‘Groen’ dorpie blom in die woestyn

Bouwerk vorder by Daures
Duitsland se ministerie van onderwys en navorsing het 'n bedrag van 12,1 miljoen euro – of sowat N$220 miljoen – geskenk om die eerste fase van die reuse-ontwikkeling te finansier.
Augetto Graig
Minstens 50 km vanaf die naaste nedersetting, in die hart van die bloedige warm Tsiseb-bewaringsgebied wat onder die Daure Daman Tradisionele Owerheid se jurisdiksie val, is ’n nuwe “groen” dorpie besig om vorm aan te neem. Die Daures Green Hydrogen Village word spesifiek in die middel van die woestyn gebou weens die sterk winde wat voortdurend in dié omgewing oor die oop vlaktes waai.

Jerome Namaseb is die jong uitvoerende hoof van die konsortium en ’n stigterslid van Enersense Energy Namibia, wat 90% van dié ambisieuse ontwikkeling besit. Die tradisionele owerheid besit 7,5% van die projek, en die Tsiseb-bewaringsgebied het ’n aandeel van 2,5%. In vennootskap met die Wetenskaplike Dienssentrum vir Klimaatsverandering en Aanpasbare Grondbestuur in Suider-Afrika (SASSCAL) en deur die verhouding tussen die Namibiese en Duitse regerings het Duitsland se ministerie van onderwys en navorsing ’n bedrag van 12,1 miljoen euro – of sowat N$220 miljoen – geskenk om die eerste fase van die reuse-ontwikkeling te finansier.

Volgens Namaseb is sowat 66% van die bouwerk reeds voltooi, met ’n tweede 130 meter lange meteorologiese toring wat opgerig is, bouwerk aan kweekhuise met drupbesproeiingstelsels wat reeds 5% voor skedule is en vestiging van die elektroliseerder (wat energie van die son gebruik om water in sy atome te verdeel en waterstof te skep) wat ook 6% voor skedule is. Verder vorder die 162 werknemers op die bouperseel van sowat 300 hektaar - uit die projekgebied wat altesaam 1 500 hektaar beslaan – vinnig met die opstel van laboratoriums, twaalf behuisingseenhede, sewe boorgatdamme, ’n sonkrag-aanleg van 0,88 megawatt (MW), 0,1 MW se windturbines, en ’n elektroliseerder-aanleg van 0,25 MW sowel as ’n tru-osmose-fasiliteit om jaarliks 18 ton groen waterstof uit die brak boorwater te produseer. Daarmee sal 100 ton ammoniak te per jaar vervaardig word, en uiteindelik sal die eerste ammoniumsulfaat vir kunsmis teen volgende jaar daar vervaardig word.

Tussen 2024 en 2027 moet kunsmisproduksie drasties toeneem wanneer 6,7 MW se sonkrag, 5,1 MW se windkrag en die elektroliseerder se kapasiteit van 5 MW ingespan sal word om 602 ton waterstof, 3 500 ton ammoniak en 35 000 ton ammoniumsulfaat op ’n jaarlikse basis te vervaardig. Daarna, tussen 2029 en 2032, is die plan om die kapasiteit na 420 MW se sonkrag en 590 MW se windkrag te verhoog om die elektroliseerder van 420 MW te dryf en sodoende 121 000 ton waterstof en 352 000 ton ammoniak per jaar te kan produseer. Ná 2032 beoog die projek om sonkragkapasiteit tot 840 MW te verhoog, 1,18 gigawatt (GW) se windkrag op te wek en ’n elektroliseerder van 840 MW in werking te stel om 240 000 ton waterstof en 700 000 groen ammoniak vir uitvoerdoeleindes te vervaardig.

Die eerste fase sal aanvanklik tot 70 kubieke meter (m³) water per dag, en later 50 m³ per dag vereis, wat deur die boorgate voorsien sal word. Slegs drie van die sewe boorgate is voldoende vir hierdie vereistes. Terselfdertyd vorder die ontwerp van die dorp om ’n finale beleggingsbesluit nader te bring, winddata word gemeet en ammoniakproduksie en die opwekking van hernubare energie word opgestoot om produksiekoste teen 2030 mededingend in die streek en die internasionale mark te maak.

Die aanvanklike elektroliseerder sal na verwagting teen Februarie volgende jaar in gebruik geneem word en die hele aanleg behoort teen Junie 2024 operasioneel te wees, brei Namaseb uit.

Die hoofman van die Daure Daman Tradisionele Owerheid, Zacharias Seibeb, sê die reuseprojek vorder goed en hy het ’n beroep op alle Namibiërs gedoen om die ontwikkeling te ondersteun. Hy sê dit bied ’n nuwe geleentheid in groen waterstof wat, indien dit suksesvol uitgevoer word, ’n groot voorsprong vir alle Namibiërs sal wees. Indien die projek misluk sal dit vir alle Namibiërs ’n mislukking wees, voer hy aan.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 26° Rundu: 19° | 34° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 21° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 20° | 34° Windhoek: 22° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 17° | 21° Rehoboth: 22° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 34° Aranos: 22° | 34° Lüderitz: 16° | 29° Ariamsvlei: 19° | 35° Oranjemund: 16° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 22° Mbabane: 18° | 28° Maseru: 18° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 22° | 32° Cape Town: 19° | 23° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 17° | 24° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 25° Harare: 17° | 21° #REF! #REF!