Husab bereik groot hoogtes

Meer as 3 000 werk op die myn
Van die N$8,07 miljard wat in 2023 aan aankope bestee is, is N$3,945 miljard, of sowat 49%, binne Namibië bestee.
Augetto Graig
Swakop Uranium se Husab-uraanmyn is reeds die grootste myn in Namibië en sy produksieresultate vir 2023 dui daarop dat dié bielie van ’n myn ook groot hoogtes bereik.

Spesifiek spog die uraanmyn, wie se meerderheidsaandeelhouer die Chinese regering se China General Nuclear (CGN) is, met ’n toename van 34% in U3O8-produksie van 5 318 ton, vergeleke met die vorige jaar, en die grootste volume uraanproduksie by die myn nog.

Boonop is ’n rekord van 12 miljoen ton rots vergruis, terwyl 115 miljoen ton grond ook verskuif is, 13% meer as die vorige rekordjaar 2021, om Husab se plek as die grootste oopgroefmyn in Namibië te bevestig.

Nog ’n prestasie was die vermindering in ongelukke wat verlede jaar verlore produksietyd geneem het van sewe in 2022 tot net twee in 2023, ’n daling van 71%.

Beserings en ongelukke wat verlede jaar produksie- en tydverliese tot gevolg gehad het, was die minste sedert die reusemyn in 2014 begin het.

Met ’n daling van 25% in produksiekoste per eenheid kon Swakop Uranium op ’n jaar-tot-jaar-basis finansiële verliese met 44% verminder, wat die grootste enkele Chinese belegging in Afrika soveel nader bring om winsgewend te word.

Teenoor sy omset van N$9,045 miljard het Husab verlede jaar ’n verlies van N$1,62 miljard gely.

Meer as 3 000 werknemers werk dag en nag op die myn en het verlede jaar altesaam N$1,401 miljard aan salarisse verdien.

Van die N$8,07 miljard wat in 2023 aan aankope bestee is, is N$3,945 miljard, of sowat 49%, binne Namibië bestee.

Verder is N$269 miljoen op vaste bates belê, N$6,9 miljoen is aan verdere eksplorasie bestee, N$31,59 miljoen aan opleiding en vaardigheidsontwikkeling en N$6 miljoen aan welsynsuitgawes.

Die regering het N$217 miljoen uit tantième verdien, plus N$19 miljoen uit uitvoerheffings. Geen korporatiewe belasting of dividende is vir 2023 betaal nie.

Plaaslike media is Vrydag na die myn genooi om Wêreldpersvryheidsdag te vier en die goewerneur van die Erongostreek, Neville Andre, het gesê: “Ons stories moet vertel word en dit moet deur ons vertel word.”

Hy was veral tevrede om te sien dat Swakop Uranium poog om vroue in mynbou deur bemagtiging te bevorder, hulle deel te maak van bedrywighede en vroue op die voorgrond te plaas.

Volgens die myn se 2022-volhoubaarheidsverslag was 12,2% van sy werknemers toe vroue.

Johanna Iithana is een van die gegradueerdes wat die myn in 2022 in diens geneem is, nadat sy in 2019 haar studies in meganiese ingenieurswese kon voortsit danksy ’n beurs van Swakop Uranium.

Sy beskryf haar ervaring by die myn as ’n wonderlike avontuur en Husab as ’n plek waar sy voortdurend ondersteun word om meer te leer.

“Wees gretig om te leer. Hier is jy in beheer van jou eie professionele ontwikkeling,” sê sy.

Pulani Maritz is by die geleentheid vereer vir meer as tien jaar se diens aan die myn en sê: “By Swakop Uranium streef ons daarna om die beste te wees.”

Die superintendent vir vlootbestuur en beplanning vir mynbou, Rejoice Shilongo, het een voorbeeld uitgelig.

’n Unieke toepassing (toep) is intern ontwikkel wat inligting van die kontrakteurs Beifeng en GMS gebruik, tesame met Swakop Uranium se eie inligting, om alle mynbedrywighede heeltyd en onmiddellik te kan koördineer.

“Beweeg buite die boks. Hier kan ons dit doen,” sê sy.

Volgens Patrick Chizabulyo, die adjunkpresident vir menslike hulpbronne, en die maatskappy se kantoor by Swakop Uranium, myn Husab meer volumes as enige ander myn landswyd, en beweeg hulle nader aan die teiken om byna 6 000 ton uraan per jaar te vervaardig.

Die uitvoerende hoof van Swakop Uranium, Qiu Bin, het ook onthul dat die myn verlede jaar die NOSA 4-ster-veiligheidsgradering behaal het, vordering met die bou van sy nuwe 12 MW-sonkragaanleg gemaak het, meer eksplorasieboorwerk uitgevoer word en dat die myn sy vervaardigingsproses verbeter het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 38° Rundu: 23° | 38° Eenhana: 23° | 37° Oshakati: 26° | 34° Ruacana: 23° | 33° Tsumeb: 21° | 34° Otjiwarongo: 19° | 31° Omaruru: 21° | 32° Windhoek: 21° | 32° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 23° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 25° Rehoboth: 22° | 33° Mariental: 24° | 37° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 22° | 35° Oranjemund: 15° | 22° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 24° | 35° Lubumbashi: 18° | 31° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 13° | 31° Lilongwe: 21° | 32° Maputo: 22° | 31° Windhoek: 21° | 32° Cape Town: 18° | 22° Durban: 19° | 27° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 25° | 30° Lusaka: 23° | 33° Harare: 18° | 30° #REF! #REF!