Hyphen vergader oor reuse-waterstofprojek

Maak gebruik van Europese geld, Duitse kundigheid
Kus se son en wind lok massiewe groenwaterstofprojek.
Augetto Graig
Hyphen is ’n vennootskap tussen Duitsland se hernubare kragopwekkingsmaatskappy Enertrag, en die Londense genoteerde belegger Nicholas Holdings, aan wie die Namibiese regering in November verlede jaar ’n bod toegeken het vir die konstruksie van ’n US$10 miljard (N$16,2 miljard)-groenwaterstofprojek in die Tsau //Khaeb Nasionale Park.

Groenwaterstof word met hernubare hulpbronne vervaardig en is ’n kragbron wat ’n koolstofvrye wêreld tot gevolg kan hê.

Die uitvoerende hoof van Hyphen, mnr. Marco Raffinetti, is saam met senior projekontwikkelaar van Enertag, mnr. Jonathan Metcalfe, en hul span vandag op Lüderitz om met die dorpsraad en belanghebbers te vergader.

Raffinetti het Maandag in Windhoek aan belanghebbers by die eerste van ’n reeks inligtingsessie uitgebrei oor die reuse-ambisie van die nasionale Suidelike Korridor Ontwikkelingsinisiatief (SCDI), en Hyphen se plan om Namibië op die voorpunt te plaas, wat wêreldnywerhede vir die vervaardiging van groenwaterstof sal bevorder.

Die inligtingsessies word vanmiddag op Aus voortgesit, voor hulle môre op Rosh Pinah en Vrydag op Oranjemund belanghebbers gaan toespreek.

Raffinetti sê die wêreld moet die oorgang na hernubare kragbronne versnel, maar “’n projek van dié aard kan nie sonder die goedkeuring van die mense gebeur nie”.

Hy sê Hyphen is volkome bewus van die kwesbare aard van die Tsau //Khaeb Nasionale Park se omgewing, en die vermindering van die projek se impak op die omgewing is deel van die ontwerpfilosofie.

Die sonskyn, nagwinde en die beskikbare grond is die hoofredes waarom die park vir die projek geskik is, sê hy.

Hyphen beplan om son- en windkrag in te span om seewater te ontsout en deur elektrolise die water in suurstof en waterstof te omskep. Die waterstof word dan gebruik on elektrisiteit op te wek en om ammoniak te vervaardig. Ammoniak is die middel waardeur die waterstof as ’n kragopwekkingshulpbron veiliger vervoer kan word, brei Metcalfe uit.

Hyphen sal dus op sowat 4 000 m² grond binne twee aangrensde gebiede van die park, sonkrag- en windkragaanlegte bou, met ’n batteryenergiestoorstelsel, waterstoorfasiliteite en ’n elektroliseaanleg.

Verder sal infrastruktuur gebou word om krag te versprei, waterstofgaspyplyne en waterpynlyne tussen die projek en Lüderitz, en ook na die suide om by Boegoebaai se hawe aan Suid-Afrika se kragnetwerk te koppel.

Ontsoutingsaanlegte sal op Lüderitz en Oranjemund gebou word. Uitvoerfasiliteite en infrastruktuur vir ammoniakvervaardiging, stoorgeriewe en pyplyne sal by Angra Point op Lüderitz opgerig word.

“Die pad na ’n groenenergiesektor is wel bekend. Die probleme kom met betroubare toevoer en die koste van die verspreiding van krag,” sê Metcalfe.

Die gebruik van beide son- en windkrag verbeter die betroubaarheid van die toevoer terwyl ammoniak ’n veiliger en goedkoper kragverspreidingsmiddel is, sê hy.

Hy voorspel die aanvraag sal teen 2050 wêreldwyd sowat 500 miljoen ton waterstof per jaar beloop.

Hyphen beplan om 300 000 ton jaarliks te vervaardig deur die gebruik van geïnstalleerde kapasiteit van 5 GW son- en windkrag plus 3 GW elektrolise opwekking.

Gedurende die vier tot vyf jaar bouproses verwag Hyphen om 15 000 werksgeleenthede te skep, wat daarna sowat 3 000 permanente poste sal genereer.

Metcalfe benadruk dat die infrastruktuur voortdurend onderhou en opgradeer moet word, wat die aanleg ’n onbepaalde leeftyd sal bied aangesien die hulpbronne hernubaar is.

Nadat die kontrak onderhandel en vanjaar geteken word, verwag Hyphen om in 2023 ’n hulpbronbestuursprogram te voltooi, en teen 2024 die omgewingsimpakstudie en die tegniese ontwerp.

Konstruksie vanaf 2024 sal na verwagte teen einde 2026 tot ’n kapasiteit van 120 000 ton per jaar lei, en tot 300 000 ton per jaar teen einde 2028. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!