Derde olie-ontdekking bevestig

Shell-boorveldtog weer suksesvol
Graff-1X, Venus-1X en nou Jonker-1X lewer "swart goud".
Augetto Graig
Die ministerie van myne en energie het gister die ontdekking van ’n derde diepsee-oliebron in die Atlantiese Oseaan se Oranjekom langs die suidkus van Namibië bevestig.

Dit volg kort op die hakke van ’n aankondiging wat die regering se oliemaatskappy, Namcor, Maandag gemaak het.

Die ministerie se woordvoerder, Andreas Simon, sê die nuutste ontdekking van ligte olie is in PEL0039 gemaak, waar die Jonker-1X-boorgat sowat 270 km vanaf die kus, tot ’n diepte van 6 268 m in water van 2 210 m deur die Deepsea Bollsta tussen 11 Desember 2022 en die einde Februarie vanjaar geboor is.

“Die boorproses is laat Februarie veilig voltooi en het ’n reservoir van ligte olie ontdek,” sê Simon.

Minister Tom Alweendo het gesê: “Die regering van die Republiek van Namibië verwelkom die ontdekking en sal aanhou om beleggers te ondersteun om toegewyd te bly en die volhoubare ontwikkeling van Namibië se olie- en gashulpbronne te bespoedig.”

Volgens Simon bevestig die derde ontdekking die teenwoordigheid van koolwaterstowwe in die kom.

“Sonder twyfel is daar betekenisvolle volumes koolwaterstowwe in Namibië,” dring hy aan.

Nog werk is egter nodig om die omvang en die kommersiële waarde van die Jonker-1X-boorgat se inhoud te bepaal, voeg hy by.

Maggy Shino, die petroleumkommissaris, het die eksplorasieveldtog geprys wat tot die derde ontdekking gelei het.

Volgens haar maak die nuwe ontdekking Namibië die nuwe eksplorasiekernpunt (hotspot) en binnekort sal Namibië ook ’n vervaardiger van olie en gas wees. Sy sê die regering sien uit na verdere samewerking met die betrokke vennote.

Shell Namibia Upstream besit 45% van die boorprojek, met QatarEnergy wat 45% besit en Namcor die oorblywende 10%.

Namcor se uitvoerende beampte vir eksplorasie, Victoria Sibeya, het vroeër die week gesê: “Namcor wil hierdie geleentheid neem om ons vennote Shell, die operateur, en QatarEnergy geluk te wens met die veilige boorproses van die Jonker-1X-diepseeboorgat.

“Die resultate van die boorgat is ’n geologiese testament van die betekenisvolle koolwaterstof-potensiaal in die diep waters van die Oranjekom. Ons sien uit na ons samewerkende verhouding met ons vennote en ons aandeelhouer, die

regering van Namibië, om die kommersiële geleentheid van hierdie ontdekking volledig te evalueer,” sê sy.

Namcor se besturende direkteur, Immanuel Mulunga, sê: “Ons is verheug om hierdie derde ontdekking aan te kondig, ná die sukses van die Graff-1X- en Venus-1X-ontdekkings deur Shell en TotalEnergies in 2022. Hierdie ontdekking het die opwindende en wêreldklas-potensiaal van die Oranjekom bevestig,” sê hy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!