Chinese neem Rössing se mynbouwerk oor

Beifang koop kleiner trokke aan
Rössing Uranium sal vanaf 2027 tot 2036 nie meer sy oopgroefmyn self ontgin nie.
Augetto Graig
Namibië se oudste aaneenlopende uraanmyn, Rössing, het in Mei ’n ooreenkoms met die Chinese kontrakteur Beifang Mining Technology Services (Namibia) (Pty) Ltd onderteken om al dié Erongo-myn se mynboubedrywighede teen 2027 oor te neem.

Rössing se besturende direkteur, Johan Coetzee, het Vrydag uitgebrei oor hoe die verlengde lewensduur tot 2036 – wat in Februarie goedgekeur is – bereik sal word.

Coetzee sê die hoofrede vir Beifang om die mynbedrywighede oor te neem, is die behoefte aan ’n nuwe vloot van kleiner masjinerie wat benodig word om erts uit die nouer en dieper oopgroefmyn te verwyder.

Rössing se eie vloot bestaan uit 15 Komatsu 730E 180 ton-trokke, wat te groot is om doeltreffend op die 410 m-bodem te kan werk.

Beifang koop dus tans ’n vloot van 100 ton-trokke om te ontplooi, sê hy.

Die besparing op ’n nuwe vloot word vir die verwerkingsaanleg geoormerk, voeg hy by.

Rössing se SJ-oopgroefmyn is reeds 3,5 km lank en 1,5 km wyd en sal in die toekoms nog sowat 60 meter dieper gegrawe word.

Die plan is ook om die hoeveelheid rots wat gemyn word tot 30 miljoen ton per jaar te vermeerder.

Coetzee brei uit dat fase twee en drie van die nuwe plan om die myn se lewensduur te verleng, mynbou op die bodem van die put behels, wat tot 2026 deur Rössing se eie werknemers en vloot behartig sal word.

“Maar die put raak nouer en nouer. Ons sal basies teen die einde van volgende jaar by ’n punt kom waar die bodem van die put te nou sal wees vir ons om hierdie groot trokke te kan gebruik.

“Intussen sal daar vir fase vier ’n deel van die put uitgebrei word, maar die eerste 200 m daarvan is net afval. Dus sal die uraan wat ons self myn, moet betaal vir die verwydering van daardie rots,” sê hy.

“So wat volgende jaar sal gebeur, nadat Beifang mense aanstel en kleiner 100 ton-trokke aankoop, sal hulle daardie gebied begin oopmaak.

“In 2025 sal daar genoeg plek wees vir ons trokke om daar te ry, en hulle kleiner trokke om onder te kom. In 2025 sal ons die twee vlote omruil. Rössing sal dan aanhou om (fase 4) te ontgin, en Beifang die nouer put onder met hul kleiner masjinerie. Einde 2026 sal ons weer uraan tref en ons vloot sal ophou myn en Beifang sal by ons oorneem.

“Ons sal dus altyd in twee verskillende gebiede myn en ons sal nie die twee vlote meng nie,” brei Coetzee uit.

Coetzee sê Beifang is gekies nadat sowat 20 maatskappye belangstelling getoon het.

“Wat baie belangrik is, is dat die ooreenkoms met Beifang stipuleer dat hulle 95% Namibiërs sal aanstel, alhoewel – omdat Beifang ’n Chinese onderneming is – sal sy topbestuur Chinese burgers insluit,” sê hy.

Rössing het ook die plan vir die sluiting van die myn opgedateer. Sonder goedkeuring vir die verlenging, sou die myn in 2026 moes sluit, volgens Coetzee.

Namibië het nie tans ’n wet in plek om die sluiting van ’n myn te reguleer nie, dus nader Rössing se bestuur tans die regering om sy plan goed te keur. Sedert sy begin in 1976 plaas Rössing geld in ’n trust om vir die sluitingsplan te kan betaal, voeg hy by.

Rössing het sowat 900 werknemers waarvan 98,8% Namibiërs is.

Die onderneming behoort 68,6% aan China National Uranium Corporation (CNUC) – ’n filiaal van China National Nuclear Corporation (CNNC). Ander aandeelhouers sluit in Iran se buitelandse ontwikkelingsonderneming (15,3%), Suid-Afrika se Industrial Development Corporation (10,2%), onafhanklike aandeelhouers (2,5%) en die Namibiese regering met 3,4%.

Die regering het nogtans 50,01% stemreg in besluitneming deur verskeie direkteure wat Namibië verteenwoordig, sê Coetzee.

Rössing het verlede jaar ’n rekordwins van N$840 miljoen aangeteken en in Augustus 2022 dividende van amper N$50 miljoen uitbetaal.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!