Husab mik vir wins

China en Namibië werk saam
Swakop Uranium stel 'n goeie voorbeeld in natuurbewaring en volhoubare mynboupraktyke.
Augetto Graig
Swakop Uranium se reuse- Husab-uraanmyn is op koers om vanjaar se teiken van 4 700 ton U3O8 vir uitvoer te vervaardig, volgens die uitvoerende hoof, Qiu Bin.

Die visepresident, Irvinne Simataa, is nog meer optimisties dat dié jaar die eerste jaar sal wees dat Swakop Uranium ’n wins sal toon, sedert die eerste drom vol uraanoksied in 2016 gevul is.

Hy verwag dat Husab-myn binnekort jaarliks 5 000 ton uraanoksied (geelkoek) sal vervaardig. Husab sal dan die tweede grootste enkelbron van uraan ter wêreld wees.

Die myn sal 120 miljoen ton klip en grond op die myn moet kan verskuif, waar hulle vanjaar op koers is om 118 miljoen ton te myn, het Simataa gesê.

Bin en Simataa het dié stellings Dinsdag tydens die bekendstelling van Swakop Uranium se 2022 volhoubaarheidsverslag by die Mercure Hotel in Windhoek gemaak.

Die adjunkgoewerneur van die Guangdong-provinsie in China, Zhang Hu, en die visepresident van die meerderheidsaandeelhouer, China General Nuclear Power Group (CGN), Shi Bin, het na Namibië gereis om die geleentheid by te woon.

Shi Bin sê CGN se kernfokus is op skoon energie. Die Husab-myn is ’n vlagskipprojek en stel ’n voorbeeld in veiligheid, groen praktyke en volhoubaarheid.

“Swakop Uranium verbeter produksie en is ook ernstig oor korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid. Ons is ’n internasionale maatskappy wat plaaslike gemeenskappe bevorder, en ons fokus is op sosioëkonomiese vooruitgang,” sê hy.

Hy haal die Chinese president, Xi Jinping, aan dat volhoubare ontwikkeling die “goue sleutel” is en sê “kom ons hou aan om saam vorentoe te beweeg”.

Zhang Hu sê handelsbedrywighede tussen China en Namibië het verlede jaar met 14,4% gestyg en tussen Januarie en Julie vanjaar reeds met altesaam 27% toegeneem.

Guangdong huisves die CGN se hoofkantoor en volgens die adjunkgoewerneur sal die Chinese provinsie aanhou om sy ekonomiese verhouding met Namibië te versterk in afwagting op groter prestasies in die toekoms.

Die goewerneur in die Erongostreek, Neville Andre Itope, het op sy beurt gesê die gesprek om ’n tweeling-verhouding met Guangdong te ontwikkel, het reeds begin.

Hy sê Swakop Uranium is al lank ’n ontwikkelingsvennoot van die Erongostreek, wat die vriendskap tussen Namibië en China voortdurend versterk.

President Hage Geingob se raadgewer en die voorsitter van Swakop Uranium se volhoubaarheidskomitee, Inge Zaamwani-Kamwi, het gesê: “Vir ons is die bekendstelling spesiaal, en die verslag is nog ’n mylpaal. Ons verwag vir die eerste keer om ’n wins te toon. Produksie is verbeter en bedrywighede het gestabiliseer,” sê sy.

Volgens haar is die Namib-Naukluft Park’n sensitiewe gebied en is dit ’n voorreg om binne die park werksaam te kan wees.

“Ons is ’n wêreldklas-operasie en ek is trots op die standaarde wat ons mense hier in Namibië kan handhaaf,” sê sy.

Behalwe dat Swakop Uranium verlede jaar ’n 12 MW-sonkragaanleg begin bou het, word waterverbruik verminder deur water te herwin en alles word in die stryd gewerp om die nadelige impak op die plaaslike omgewing te verminder, sê sy.

Die verslag plaas klem op natuurbewaring en kenners van Namibië se endemiese Welwitchia-plant (Titus Shuuya), en die Husab-sandakkedis (Jonas Lipopila) het gepraat oor die ondersteuning wat hul navorsing by die myn geniet.

In sy hoofrede het Shifeta gesê die aantal Welwitchia-plante dui daarop dat die myn omgee vir die biodiversiteit in sy omgewing.

Hy het gesê hy waardeer die deursigtigheid van die verslag en die eerlike benadering van sorg en bedagsaamheid teenoor die natuur waarmee Swakop Uranium werk.

“Ek is trots om deel van so ’n betekenisvolle geleentheid te wees,” het Shifeta gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 38° Rundu: 23° | 38° Eenhana: 23° | 37° Oshakati: 26° | 34° Ruacana: 23° | 33° Tsumeb: 21° | 34° Otjiwarongo: 19° | 31° Omaruru: 21° | 32° Windhoek: 21° | 32° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 23° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 25° Rehoboth: 22° | 33° Mariental: 24° | 37° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 22° | 35° Oranjemund: 15° | 22° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 24° | 35° Lubumbashi: 18° | 31° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 13° | 31° Lilongwe: 21° | 32° Maputo: 22° | 31° Windhoek: 21° | 32° Cape Town: 18° | 22° Durban: 19° | 27° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 25° | 30° Lusaka: 23° | 33° Harare: 18° | 30° #REF! #REF!