Vroue en jongmense kry skaars werk in Namibië, volgens die jongste werkloosheidsyfer. Foto argief
Vroue en jongmense kry skaars werk in Namibië, volgens die jongste werkloosheidsyfer. Foto argief

Werkloosheid vererger ongelykheid

Augetto Graig
Statistiek oor inkomsteverspreiding in Namibië beklemtoon ongelykheid in die land met ongeveer 55,4% van werkende individue wat ’n bruto maandelikse inkomste van minder as N$5 000 verdien.

’n Toename in die aantal gegradueerdes in die land dra ook nie by tot hoër inkomstegroei nie en slegs 2,6% van die arbeidsmag verdien glo meer as N$40 000 per maand.

“Hierdie syfers dui daarop dat ’n groot deel van die arbeidsmag in poste werksaam is met lae vergoeding,” sê die navorsers Helena Mboti en Cheryl Emvula van FNB Namibia.

Nadat die Namibië Statistiekagentskap (NSA) verlede week die langverwagte werkloosheidstatistiek bekend gemaak het, het dié bank se ekonome dieper in Namibië se arbeidslandskap gedelf en hul gevolgtrekking skets ’n verdere kommerwekkende werklikheid.

Terwyl tot 36,6% van die bevolking in 2023 sekondêre skoolvlak kon behaal – ’n verbetering vanaf 26,3% in 2011 – toon die arbeidsmark ’n beduidende gaping tussen onderrigvlakke en beskikbare werksgeleenthede, aldus FNB se navorsing.

Ten spyte van 76,7% van werkende individue wat ten minste ’n hoërskoolkwalifikasie het, is ’n groot deel van die arbeidsmag in beroepe werksaam wat laer vaardighede vereis, sê die bank se ekonome.

Mboti en Emvula het bevind 40,2% van werkers wat sekondêre skoolvlak of laer behaal het in diens geneem is, waarvan 13,4% in diensberoepe werksaam is, en 46,9% in basiese beroepe, kunsvlyt en ambagswerk, of diens- en verkoopsposisies beklee.

“Hierdie tipe rolle bied tipies laer salarisse en vaardigheidsvereistes. Daarteenoor is slegs 30,3% van werkers in hoër geskoolde posisies, soos professionele persone, bestuurders, tegnici of verwante professionele persone, aangestel.

“Hierdie ongelykheid tussen opvoedkundige prestasie en werksgeleenthede wat met daardie kwalifikasies ooreenstem, beklemtoon ’n wanbalans in die arbeidsmark, wat kan lei dat werkers mismoedig raak en die algehele ekonomiese produktiwiteit belemmer,” lig die ekonome uit.

Volgens FNB se ontleding dui Namibië se arbeidsmark dat werknemers hoogs afhanklik is van ’n werk waar hulle ’n salaris verdien, met net 9,2% van alle werkers wat vir hulself werk en slegs 2,8% van hierdie entrepreneurs wat weer werkers in diens kan neem.

Die navorsers se gevolgtrekking is dat daar min geleentheid vir entrepreneurskap en self-indiensneming is.



JEUG

Werkloosheid onder die jeug is ’n selfs groter bekommernis vir die ekonome, aangesien die NSA-statistieke daarop dui dat slegs 24,8% van Namibië se jongmense in diens geneem is.

Verder is 41,9% van individue tussen die ouderdomme van 15 en 24 nie in diens geneem of op skool nie.

“Gekombineer met die hoë persentasie mense in die potensiële arbeidsmag (53,6%), dui dit op 'n kommerwekkende neiging, veral as in ag geneem word dat die jeug 71,1% van die algehele bevolking uitmaak,” lui FNB se verslag.

Informele indiensneming bied moontlik ’n meer lewensvatbare opsie, maar saam met werksomstandighede, werksure en die soort werk, is dit nie by die nasionale sensus ingesluit nie.

Die navorsers kon wel ’n noemenswaardige geslagsverskil bevestig, met 51,1% van mans teenoor 41,9% van vroue wat Namibië se arbeidsmag uitmaak.



WERKLOOSHEIDSYFER

FNB se verslag verduidelik verder die verskil tussen die definisie van werkloosheid, soos in die 2023-ontleding toegepas is, en die breër definisie wat in 2018 gebruik is.

“Die verskil tussen die definisies beklemtoon die omvang van ‘onderindiensneming’, aangesien moedelose werkers van die amptelike (2023) syfers uitgesluit word.

“Amptelik staan werkloosheid tans op 36,9%, maar as die breër betekenis toegepas word, styg dié persentasie tot 54,8% – “een van die hoogste ter wêreld,” aldus FNB se verslag.

“Ongeag die maatstaf, is die styging in werkloosheid kommerwekkend,” voer Mboti en Emvula aan.



NSA

Die NSA het die geloofwaardigheid van sy 2023-arbeidsmagverslag sterk verdedig en bewerings van datamanipulasie verwerp en herbevestig dat die amptelike werkloosheidsyfer van 36,9% aan internasionale standaarde voldoen.

Die statistikus-generaal en uitvoerende hoof van die NSA, Alex Shimuafeni, het die publiek verseker dat die verslag voldoen aan die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) se standaarde en die vereistes van die wet op statistiek, wat dit glo ’n betroubare bron vir nasionale beplanning maak.

“Die werkloosheidsyfer van 36,9% wat op 29 Januarie deur die NSA vrygestel is, is die amptelike syfer volgens ILO-standaarde, gebaseer op die 19de internasionale konferensie van arbeidstatistikusse (ICLS).

“Wanneer internasionale organisasies Namibië se amptelike werkloosheidsyfer versoek, is dit die syfer wat verskaf sal word,” het Shimuafeni gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer