Kombat skik met mynwerkers

Vakbond loof kollektiewe bedinging
Altesaam 533 mynwerkers kry kennisbetaling, skeidingsvergoeding en N$2 500 om mee te verhuis.
Augetto Graig
Die Kombat-kopermyn se bestuur het op 20 Februarie met die 533 mynwerkers – wat onlangs skielik afgedank is – ooreengekom om hul arbeidsgeskil te besleg.

Die ooreenkoms is tussen Trigon Metals se Kombat-myn en die Mynwerkersvakbond van Namibië (MUN) bereik en sodoende is die arbeidsgeskil onder saaknommer CROT 04 – 25 by die kantoor van die arbeidskommissaris, suksesvol afgehandel.

“Hierdie ooreenkoms beklemtoon die kritieke rol van kollektiewe bedinging in die bestuur van uitdagende ekonomiese omstandighede, om billike ondersteuning vir alle partye te verseker,” het MUN se Fillepus Ampweya gesê.

“Deur saam te werk, bevestig die partye die belangrikheid van respekvolle dialoog en gedeelde doelwitte.

“Hierdie vennootskap bewys verder hoe kollektiewe bedinging gapings kan oorbrug, wen-wen-situasies kan skep en die waardigheid en sekuriteit van werknemers in tye van verandering kan handhaaf,” voeg hy by.

Die myn is deur ondergrondse oorstromings lamgelê nadat albei sy waterpompe in Januarie vanjaar onklaar geraak het.

Die ooreenkoms lê klem op die ondersteuning van werknemers deur billike vergoeding.

Elke afgedankte werknemer ontvang een maand se kennisbetaling, tesame met skeidingsvergoeding gelykstaande aan een week se salaris vir elke diensjaar.

Werknemers word verder betaal vir enige bevestigde opgehoopte verlofdae tot 31 Januarie 2025. Daarbenewens sal mediese ondersoeke uitgevoer word, met alle uitgawes wat ten volle deur die werkgewer gedek sal word.

Die myn sal verder verantwoordelik wees om die 2024-’25 se lopendebetaalstelsel (PAYE)-sertifikate aan alle werknemers te verskaf. Enige uitstaande belastingverwante betalings of onbetaalde salarisse sal ook met die kwalifiserende werknemers vereffen word.

In plaas daarvan om vir hervestiging te reël, sal elke geraakte werknemer ’n betaling van N$2 500 ontvang om te help met hul hervestiging na hul onderskeie blyplekke.

Hersiene indiensnemingsertifikate sal uitgereik word om enige onakkuraathede reg te stel, en ’n herroepingslys van afgedankte werknemers sal vir 12 maande vanaf 31 Januarie 2025 bygehou word. Daarmee sal voorkeur gegee word vir herindiensneming, sou die myn heropen.

Enige eise vir beserings aan diens moet aangemeld word en sal op ’n geval-tot-geval-basis getakel word, met ’n ondersoek en assessering deur ’n arbeidsterapeut.

Alle geraakte werknemers sal gedetailleerde betaalstrokies ontvang wat die totale bedrae weerspieël wat ingevolge die bepalings van die ooreenkoms verskuldig is, sê MUN.

Die werkgewer het bevestig dat alle skeidingspakkette voor of op 25 Februarie 2025 betaal sou word, onderhewig aan inkomstebelasting, volgens die vakbond.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-31

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer