Kombat koop toerusting vir ondergrondse myn

Oopgroefbedrywighede genereer kontantvloei
Trigon maak gereed deur sy toerusting en ondergrondse vloot op te bou.
Augetto Graig
Trigon Metals het Maandag aangekondig dat die maatskappy toerusting ter waarde van ongeveer N$170 miljoen vanaf Epiroc in Suid-Afrika bestel het om koper teen April volgende jaar ondergronds te myn.

Die toerusting behels die meerderheid van wat nodig sal wees om produksie vanuit die Asis West-skag te hervat, volgens die Kombat-mynbouer.

’n Aandeelhouer en bekende Namibiese sakeman, Knowledge Katti, het later die middag in die sosiale media geskryf: “Ons het pas sowat N$169 miljoen verseker om voort te gaan en reg te maak vir Kombat se ondergrondse mynbedrywighede vroeg volgende jaar. Dit volg op die vorige goeie nuus waar produksie by die aanleg begin het ná die oopgroefmyn oopgemaak is. Meer werk, meer sukses, meer werksgeleenthede.

“Welgedaan, Span Kombat. Altesaam 525 werknemers en ek vertrou daar sal volgende jaar meer aangestel word.”

Katti het ’n aandeel van 10% in die Kombat-kopermyn deur sy maatskappy, Havana Investments.

In Maandag se vrystelling sê Trigon sy Namibiese filiaal, Trigon Namibia, behartig die aankope, wat reeds goedkeuring vanaf Epiroc se finansieringsafdeling gekry het.

Met die voorafbetaling van 15% sal die balans teen 10,95% se rente per jaar, oor 55 maande, vanaf ses maande na verskeping, afbetaal word.

Die myn sal na verwagting tussen Oktober 2023 en Maart 2024 die toerusting ontvang.

Jed Richardson, die president en uitvoerende hoof van Trigon, het gesê: “Ons is bly om saam met Epiroc te werk en bedank hulle en die spanlede wat onverpoos gewerk het om die finansieringspakket betyds in plek te stel.

“Dit stel ons in staat om ons ondergrondse vloot uit te brei, terwyl ons net begin om kontantvloei uit die oopgroefmyn te genereer.”

Werk aan die produksieaanleg op die myn is volgens skedule afgehandel, voeg Trigon by.

Klipbrekers en meulens is operasioneel, die growwe erts-bakke word gevul en die eerste konsentraat is op Vrydag 18 Augustus 2023 vervaardig, waarvan die besonderhede in ’n volgende vrystelling bekend gemaak sal word, volgens Trigon.

Ongeveer 25 000 ton erts word tans opgegaar, volgens die mynbouer. Kombat se historiese kopermyn moes in die verlede ondergrondse werksaamhede staak weens oorstromings wat deur ondergrondse waterbronne veroorsaak is.

Kombat het vir jare finansieel gely voor Katti dit vir ’n appel en ’n ei gekoop het. Die bestuur van die dorp val amptelik onder die Otjozondjupa-streekraad.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 20° | 32° Oshakati: 22° | 31° Ruacana: 21° | 33° Tsumeb: 21° | 32° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 22° | 32° Gobabis: 19° | 33° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 24° | 34° Mariental: 24° | 36° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 21° | 34° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 25° | 39° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 18° | 23° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 15° | 23° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 17° | 34° Lilongwe: 23° | 34° Maputo: 21° | 29° Windhoek: 22° | 32° Cape Town: 18° | 28° Durban: 20° | 24° Johannesburg: 16° | 25° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 19° | 29° #REF! #REF!