Die Kombat-kopermyn brei uit. Foto trigonmetals.com
Die Kombat-kopermyn brei uit. Foto trigonmetals.com

Kombat werk en groei sterk

Augetto Graig
Die Kombat-myn spog reeds met sowat 500 werksgeleenthede en met die beplanning vir die res van die jaar in plek en ’n bedrywige 2024, mag dié syfer merkwaardig styg.

Trigon Metals se Kombat-kopermyn vorder goed en die uitvoerende hoof, Jed Richardson, sê: “Ons is besig om te produseer, ons is besig om geld te maak en daar lê nog groei vir ons voor.”

Hy het Dinsdag tydens ’n virtuele vergadering met beleggers en moontlike beleggers van die Kanadese en Duitse genoteerde maatskappy gesê: “Dinge gaan voort en Kombat bly groei.”

Die myn het in Oktobermaand 901 ton koperkonsentraat vervaardig, teen ’n graad van 29,2% koper en 241 gram silwer per ton.

In Oktober kon 28 771 ton deur die meule gaan, met 88% koper wat uit die erts herwin kon word. Verdere voorraad van sowat 22 000 ton (1,2% kopererts) word reeds op die myn gestoor. Dit is gelykstaande aan ’n maand se verbruik.

“In die maand waartydens die aanleg kommersiële produksie bereik het en ons eerste konsentraatverkope gerealiseer het, was konsentraatproduksie bo verwagting. Ons is op dreef om ’n wins uit Oktober se produksiebedrywighede te maak en is baie bly oor die span se pogings en die prestasie van die myn en meule.”

Die verkope is deur die handelaar IXM (ixmetals.com) gesluit teen US$8 000 per ton en word in besendings van 500 ton by die Walvisbaaise hawe gelewer, waarvoor 90% by aflewering betaalbaar is, brei hy uit.

Twee van die besendings is reeds verkoop en gelewer, voeg hy by.

Sonder skuld om af te betaal, hoop inkomste op om vir die ondergrondse uitbreiding te betaal.

Deur ’n ooreenkoms met Trigon se grootste enkel-aandeelhouer, Eric Sprott, aan te gaan, is US$37,5 miljoen ingevorder in ruil vir al die silwer uit Kombat vir die res van die myn se lewensduur.

Richardson sê egter die plan is om hierdie silwerregte weer terug te koop.

Intussen het die myn US$10 miljoen in kontant beskikbaar vir uitbreiding, en met elke konsentraatbesending wat verkoop word, word US$750 000 tot die beskikbare kontant bygevoeg, sê Richardson.

“Wanneer ons ondergronds begin sal ons werksgeleenthede, ons opleiding en ons kragonkoste, veral vir die waterpompe, toeneem. Ons werk nou aan finansiering om hierdie nodige bedryfskapitaal beskikbaar te stel,” brei hy uit.

Hy verwag nie dat Trigon na die aandelebeurs sal terugkeer om die bedryfskapitaal in te samel nie.

“Ons het reeds genoeg om ondergronds te gaan,” sê hy.

Alle mynboubedrywighede vind tans in die oopgroefmyn plaas. Die toerusting vir ondergrondse mynbou word egter reeds voor die einde van Desember verwag. Dit sluit in moderne pompe om ondergrondse water, wat in 2008 oorstromings en die opskorting van mynboubedrywighede veroorsaak het, uit te pomp.

Verdere uitbreiding van die meuleaanleg en om die ondergrondse hulpbron uit te boor, word ook vir die komende maande beplan. Selfs teen vandag se koperprys behoort inkomste voor rente, belasting, waardevermindering en amortisasie teen US$50 miljoen per jaar enige korttermynskuld bekostigbaar te maak, voeg hy by.

Die plaaslike belegger in die Kombat-projek, Knowledge Katti, het reeds met die eerste aankondiging van die begin van kommersiële konsentraatproduksie in Oktober gesê: “Die Kombat-myn is ’n baie belangrike projek vir Namibië, veral vir die kinders van die Kombat-gemeenskap. Trigon sal vir die komende jare volhoubare voordele lewer, insluitend (die) 500 direkte werksgeleenthede wat reeds in plek is.

“Die ondersteunende aandeelhouers werk almal saam as ’n vennootskap om positiewe resultate vir al ons belanghebbers te lewer. Hierdie mylpaal is ’n bewys van die sterkte van ons arbeidsmag van 500 en die samewerking van die plaaslike gemeenskappe,” volgens Katti.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!