaar sedert 2016 agter die rug. Met groei van 6,1% is dié sektor ná ‘n resessie van vier jaar nou weer in die groen.

Groot- en kleinhandel het in reële terme bykans N$12,5 miljard tot die BBP bygedra. Hoewel dit sowat N$700 miljoen méér as 2020 is, bly die sektor ver onder sy piek van amper N$16,9 miljard in 2016.

Hotelle en restaurante, ‘n maatstaaf vir die stand van toerisme, het met 10,4% gegroei vergeleke -30,4% in 2020.

In reële terme was dié sektor se BBP-bydrae sowat N$2,3 miljard, ongeveer N$219 miljoen meer as in 2020, maar steeds aansienlik minder as die nagenoeg N$3 miljard in 2019.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!