Foto hyiron.com
Foto hyiron.com

Belofte van ‘skoon’ yster wink

Augetto Graig
Die sooispitseremonie van die HyIron Oshivela-projek op deel vier van die plaas Bloemenhof 109 naby Arandis skop vanoggend af. HyIron Green Technologies beplan om “groen” yster te vervaardig – deur gebruik te maak van sonkrag en waterstof – om die verwerking van die ystererts aan te dryf en om waterstof uit water te onttrek.

Volgens HyIron se direkteur en medestigter, Johannnes Michels, merk vandag se geleentheid Namibië se toetrede tot ’n nuwe industriële rewolusie wat die wêreld sal oortuig dat dit wel moontlik is om die klimaat te beskerm en terselfdertyd lewenstandaarde te verbeter.

“HyIron is ’n gesamentlike onderneming tussen Namibiese en Duitse organisasies. Die maatskappy is sowat vier jaar gelede gestig met die doel om industriële prosesse te heroorweeg – in die lig van die oorgang na groen energie en die behoefte om klimaatsverandering hok te slaan,” brei hy uit.

“Ons in Namibië het reeds die uiterste effek van klimaatsverandering gevoel, met meer gereelde en erger uiterste weerstoestande soos die afgelope droogtejare. Dit het bewys hoe ernstig klimaatsverandering mense se lewenstandaarde bedreig en hoe noodsaaklik is dit om aksie te neem,” voer Michels aan.

Hy sê twee persele in die nabye omgewing van Walvisbaai of Arandis word oorweeg vir die bou van die aanleg. “Die finale besluit oor watter deel van die fabriek waar gebou gaan word, sal vroeg in 2024 geneem word, en konstruksie sal kort daarna begin – met die doelwit om die wêreld se eerste industriële ysterprodusent met nul-vrystelling te word,” sê hy.

Gedurende die boufase sal sowat 80 werksgeleenthede geskep word, en nagenoeg 60 poste sal gedurende die operasionale toetsfase gevul moet word, sê Michels. Die bouwerk sal na verwagting sewe tot agt maande te neem, sê hy.

“Omdat die toetsprojek waarskynlik die eerste industriële produksie van yster teen nul-vrystelling in die wêreld sal lewer, verwag ons om proeflopies met ystererts van regoor die wêreld te doen. Ons ontvang baie belangstelling van verskillende ystererts- en staalprodusente en kliënte van regoor die wêreld om hul produkte met die HyIron-tegnologie te toets,” voeg hy by.

HyIron wil self die waterstof produseer waardeur die yster uiteindelik vervaardig moet word. “Met behulp van sonkrag verdeel ons water in sy molekules – waterstof en suurstof – en hou die waterstof vir verdere gebruik. Omdat ons by die Oshivela-projek met ’n sonkragaanleg van 25 megawatt (MW) die waterstof met energie uit hernubare hulpbronne produseer, word dit ‘groen waterstof’ genoem. Die waterstof is baie reaktief en ‘soek’ vir ’n suurstofmolekule om weer water (H2O) te word. In ons oond is die enigste suurstof waarmee die waterstof kan bind in die ystererts (of ysteroksied) – wat ’n verbinding van yster en suurstof is. Wanneer die waterstof met die suurstof in die ystererts reageer, kry ons suiwer yster en as die enigste afvalmateriaal kry ons die water terug, wat ons kan hergebruik,” brei hy uit.

Vir die res van die jaar beplan hulle om die HyIron span uit te brei “met passievolle mense wat ons idees en in ons visie deel”.

“Benewens die positiewe ekonomiese uitwerking hoop ons om ’n positiewe maatskaplike impak te hê, veral in die onderwysbedryf. Ons is oortuig daarvan dat die industriële oorgang nie meer gestop kan word nie en die wêreld het baie yster nodig vir sy ontwikkeling – twee miljard ton elke jaar. Ons hoop om Namibië as ’n belangrike rolspeler in hierdie mark te vestig. Hiervoor sal daar ’n behoefte wees aan mense met baie passie en vaardigheid wat aan die wêreld wil demonstreer dat dit moontlik is om die klimaat te beskerm en terselfdertyd voort te gaan om lewenstandaarde te verhoog,” sê Michels.

Vir dié jaar hoop Michels ook om die voorbereidingswerk vir die begin van die konstruksieproses in 2024 af te handel. Die bestekopname vir die eerste uitbreidingsfases van die Oshivela-projek wil hy ook voor jaareinde afhandel. Sover is HyIron op koers om sy eerste yster in 2024 te vervaardig, sê hy.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!