Galp boor weer olie raak

Shell soek nog verder
Custos Energy se stigter en die plaaslike sakeman, Knowledge Katti, brei uit oor die nuutste olie-ontdekking.
Augetto Graig
Die Portugese eksplorasiemaatskappy Galp Energia het Vrydag aangekondig dat hy weer olie in die Mopane-1X-boorgat aan die kus van Namibië raakgeboor het.

Dit nadat Galp dieper tot by teiken AVO-2 geboor het en weer ligte olie van hoë gehalte in sy eksplorasieboorgat in Blok PEL83 ontdek het.

Galp is die meerderheidsaandeelhouer (80%), met die Namibiese staatsbeheerde oliemaatskappy, Namcor, en Custos Energy, ’n onafhanklike Namibiese olie- en gasmaatskappy, wat elkeen ’n 10%-belang besit.

Die maatskappy het sy vroeëre olie-ontdekking op 10 Januarie vanjaar aangekondig. Custos se stigter en die plaaslike sakeman, Knowledge Katti, het die jongste verklaring uitgereik.

“Die voortgesette sukses van die aanvanklike eksplorasieveldtog, insluitend ’n tweede ligte olie-ontdekking by Mopane-1X, demonstreer verder die omvang en potensiaal van PEL 83,” luidens die verklaring.

PEL83 is noordwes van PEL 56, die eksplorasieblok in die Oranjekom waar TotalEnergies se reuse- olie-ontdekking by Venus-1 gemaak is.

Daarbenewens is die blok ook noord van PEL 39, die tuiste van Shell se aanvanklike ontdekkings by Graff-1, La Rona-1 en Jonker-1.

Intussen doen Shell aansoek om sy eie oliesoektog uit te brei. Shell Namibia Upstream B.V. het die internasionale omgewingskonsultante SLR aangestel om die proses vir die aanpassing van sy omgewingsklaringsertifikaat te dryf.

Volgens SLR is ’n verslag oor die voorgestelde aanpassing reeds in November verlede jaar by die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme ingedien.

’n Impakstudie sou nog in Januarie uitgevoer word en insette van belanghebbers word vanaf vandag verwelkom.

Dit sal in Maart deur nog ’n voorlegging gevolg word, wanneer die ministerie se besluit verwag word.

Shell wil die 3D- seismiese opname van 2014, en die groter soortgelyke opname van 2018 en 2019 uitbrei. Die maatskappy wil ook ’n kleiner spasiëring vir ’n derde opname toepas en ook die seismiese opname-tegnologie Oseaan Bodem Nodusse (OBN) aanwend om ’n meer gedetailleerde oorsig van wat onder die bodem aangaan, te verkry.

Tydens seismiese opnames word hoëvlak-, lae frekwensie-geluide vanaf naby die oppervlak na die seebodem gerig. Klankbronne word agter die seismiese vaartuig gesleep. Die akoestiese sein wat in die waterkolom uitgestraal word, dring die seebodem binne, en word dan deur rotsformasies weerkaats, brei SLR uit.

Die OBN-opnames behels ook ’n seismiese klankbron wat binne die opname gebied gesleep word. Die belangrikste verskil is egter dat die seinontvangers nie agter die seismiese vaartuig gesleep word nie, maar word eerder in ontvangers (nodusse) op die seebodem ingebou, volgens die omgewingskenners.

Shell doen terselfdertyd ook aansoek vir die hernuwing van sy omgewingsklaringsertifikaat.

Belangstellendes wat insette wil lewer of wil registreer om nuus oor die jongste verwikkelinge te ontvang, kan Stephanie Strauss by [email protected] kontak

Oor Galp en sy vennote se jongste sukses, sê Katti dat hulle ook nog die data bestudeer.

“Die boortuig sal na verwagting na die Mopane-2X-ligging geskuif word om die omvang van die Mopane-ontdekkings te evalueer, waarna ’n reeks toetse na verwagting in Mopane-1X uitgevoer sal word.

“Galp en sy vennote sal voortgaan om die data wat gedurende die komende weke ingevorder word, te ontleed om die kommersiële lewensvatbaarheid van die ontdekkings te evalueer,” brei hy uit.

“Met hierdie ontdekking is ons een stap nader aan die benutting van die volle potensiaal van hierdie veldtog. Ons wens Galp en sy vennote Custos Energy en Namcor alle sukses toe met die oorblywende boorveldtog,” het Maggy Shino, die petroleumkommissaris in die ministerie van myne en energie, volgens die verklaring gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!