Volgens Xinfeng Investment moet die uitvoer van litiumerts vir nog drie jaar aanhou. Foto argief
Volgens Xinfeng Investment moet die uitvoer van litiumerts vir nog drie jaar aanhou. Foto argief

Xinfeng wil vir nog drie jaar uitvoer

Chinese mynbouer ontken klagte van omkopery
Die Chinese litiummynbouer sê hy sal ook 'n ontsoutingsaanleg vir sy beplande litium-verwerkingsaanleg bou.
Augetto Graig
Die Chinese mynbouer Xinfeng Investment sê die maatskappy sal vir nog drie jaar elke maand litiumerts moet uitvoer om die koste van mynboubedrywighede te dek, kontantvloei te genereer en om uiteindelik die boukoste van ’n beplande litium-verwerkingsaanleg wat na raming N$500 miljoen sal beloop, te kan betaal. Dié koste sluit in die aanbou van ’n ontsoutingsaanleg om die nodige water vir mynbedrywighede te voorsien.

Xinfeng myn tans buite Omaruru en het Vrydag by monde van ’n mediaverklaring wat deur die prokureursfirma Nambili Mhata Legal Practitioners uitgereik is, die maatskappy se kant in die onlangse omstredenheid rondom die litium-uitvoere gestel.

Volgens die maatskappy is dié omstredenheid die gevolg van “bewerings wat wyd in die plaaslike media gepubliseer is en die wanopvattings wat daarop gevolg het”.

VRAG VERDWYN

Intussen het die Namibiese polisie se hoof in die Erongostreek, komm. Nikolaus Kupembona, bevestig ’n bestuurder van een van Xinfeng se vragmotors is die afgelope naweek in hegtenis geneem.

Dit nadat sy vrag na bewering iewers in Karibib afgelaai is, in plaas van om die vrag na die stoorplek op Walvisbaai te vervoer.

Kupembona het bevestig dat die vrag van 25 ton litiumerts steeds gesoek word. Die litiumerts is glo tussen Dinsdag en Donderdag verlede week vanaf Xinfeng se myn op die plaas Kohero buite Omaruru verwyder.

Zuxiao Li, ’n werknemer by Xinfeng, het glo die diefstal by die polisie op Omaruru aangemeld. Die vragmotor is in Walvisbaai opgespoor terwyl die verdagte op Omaruru vasgetrek is. Volgens die klag wat aanhangig gemaak is, is die vrag ongeveer N$300 000 werd.

UITVOERE

Volgens Xinfeng het hulle reeds 75 216,36 ton onverwerkte litiumerts na China uitgevoer.

Die erts word glo in China gebruik vir toetse om uiteindelik ’n moderne en doeltreffende verwerkingsaanleg te ontwerp wat in Namibië gebou moet word. Die maatskappy het beklemtoom dat die erts slegs 1% litium bevat.

Die minister van myne en energie, mnr. Tom Alweendo, het verlede maand op ’n nuuskonferensie gesê hy het die uitvoer van litiumerts gestaak.

Hy het egter verlede week in die parlement erken die uitvoer van litiumerts sal tot einde November voortgaan. Dit om die maatskappy tyd te gun om die 135 000 ton vergruiste erts wat hy altesaam mag uitvoer, uit die land te vervoer.

Xinfeng Investment is ’n Namibies-geregistreerde maatskappy en behoort aan Tangshan Xinfeng Lithium Industry in China, wat op 20 Oktober 2021 die eksklusiewe prospekteerlisensie (EPL) 7228 bekom het. ’n Omgewingsklaringsertifikaat is op 6 April vanjaar aan die maatskappy uitgereik. Mynboulisensie 243 is op 23 Augustus aan Xinfeng uitgereik en teen einde Augustus was mynbedrywighede aan die gang, luidens die verklaring.

“Vir die huidige mynbouprogram het die maatskappy 285 Namibiese werknemers aangestel. Hierdie arbeidsmag behels die bestuur, werktuigkundiges, operateurs, vragmotorbestuurders, aanlegwerkers en algemene werknemers,” sê die maatskappy.

PROSPEKTEERLISENSIE

Die maatskappy het bygevoeg hy distansieer homself van bewerings van omkopery van regeringsamptenare in die verkryging van EPL8397.

“Xinfeng het Orange River Mining CC [die eienaar van EPL8397] op 23 Junie 2022 vir N$50 miljoen gekoop. Voor Xinfeng dié lisensie bekom het, wou die vorige eienaar van Orange River Mining dit aan ’n ander instansie verkoop.

“Xinfeng het toe verneem dat die ander aanvanklike koper nie aan die vorige eienaar van Orange River Mining se verkoopsvereistes voldoen nie. Gevolglik was dié ooreenkoms nietig en die EPL beskikbaar. Die verkoop van die EPL aan Xinfeng was ’n direkte privaat transaksie tussen twee instansies,” voer die maatskappy aan.

“Dit is dus duidelik dat Xinfeng geen rol gespeel het in die verkryging van die EPL van die ministerie nie. Die bewerings van omkopery teen Xinfeng is heeltemal ongegrond en rig reuseskade aan Xinfeng se reputasie en goeie naam aan,” sê die maatskappy.

Verder voldoen die maatskappy aan belastingvereistes en is in goeie stand met die Maatskaplike Voorsorgkommissie (SCC), sê hulle. Xinfeng het skenkings van N$200 000 aan onderwys, omgewings- en gemeenskapsprojekte gemaak, en N$300 000 aan die regering se aanlyn mynbou-diensplatform. Xinfeng is op die oomblik die enigste aktiewe litiummyner in die land.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!