Groter kragstasie vorder goed
Walvisbaai sal Erongo van krag kan voorsien
Die Anixas II-aanleg sal 'n beplande opwekkingskapasiteit van 54 MW tot Namibië se kragnetwerk voeg.
NamPower maak vordering met Namibië se eerste nuwe voltydse kragstasie sedert Anixas I in 2011 in werking gestel is.
In Walvisbaai word die Anixas II-aanleg gebou om die Anixas I-aanleg uit te brei - om gesamentlik tot 75 MW-elektrisiteit te kan opwek. Anixas I kan op die oomblik reeds 22,5 MW opwek.
Die Anixas-aanleg brei dus aansienlik uit, volgens die nasionale kragverskaffer, en sal elektrisiteit aan die hele Erongostreek kan voorsien.
Tussen 100 en 300 tydelike werksgeleenthede word gedurende die boufase geskep en die projek sal na verwagting teen Mei 2024 operasioneel wees.
NamPower het Vrydag bekend gemaak dat drie kragopwekkingseenhede by die Walvisbaaise hawe aangekom het.
Gistermiddag was die doeaneklaring nog aan die gang en NamPower se woordvoerder, Ingrid Hoaes, het gesê: “Dit kan vandag of môre laat op die perseel aankom, afhangende van die klaringsproses by doeane.”
Die drie opwekkingseenhede sal saam 54 MW kan opwek wanneer hulle volledig geïnstalleer is. Die opwekkers gebruik óf brandstofolie met ’n lae swaelinhoud, óf natuurlike gas, om krag op te wek.
Volgens NamPower sal die gebruik van gas verkies word, en sal die kragstasie oorskakel sodra toevoer van gas, byvoorbeeld vanaf die Kudu-gasvelde in die Atlantiese Oseaan langs die suidkus, verseker word.
Elk van die drie kragopwekkingseenhede weeg sowat 350 ton, met alternators wat elk ongeveer 70 ton weeg.
Die doel van die kragstasie is om kragtoevoer in die land te verseker, veral omdat dit krag kan opwek wanneer daar ’n tekort is, en help om die integrasie van hernubare energie in die nasionale kragnetwerk te ondersteun, volgens NamPower.
Hernubare krag, soos onder meer sonkrag, kan net opgewek word terwyl die son skyn, en windkrag net terwyl die wind waai.
Die ministerie van myne en energie het reeds in 2018 die projek van stapel gestuur as deel van ’n groep opwekkingprojekte om nog 220 MW-kapasiteit vir Namibië by te voeg.
Die res van die projekte is vir hernubare kragbronne insluitend sonkrag, windkrag en biomassa, en sal saam sowat 170 MW bydra, volgens NamPower.
NamPower het in Maart 2022 die kontrak vir die ingenieurswerk, verkryging en bouwerk van die projek ter waarde van N$1,259 miljard met FK Namibia Joint Venture onderteken.
Die gesamentlike onderneming bestaan uit F.K. Generators and Equipment, August 26 Construction en Phim Investments. Die projek is reeds vertraag nadat die aanvanklike voltooiing teen Desember verlede jaar verwag is.
Nege maande gelede het MAN Energy Solutions reeds die verskaffing van die opwekkingseenhede aangekondig. Die drie MAN 18v51/60DF dubbelbrandstof-enjins met alternators en hulptoerusting se aankoms in die land merk ’n mylpaal in die langverwagte projek.
Omgewingsklaring vir die projek is reeds in 2019 toegeken en volgens die omgewingsbestuursplan wat in 2020 vrygestel is, word besoedeling van die lug en klankbesoedeling as die ernstigste kwessies getakel.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie