Fosfaatmynbou weer in kollig
Meer as ’n dekade ná Namibia Marine Phosphate sy aanvanklike aansoek vir ’n omgewingsklaringsertifikaat in 2012 ingedien het, het die maatskappy op 2 Oktober weer aansoek gedoen vir ’n sertifikaat.
Met dié goedkeuring sal die maatskappy kan voortgaan met sy Sandpiper-projek wat aflandige fosfaatmynbou behels.
’n Sitting van die parlementêre staande komitee oor natuurlike hulpbronne en die staande komitee oor ekonomie en openbare administrasie is gister belê.
Mike Woodborne, die bedryfshoof, Hannelie Scheepers, die bestuurder vir finansies en administrasie en Jessica Bezuidenhout van Environmental Compliance Consultancy (ECC), het voor die komitees verskyn om oor die mynbouprojek uit te brei asook oor die gepaardgaande nuwe nywerhede wat dit vir Namibië kan skep.
Woodborne sê die gehalte van die hulpbron van 1,6 miljard ton langs die Walvisbaaise kus bied tans nog ’n beter geleentheid as vantevore.
Hy sê verder die mineraalafsetting is een van die grootste onontwikkelde fosfaatbronne ter wêreld, en is getoets om as kunsmis met ’n stadige vrystelling te gebruik.
Woordborne sê die baggers (’n tipe vaartuig wat gebruik word om grond of sand onder water uit te grawe) sal kus toe gebring word waar skulpe en modder eenvoudig verwyder word om van die oorblywende sand ’n bruikbare produk te kan vervaardig.
Die produk sal landbou en voedselsekuriteit in Namibië bevorder, of kan met duur kunsmis gemeng word om pryse goedkoper te maak, kan met fosforsuur gebruik word om superkunsmis te vervaardig, of kan met ammoniak gemeng word om die hoogste vlak kunsmis te vervaardig, het Woordborne uitgebrei.
Die fosfaat kan ook vir dierevoer gebruik word. Verder is die jongste neiging om kobalt in litiumioon-batterye met fosfaat te vervang wat nog ’n nuwe nywerheid kan beteken om uit fosfaatmynbou voort te spruit, sê hy.
Die nodige omgewingsklaring is in 2016 toegeken. Die klaring is egter kort daarna teruggetrek nadat die Visvangvereniging die regering hof toe gesleep het om die fosfaatmynbouers se mynlisensie uit te daag.
Hoewel die hof bevind het dat die lisensie steeds geldig is, moes Namibia Marine Phosphate die aansoekproses om omgewingsklaring van voor af begin.
Sedert 2018 is vyf bykomende wetenskaplike studies uitgevoer om die aantal studies tot dusver op 28 te staan te bring deur 37 kenners, om onder meer die kommer oor die impak op visbronne te takel.
“Minder as 1% van die mynlisensiegebied sal per jaar benut word, en dit val buite die kommersiële visvanggebiede,” het Woordborne gesê.
Sandpiper se lisensiegebied dek sowat 2 023 km² waarvan sowat 1,7 km² per jaar, of tot 35 km² oor die eerste 20 jaar, deur baggers opgegrawe sal word.
“Die hulpbron is in staat om produksie oor ’n aantal generasies te ondersteun en kan bedrywighede vir tot 50 tot 100 jaar ondersteun,” het hy bygevoeg.
Teenwoordige parlementslede het die voorsitter van die komitee oor natuurlike hulpbronne, Tjekero Tweya, en die voorsitter van die komitee oor ekonomie, Natangwe Ithete, ingesluit.
Hul kommer oor baggerwerk, werksgeleenthede vir Namibiërs, omgewingsrisiko’s en die bedreiging van visbronne, die herstel van die seebodem en die betrokkenheid van Namibiese eienaars word in die navorsing beskikbaar op EEC se webwerf (eccenvironmental.com) aangeroer, volgens Bezuidenhout.
“Hierdie projek is al lankal misverstaan weens verkeerde inligting en wanvoorstellings. Dit is nou een van die mees omvattende omgewingsimpak-projekte wat nog ooit in Namibië gedoen is. Die navorsing word tans onafhanklik hersien, in opdrag van die omgewingskommissaris, met die uitslae wat teen einde November verwag word,” sê sy.
“Ons het die bewyse en danksy die navorsing het ons nou meer vertroue in die uitkoms as ooit,” voeg sy by.
Woodborne betreur die feit dat die ministeries van mynbou, die omgewing en visserye steeds nie saamstem nie.
Tweya sê: “Dit is ’n ander goudmyn wat ledig lê terwyl die eienaars in ’n poel van armoede swem.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie