‘Groen’ ysterprojek skop af

Sooispitseremonie volgende Maandag
Duitsland belê byna N$300 miljoen in 'n nuwe ysteraanleg deur sonkrag en groen waterstof in te span.
Augetto Graig
Die bekendstelling en sooispitseremonie van die HyIron Oshivela-projek is verlede week aangekondig en sal volgende Maandag op deel vier van die plaas Bloemenhof 109 naby Arandis afskop.

Die omgewingsimpakstudies vir die unieke ysterprojek op die plaas Tevrede in die Erongostreek is deur Namisun van stapel gestuur. Insette word nog net tot 3 November aanvaar.

HyIron Green Technologies beplan om “groen” yster te vervaardig – deur gebruik te maak van sonkrag en waterstof – om die verwerking van die ystererts aan te dryf en om waterstof uit water te onttrek.

Die aanleg sal ’n eerste van sy soort in Namibië wees, en een van die eerstes in Afrika, en word in samewerking met die Duitse Federale Ministerie vir Ekonomiese Sake en Klimaataksie (BMWK) aangepak.

Dit volgens die Namibiese raad vir die bevordering van beleggings en ontwikkeling (NIPDB) in die kantoor van die president. Die projek is ook deel van die Namibiese groenwaterstofprogram, en die kommissaris vir groen waterstof, James Mnyupe, het vroeër vandeesmaand melding daarvan gemaak in sy jongste terugvoering op 23 Oktober.

Daarin sê hy die konstruksie van die aanleg sal na verwagting reeds vroeg in November begin. Plaaslik vervaardigde waterstof sal gebruik word om spons-yster (direct reduced iron) te produseer, wat vir staalvervaardiging nodig is.

Gedurende die aanvanklike fase sal 15 000 ton yster na verwagting so vervaardig word, en die Duitse regering het reeds 13,6 miljoen euro (sowat N$291,3 miljoen) vir die ontwikkeling bewillig, sê hy.

Die verwydering van koolstof uit die staalbedryf is wêreldwyd een van die grootste uitdagings in die stryd teen klimaatsverandering, sê NIPDB en voeg by HyIron – ’n vennootskap tussen Namibiese en Duitse maatskappye – het die tegnologie ontwikkel om yster doeltreffend te vervaardig met nul-vrystelling.

HyIron is ’n groep maatskappye van die TS Groep, insluitend Aken en LSF Energy van Paderborn. Die TS Groep is ’n voorloper in tegniese oplossings op die gebied van brandstofselle, batterye en nywerheidsoonde, terwyl LSF Energy jare se ondervinding het in die opwekking van hernubare energie.

Navrae is aan plaaslike vennote, wat Johannes Michels van Green Technologies insluit, gestuur – hoewel hy teen druktyd nog nie gereageer het nie.

Volgens die omgewingskenners Namisun, beoog HyIron om in die aanvanklike fase vir 3 000 uur per jaar sowat 5 ton yster per uur te vervaardig deur gebruik te maak van waterstof in ’n lugdigte draai-oond om die yster te suiwer.

’n Sonkragaanleg van 25 megawatt (MW) sal dus vir dié doel op 30 hektaar gebou word om die elektrisiteit te verskaf om groen waterstof deur elektrolise te produseer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!