Biomassa-krag ’n realiteit in 2,5 jaar

Konstruksie skop by Otjikoto-aanleg af
Miljarde belê in die omskakeling van indringerbos in elektrisiteit.
Augetto Graig
Dertig maande se harde werk lê nou voor om die aanleg te bou ná tien jaar se voorbereiding.

Só het die minister van myne en energie, Tom Alweendo, Vrydag by die sooispitseremonie van die 40MW Otjikoto-biomassakragaanleg van N$2,64 miljard, wat 12 km buite Tsumeb geleë is, gesê.

Die ingenieurs-, verkrygings- en konstruksiekontrak van N$2,3 miljard is reeds in Mei aan die Chinese kontrakteur Dongfang Electric International Corporation toegeken, terwyl NamPower die 44 hektaar grond langs sy Otjikoto-substasie gekoop het, en van Frankryk se ontwikkelingsagentskap (AFD) ’n lening van 100 miljoen euro ontvang het.



NAMPOWER

NamPower se besturende direkteur, Kahenge Haulofu, het ook die klimaattoelaag van die Mitigation Action Facility ter waarde van 25 miljoen euro uitgesonder, saam met die French Facility for Global Environment se skenking van 3 miljoen euro vir omgewingsnavorsing en kapasiteitsbou.

Die Namibiese regering, deur die ministeries van finansies en staatsondernemings, myne en energie, en die omgewing, bosbou en toerisme, bewillig ook N$400 miljoen vir die projek, saam met regulatoriese ondersteuning, brei hy uit.

“Die Otjikoto-biomassakragaanleg sal 40 MW se basislading-elektrisiteit opwek, wat ’n groot prestasie vir NamPower is aangesien dit ons toewyding en vasberadenheid demonstreer om voorsieningsekerheid te verseker,” het Haulofu gesê.

Die Franse ambassadeur in Namibië, Cécile Vigneau, het by die geleentheid gesê die projek is uitstaande omdat dit help om Namibië se vraag na elektrisiteit te takel. Sy sê dit is die derde keer dat AFD en NamPower saamwerk.



KONTRAKTEUR

Xiong Chao het namens die kontrakteur Dongfang Electric International Corporation sy dank uitgespreek vir die vertroue en die geleentheid om die ontwikkeling van Namibië deur die projek te ondersteun.

“Ek glo hierdie projek sal tot groot voordeel vir die ekonomie en die mense van Namibië strek. Die indringerbos het ernstige gevolge vir die produksie en lewens van plaaslike boere.

“Die 40 MW Otjikoto-biomassaprojek sal die bos gebruik, wat in ’n radius van 100 km van die aanleg verkry sal word, en sal dit as brandstof gebruik.

“Dit sal weiding geleidelik herstel en die ontwikkeling van plaaslike boere bevorder, terwyl dit ’n beduidende bydrae tot plaaslike biodiversiteit en sosioëkonomiese voordele sal lewer,” sê hy.

Alweendo verwag ook dat die projek nie net krag sal opwek nie, maar om ook ’n mark vir indringerbos aan boere te bied en die hele gebied ’n ekonomiese hupstoot te gee.

“Die aanvraag na krag neem toe, sodat dit die aanbod van krag oorskry. Dit kan net beteken dat ons meer moet doen.”

Hy sê die totale vraag na 500 MW tot 600 MW het die afgelope jare so gegroei “dat dit nou sekerlik op meer as 800 MW staan”.

Die minister verduidelik ook dat die krag wat plaaslik opgewek word, bekostigbaar moet wees. Hy vra dat almal wat by die projek betrokke is, bewus moet wees van koste, en doeltreffend moet werk wat koste betref, om bekostigbaarheid van die krag te verseker.

Nog ’n belangrike kwessie is die verspreiding van elektrisiteit oor lang afstande na afgeleë en klein gemeenskappe, het hy benadruk.

Volgens NamPower se syfers sal jaarliks ??tot 245 000 ton klein- tot mediumgrootte stukkies hout (wood chips) van sowat 16 200 hektaar indringerbos benodig word, met sewe jaar kontrakte vir die verskaffing van 180 000 ton van dié hout wat reeds met vier gesamentlike ondernemings onderteken is.

Die vier grootmaatverskaffers sluit in Sactos Investments, Forestry Plant and Equipment en Interactive IT Solutions se vennootskap, Nexus Civils en Africa Biomass Company se gesamentlike onderneming, die Utra Trading and Special Supermarket-span, en ook TransWorld Cargo saam met Omuriro.

Verder sal boere self ook jaarliks tussen 2 000 en 7 000 ton aan die aanleg voorsien.



NEWEPRODUKTE

Neweprodukte van die proses sluit as in, wat gebruik kan word om bakstene en laegraadse kunsmis te vervaardig.

Volgens Dongfang se kontrak moet die kontrakteur tot 21% van al sy uitgawes plaaslik bestee, wat teen N$450 miljoen deur die NamPower-ingenieur Michael Chivala as ’n groot bedrag beskryf word.

NamPower-amptenare voer ook aan dat verskaffers wat inheemse bos verskaf eerder as indringerbos gepenaliseer moet word en moontlik ook van toekomstige deelname aan die projek uitgesluit moet word. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!