Kernkrag nie vinnig of maklik
Namibië is herhaaldelik oor modulêre reaktors genader, maar geen aansoek is ingedien nie.
Namibië het nie ’n raamwerk hoe om met hulpbronne vir die opwekking van kernkrag te handel nie, volgens die waarnemende uitvoerende hoof van die Elektrisiteitsbeheerraad (ECB), Pinehas Mutota.
Namibië is nie gekant teen elektrisiteitsopwekking deur kernkrag nie en hierdie moontlikheid is meer as een keer reeds ernstig oorweeg.
In 2016 en weer in 2021 is spesifiek klein modulêre kernkragreaktors as deel van die hersiening van die Nasionale Geïntegreerde Hulpbronplan (NIRP) oorweeg.
“Die besef het deurgedring dat kernkragaanlegte kapitaalintensief is; die konstruksie neem lank en die hele proses kom met besware oor veiligheid of omgewingskwessies wat nie geïgnoreer of misgekyk kan word nie,” sê hy.
Die ministerie van myne en energie se woordvoerder, Ten Hasheela, het bevestig dat die regering reeds verskeie kere oor kernkrag genader is.
“Ons het verskeie ongevraagde voorstelle vanaf rolspelers in die private sektor ontvang, vir die verkryging en oprigting van klein modulêre reaktors. Ons het ook bilaterale ooreenkomste met verskeie lande gehad,” sê sy.
“Die ministerie, as die verantwoordelike party vir energiehulpbronne in Namibië, word deur verskeie ontwikkelaars, private maatskappye en selfs ander regerings genader om die moontlikhede van kragopwekking in die land te bespreek.
REËLS LAAT NIE TOE
Een van die voorstelle is in 2017 deur die bestuur van Swakop Uranium se reuse Husab-uraanmyn, waarin Namibië en China vennote is, ingedien.
“Tot op datum was hulle almal ongevraagde voorstelle. Die regering (deur NamPower) het nie ’n versoek om voorstelle vir ’n kernkragaanleg uitgereik nie,” sê Hasheela hieroor.
“Ons verkrygingsreëls laat nie ongevraagde voorstelle toe nie.
“Vir ’n kragaanleg om elektrisiteit te voorsien, moet dit ’n opwekkingslisensie van die Elektrisiteitsbeheerraad kry en ’n koper vir sy elektrisiteit verseker.
“In die geval van kernkrag kan so ’n toevoerooreenkoms slegs verkry word deurdat die maatskappy ’n tender indien om elektrisiteit aan NamPower te verskaf, of ’n kontrak beding om elektrisiteit aan ’n kliënt in die SADC-streek te verskaf. Geen maatskappy het tot op hede die ECB genader om ’n lisensie aan te vra om elektrisiteit met kernkrag op te wek nie,” het sy bygevoeg.
Mutota het ook bevestig dat die raad tot op datum nooit enige aansoek ontvang het vir ’n lisensie om kernkrag op te wek nie.
“Onder die aangepaste enkelkopermark kan ’n belegger die ECB nader om deel te neem in die Namibiese mark – óf vir plaaslike verbruik, óf vir uitvoerdoeleindes.
“Die betrokke markregulasies is gepubliseer in die Staatskoerant van 19 Desember 2022 (nr. 7983). Die regulasies geld vir bilaterale transaksies tussen verkopers wat in aanmerking kom en aanvegbare kopers, en die uitvoer van krag onder die aangepaste model vir ’n enkelkopermark,” brei hy uit.
Die opwekking van krag deur middel van kernhulpbronne sal oorweeg word, met omgewings- en veiligheidsbeleide en wetgewing in ag geneem, sê hy.
Verskeie bykomende hindernisse sal nogtans eers uit die weg geruim moet word.
Volgens Hasheela kort Namibië steeds ’n wetlike en regulerende raamwerk; tegniese kenners weens beperkte kernkragvaardighede in die land; protokolle vir die bestuur van kernafval, asook openbare veiligheidsbestuur en ’n onafhanklike owerheid in beheer van kernkrag.
Die nasionale bestraling- en beskermingsowerheid is tans een van 27 direktorate in die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, sê sy.
Verder sal Namibië se nasionale kragnetwerk eers vergroot moet word om so ’n groot invloei van elektrisiteit te kan hanteer. Dit sou egter op onkoste van die aansoeker gedoen moet word, volgens Mutota.
Die land se meestersplan vir die transmissienetwerk maak wel voorsiening vir toekomstige uitbreiding, voeg hy by.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie