Brandstof word duisende kilometer per pad reg oor Namibiê vervoer.
Foto namcor.com.na
Brandstof word duisende kilometer per pad reg oor Namibiê vervoer. Foto namcor.com.na

Brandstofvervoerders kry 15%-subsidieverhoging

Spoorvervoer daal, padvervoer neem toe
Subsidie nodig om brandstofprys landswyd vergelykbaar te hou.
Augetto Graig
Sedert 3 Julie ontvang brandstofvervoerders 15% meer om brandstof na die verste vulstasies oraloor Namibië te vervoer.

Die ministerie van myne en energie het onlangs bevestig dat die toelaag vir die vervoer van brandstof na afgeleë nedersettings in Namibië in Julie met 15% verhoog is.

Die uitvoerende direkteur van die ministerie, Penda Ithindi, het by navraag gesê dié verhoging sal so bly tot dit weer in ooreenstemming met inflasie hersien word, heel waarskynlik oor ’n jaar.

Die regering help brandstofvervoerders met ’n toelaag vir die aflewering van brandstof per pad, wat die vervoerkoste van brandstof vanaf prysdepots by verspreidingspunte waar die brandstoftrein stop, na afgeleë dorpe dek, sê hy.

Hy sê dit is die regering se rol om die voorsiening van brandstof te verseker, en om die koste van brandstof landswyd vergelykbaar te hou.

“Iemand wat in die landelike of afgeleë gebiede woon, behoort weens vervoerkoste na die eindbestemming nie ’n hoër prys te betaal nie,” sê hy.

Brandstof word per spoor vanaf die hawe op Walvisbaai na verskeie van dié punte geneem. Die verspreidingspunte wat tans in werking is, sluit in Ondangwa, Otjiwarongo, Tsumeb, Windhoek en Walvisbaai, terwyl Gobabis, Keetmanshoop, Karasburg, Mariental, Oranjemund, Lûderitz, Okahandja en Otavi s’n nie in werking is nie, brei hy uit.

Waar brandstof per spoor na die betrokke prysdepot vervoer word, word die koste daarvan ingesluit by die brandstofprys wat verbruikers by die pomp betaal.

“’n Brandstofverspreider vervoer brandstof van dié verspreidingspunt na verafgeleë bestemmings, soos byvoorbeeld vanaf Grootfontein na Rundu, op hul eie koste en oor ’n tydperk van 30 dae.

“Daarna vergoed die regering hulle teen ’n vaste koers uit die nasionale energiefonds (NEF),” sê hy.

Die NEF-heffing is van toepassing op brandstofpryse vir elke liter wat in die land verkoop word, en die toelaag vir padvervoer van brandstof is binne die heffing vervat, volgens Ithindi.

Sem Nyambali, die hoof- administratiewe beampte van NEF, sê dit sou ideaal wees as brandstof vanaf Walvisbaai na al dié verspreidingspunte per spoor vervoer word, maar noem verouderde infrastruktuur en ontsporings onder TransNamib se uitdagings.

Brandstofverspreiders ry lang afstande op eie koste, voor NEF hulle sal vergoed teen ’n koers bereken teen die afstand vanaf die prysdepot, soos vanaf Keetmanshoop na Aus, brei hy uit.

Op die oomblik word dorpe soos Uis, Omaruru en Karibib vanaf die Walvisbaai-prysdepot voorsien teen gesubsidieerde tariewe van onderskeidelik 37,8 sent per liter, 46,5 sent per liter en 34,9 sent per liter.

Hierdie koers word volgens afstand bereken, met Betta tussen Sossusvlei en Gibeon se toevoer vanaf Walvisbaai teen 72,6 sent per liter om tussen 461 km en 480 km af te lê.

Vanaf die prysdepot op Gobabis word koste na Otjiwarongo Pos 11 gesubsidieer teen 26,16 sent, terwyl Talimanis se koste, meer as 200 km weg en die verste aktiewe verspreidingspunt vanaf Gobabis, met 34,87 sent per liter ondersteun word.

Van Grootfontein af ry brandstofvragmotors byna 850 km na Bukalo, teen ’n subsidiekoers van 127,7 sent per liter.

Van Keetmanshoop tot Rosh Pinah word sowat 390 km se vervoerkoste ondersteun teen 61 sent per liter.

Nyambali gee toe dat brandstofreuse tans die vervoer van brandstof vanaf Walvisbaai na werkende prysdepots gedeeltelik subsidieer, maar sê verkrygingskontrakte tussen vulstasies en oliemaatskappye dwing dit af.

“Vulstasie-eienaars kan nie gebruik maak van ’n ander verskaffer nie,” sê hy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!