Hyphen begin landswye veldtog
Groen waterstof vir beter lewensomstandighede
Veldtog skop af om vas te stel presies hoe Namibiërs kan baat uit dié reuse-ontwikkeling.
Hyphen Energy se landswye veldtog om Namibiërs in te lig oor hoe hulle kan baat uit een van die grootste ekonomiese ontwikkelinge ooit in onafhanklike Namibië, skop vandag op Keetmanshoop af.
Die regering se verkose ontwikkelaar van ’n splinternuwe groenwaterstofbedryf stel sy raamwerk vir die sosioëkonomiese voordele wat hierdie bedryf – ter waarde van honderde miljoene – vir Namibiërs sal inhou, vanaf 08:30 by die Schütsenhaus-gastehuis in Pastoriestraat bekend.
Hyphen se hoof vir die omgewing en maatskaplike bestuur, Toni Beukes, het Vrydag die raamwerk aan plaaslike media uiteengesit.
Om die omvang van die projek van 40 jaar te verduidelik, sê sy dat net die huur van die grond in die Tsau //Khaeb Nasionale Park gedurende die huidige uitvoerbaarheidstudie vir ’n periode van twee jaar, reeds die regering jaarliks sowat N$100 miljoen in die sak sal bring, en daarna sal die huurprys na N$330 miljoen per jaar styg.
Hyphen het sy ooreenkoms met die regering amptelik op 26 Mei onderteken, om sy plan vir die vestiging van ’n groenwaterstofbedryf in Namibië te verseker.
Die projek ter waarde van US$4,4 miljard, behels reusebouprojekte van grootmaat-sonkragaanlegte, batterystoorfasiliteite, windkragplase, kragsubstasies en elektrolise aanlegte binne die park, voorheen bekend as die Sperrgebiet. Daarmee saam moet water- en waterstofpyplyne en transmissiekraglyne, substasies en toegangspaaie, wat met ander belanghebbers gedeel sal word, asook ’n ontsoutingsaanleg by Angra-punt in Lüderitz se hawe en talle ander infrastruktuur gebou word.
Die proses sal met die opwek van “skoon” elektrisiteit begin, waarmee seewater ontsout sal word en met ’n pypleiding vervoer sal word vir elektrolise. Die oorskotelektrisiteit sal na die nasionale kragnetwerk herlei word, terwyl waterstof per pypleiding na die hawe herlei sal word en met stikstof gekombineer sal word om ammoniak te vervaardig. Die ammoniak word dan per skip na kliënte in Europa en die ooste vervoer, brei sy uit.
Met die in ag neming van die tydperk om die bouwerk en ontwikkeling te voltooi, het Hyphen sy veldtog begin om hulpbronne te meet, wat onder meer die beskikbare windkrag en sonkrag insluit, terwyl die omgewings- en maatskaplike impakstudie afgehandel word.
Vennote in ingenieurswese, verkryging en konstruksie word ook tans gekies. Daar word ook met die ingenieurswerk begin om die konsepontwerp vir die spesifikasies vir die bou van verskeie dele van die massaprojek uiteen te sit.
Die veldtog sal ook nou begin om teikens wat Hyphen aan die regering gestel het, te laat realiseer
Dit sluit onder meer in werksgeleenthede waarvan Hyphen 16 176 gedurende die boufase beoog en 1 438 gedurende die operasionele fase, met 90% vir Namibiërs en 20% vir die jeug. Hyphen het ook 30% plaaslike verkryging belowe, waarvoor navorsing nou moet aandui hoe dit bereik sal word.
Waardekettings word uiteengesit, plaaslike kapasiteit word gemeet en ’n program word ontwikkel om plaaslike ondernemings wat aan die proses sal deelneem, te ondersteun. Hyphen beplan ’n vaardigheidsoudit in Namibië, en planne word beraam om saam met onderwysinstansies te werk om leemtes te vul.
Dié planne moet binne 18 maande tot uitvoering gebring word. Die regering sal ooreen moet kom oor die uitkoms van die studies en die planne vorentoe.
Die uiteindelike maatskaplike en ekonomiese ontwikkelingstrategie en -plan sal aan die publiek bekend gemaak word, volgens Beukes.
Samewerking sal voorkeur geniet in die poging om Hyphen se doelwitte te bereik en terselfdertyd die lewensomstandighede van Namibië se mense te verbeter, het sy gesê.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie