Husab geloof vir sy prestasies

Stel volhoubaarheidsverslag vir 2023-’24 bekend
Namibië se grootste uraanmyn verbeter produksie-, arbeidsmag- en veiligheidsrekord.
Augetto Graig
Swakop Uranium spog met die prestasies van sy 20ste bestaansjaar terwyl die Husab-oopgroefuraanmyn die hoogste produksievlakke waarvoor die myn ontwerp is (nameplate production) vinnig nader.

Uraanproduksie het van 3 959 ton in 2022 tot 5 318 ton in 2023 gestyg.

Die bekendstelling van sy volhoubaarheidsverslag vir 2023-’24 is Maandag by ’n glansgeleentheid by die Windhoek Buitekluboord gevier.

Die president van die meerderheidsaandeelhouer China General Nuclear (CGN) Power Group, Gao Ligang, en die adjunk-administrateur van die Nasionale Energie-administrasie van China, He Yang, was albei teenwoordig.

Volgens He is China en Namibië belangrike vennote en Husab is die simbool van hul samewerking.

“Oor agt jaar se bedrywighede, met die ondersteuning van beide regerings en die harde werk van die werknemers, is 30 000 ton voltooide uraanproduk geproduseer.

“China handhaaf die beginsel van samewerking en ons reageer op plaaslike beleide. Ons is toegewyd aan die maatskaplike ontwikkelingsdoelwitte van Namibië en wil ’n positiewe impak op die Namibiese samelewing maak deur verantwoordelike mynbou,” het hy gesê.

Gao het by die geleentheid gesê CGN glo in uitnemendheid in mynbou, wat verder as ontginning gaan en verantwoordelikhede teenoor die omgewing en die mense rondom die myn insluit.

“Swakop Uranium stel die standaard van verantwoordelike mynbou. Die visie is ’n toekoms waar produksie beide skoon en groen is. Swakop Uranium is daardie visie in aksie,” het hy gesê.

Die Swakop Uranium-stigting is gevestig vir maatskaplike belegging, met N$5 miljoen wat vir die 2024-’25-boekjaar toegeken is, volgens ’n raadslid van Swakop Uranium, Eliphas Hawala. Hy sê hy bly baie optimisties oor die Husab-myn.

Die uitvoerende visepresident van Swakop Uranium, Irvinne Simataa, het uitgebrei oor Husab se veiligheidsprestasies wat ISO- en NOSA-vierster-sertifisering in 2023 ingesluit het.

Vir 2023 was Husab die beste myn in terme van veiligheid in Klas A van die Kamer van Mynwese se jaarlikse toekennings.

“Ons bevorder ’n kultuur van veiligheid onder almal as ’n prioriteit,” sê hy.

Verder is die arbeidsmag na 1 650 voltydse werknemers uitgebrei met nog 2 000 kontrakwerkers op die betaalstaat.

Simataa beklemtoon ’n oorvloed opleiding- en leierskapontwikkelingsinisiatiewe by die myn. Sewentig gegradueerdes is die afgelope twee jaar aangestel, terwyl meer as 30 spanne bestuurders opleiding in China voltooi het.

Innovasie is in 2023 verteenwoordig deur die 50 MW-stoomkrag by die myn se suuraanleg, wat binnekort met 12 MW se sonkrag aangevul sal word.

Elektrisiteit word ingespan om mynvragmotors met die rit uit die oopgroefmyn te help, terwyl skandeerders en intelligente stelsels help om die toevoer na die breker te verbeter en ’n verrykingsprosesfasiliteit van US$400 miljoen laegehalte-erts beter verwerk, het hy genoem.

Swakop Uranium het verlede jaar N$3,9 miljard se goedere en dienste plaaslik aangekoop, met N$6,4 miljard se totale plaaslike uitgawes, sê hy.

“Ons visie is wêreldoorheersing,” sê Simataa.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!