Kombat sluit stil-stil
Byna 600 mynwerkers huis toe gestuur
Die Kombat-kopermyn is lamgelê nadat onderbrekings om water uit die ondergrondse myn te pomp tot die oorstroming daarvan gelei het.
Die Kombat-kopermyn maak vandag om 16:00 sy hekke toe, met die opskorting van alle bedrywighede wat na verwagting ten minste vir die volgende nege maande sal duur.
Gister het sowat 580 mynwerkers hul afdankingsbriewe ontvang en is in die pad gesteek.
Dit volg op onderbrekings vroeër vandeesmaand om water uit die ondergrondse myn te pomp wat tot die oorstroming daarvan gelei het.
Hoewel die mynbestuur en Kombat se Kanadese eienaars, Trigon Metals, by navraag nie kommentaar wou lewer of die situasie wou bevestig nie, het Tom Panoulias, Trigon se visepresident van korporatiewe ontwikkeling, vroeër die week gesê ’n verklaring sal in die komende dae aan die media uitgereik word.
Die Mynwerkersvakbond van Namibië (MUN) is nie van die werksverliese in kennis gestel nie, ondanks die feit dat dié vakbond meer as 70 mynwerkers by die myn verteenwoordig.
“Ons veroordeel enige geheime afleggings ten sterkste,” het die vakbond se leier, Filleppus Ampweya, vroeër vandeesweek gesê.
Hy was gister by die myn om die werknemers te ontmoet en met die myn se bestuur te vergader.
“Geen afdankingsproses is gevolg nie. Die werkers het Maandag vir die eerste keer hiervan gehoor. Vandag was amper 200 hier om hul afdankingsbriewe en hul dienssertifikate te kom afhaal.
“Hulle moes daarvoor teken. Die wettige afdankingsproses vereis om vier weke kennis te gee. Die bestuur sê egter daar is nie geld vir bykomende uitgawes nie,” brei hy uit.
“Na ons mening is dit georkestreer,” sê Ampweya.
Hy lê klem daarop dat die maatskappy in die aanloop tot vandag al die werkers op korttermynkontrakte geplaas het, maand tot maand of vir tot drie maande elk.
Daar is dus geen werknemers wat langer as ’n jaar aaneen in diens is nie, want nuwe kontrakte is na bewering elk paar maande onderteken.
Hy glo dat die teenwoordigheidsvorms en om die dienssertifikate af te teken, gebruik sal word om voor te gee dat die werknemers van die afdankings in kennis gestel en daartoe ingestem het.
“Ons het wel daarin geslaag dat die bestuur ooreengekom het om met ons te praat oor die impak van die afleggingspakkette,” het hy gister gesê.
Die mynkommissaris, Isabelle Kandjii-Chirchir, het bevestig dat sy gister die kennisgewing van Trigon oor die sluiting van die myn gesien het.
Die myn se verwerkingsaanleg het ook gister gesluit ter voorbereiding vir opknappingswerk nadat die beskikbare erts verwerk is, volgens bronne.
Slegs 28 werkers sal vir omtrent ’n maand op die perseel agterbly om die instandhouding te behartig.
Die afleggings is vanaf 30 Januarie van krag, en werknemers kan hul laaste vergoeding op 25 Februarie verwag, bereken teen een week se vergoeding vir diegene wat vir minder as ’n jaar daar werk.
Trigon het die onderbrekings op 16 Januarie aangekondig en in dieselfde asem gesê hy beplan steeds om ’n voorheen aangekondigde verkoopstransaksie met Horizon Corporation te voltooi.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie