Geotermiese krag dalk ’n opsie
Kenner stel N$80 miljoen se proefaanleg voor
'n Kenner moedig Namibië aan om die aarde se hitte as energiebron in gedagte te hou.
’n Kenner en besoekende Fulbright-geleerde, prof. Munawar Karim, het verlede week by die Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) gesê Namibië moet met die komende oorgang na grootmaat-energie na die behoeftes van die land kyk.
Karim sê behalwe vir olie en hernubare energie, soos sonkrag en wind vir die opwekking van groen waterstof, moet geotermiese energie ook as ’n opsie oorweeg word. Dit is die natuurlike energie van die hitte binne-in die aardkors wat deur middel van geleiding en konveksie na die oppervlak oorgedra word. Dié energie is in oorvloed beskikbaar vir die volgende vyf miljoen jaar soos dit deur middel van geleiding opwaarts deur die aardkors beweeg.
Karim noem hierdie energiebron “groener as groen, en smaraggroen”. Dit kom van die kern van die aarde wat so warm soos die son is, sê hy.
Die gebruik van geotermiese energie hou verskeie voordele in, soos onder meer die volhoubaarheid van die bron, geen behoefte aan brandstof en geen uitlaatgasse nie, dit is wêreldwyd beskikbaar en benodig nie groot stukke grond nie.
Wêreldwyd word duisende megawatt (MW) reeds op dié manier opgewek, met Amerika wat ongeveer 3 800 MW opwek en Japan 654 MW, sê hy.
“Die gebruik groei elke dag,” sê Karim.
Vloeistof word onder die grond ingespuit en dié vloeistof absorbeer die ondergrondse hitte, voor dit weer onttrek en in stoom omskep word. Die stoom dryf die turbine aan wat elektrisiteit opwek.
Met die nuutste tegnologie is geotermiese kragopwekking nou skaalbaar, sê hy.
Die Eavor-Loop-geslote geotermiese energie-onttrekkingstelsel kan byvoorbeeld skoon voltydse kragopwekking bied.
In die suidedorp Geretsried in Duitsland word vier van die Eavor-Loop-stroombane tot dieptes van 4 500 meter geboor om ’n aanleg te vestig wat 64 MW se geotermiese krag en 8,2 MW se elektriese krag kan opwek.
Die eerste van dié stroombane sal teen volgende jaar begin om elektrisiteit te lewer en die projek sal teen 2027 voltooi en operasioneel wees.
Karim sê die Eavor-Loop-stelsel gebruik geleiding pleks van konveksie om hitte oor te dra deur die pype in direkte kontak met warm rotse te bring, terwyl die stelsel ook nie pompe gebruik nie.
Moderne geotermiese aanlegte het pype wat tot sewe kilometer diep geboor is, en is nie beperk tot gebiede waar daar reeds warmwaterbronne geleë is nie, voeg hy by.
Omdat die rotse se hitte vanaf dieper dieptes hernu word, kan so ’n aanleg maklik vir 30 jaar voortdurend krag opwek, sê hy.
In Afrika is Kenia een van die voorlopers om geotermiese energie vir die opwekking van elektrisiteit te gebruik.
Hulle benut die voordele van geotermiese krag, wat nie brandstof benodig nie, net onderhoud en dus laer bedryfskoste.
Die aanvanklike belegging in opnames en boorwerk is die grootste, maar krag kan teen N$1,44 per kWh opgewek word, teenoor Namibië se grootmaat-kragtarief van N$1,98.
Karim sê Namibië het reeds 24 warmwaterbronne op rekord. Hy stel voor ’n toetsaanleg word of op Rehoboth of by Gross Barmen gebou. Op Gross Barmen is daar reeds ’n 800 kW-dieselopwekker wat vervang kan word, sê hy.
Om ’n proefaanleg te bou wat tussen 800 kW en 1 000 kW kan opwek, sal sowat N$80 miljoen kos. Die belegging behoort binne vyf jaar verhaal te word, sê hy.
Volgens Karim kan Namibië slegs die nodige ervaring en kennis opdoen deur ’n proefaanleg te bou en daardeur te leer wat die land kan verwag.
“Ons moes al gister begin het. Ek weet nie hoe lank dit sou neem om te bou nie,” sê hy.
Nietemin is daar voorbeelde wat gevolg kan word, soos die aanleg in Kalifornië wat reeds vir 60 tot 70 jaar operasioneel is, sê hy.
Namibië moet steeds met hoë transmissiekoste worstel: “Selfs al wek ons krag gratis op, sal julle dit steeds nie kan bekostig nie,” spot die professor.
“Die Almagtige het julle ’n pragtige land gegee, kyk mooi daarna,” het hy bygevoeg.
In sy slottoespraak het prof. Percy Chimwamurombe die voorstel geprys, die kenner bedank, en gesê die kwessie van geotermiese krag verdien dalk ’n nasionale gesprek.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie