EMBRACE TECHNOLOGY: ECB CEO Robert Kahimise
EMBRACE TECHNOLOGY: ECB CEO Robert Kahimise

Kragreguleerder sê oor tariefverhoging

Die nasionale elektrisiteitsreguleerder het NamPower sowel as plaaslike owerhede versoek om tegnologie in te span as 'n instrument vir skuldinvordering.
Yandi Du Plessis
Mathias Haufiku – Die Elektrisiteitsbeheerraad (ECB) is onbeïndruk met die nasionale kragverskaffer, NamPower, se hantering van skuldinvorderingsake – ’n situasie wat daartoe gelei het dat hy meer as N$1 miljard verskuldig is deur wanbetalende kliënte.

In sommige gevalle het wanbetalers se skuld vir meer as 90 dae opgehoop sonder dat NamPower enige drastiese stappe gedoen het.

Die ECB het gesê die kragverskaffer se finansiële nood kan onder meer toegeskryf word aan sy versuim om sy rekeninge te bestuur.

“Die skuldinvorderingsplan moes baie vroeër geïmplementeer word,” het Robert Kahimise, uitvoerende hoof van die ECB, verlede week tydens ’n mediakonferensie gesê.

Die inligtingsessie is belê om die uitkomste van NamPower se aansoek vir ’n tariefverhoging van 16,87% aan te kondig.

NamPower het gehoop die voorgestelde verhoging sou intussen finansiële verligting bring terwyl hy wanbetalende kliënte probeer opspoor. Hy is egter ’n ernstige slag toegedien nadat ECB besluit het om slegs ’n verhoging van 8,97% toe te staan.

Kahimise het verduidelik waarom die reguleerder gekies het om nie NamPower se versoek toe te staan nie, en gesê daar moet balans wees om te verseker dat die goedgekeurde verhoging die kragvoorsiener se volhoubaarheid verseker.

Hy het bygevoeg: “Met die hersiening van die tarief het die ECB verskeie faktore in ag geneem, insluitend die impak van die tariewe op die kragvoorsieningsbedryf, verbruikers en die ekonomie as geheel. Veral die huidige ekonomiese klimaat is in ag geneem. Die ECB is bewus daarvan dat pryse van goedere en dienste toegeneem het, en dit raak verbruikers negatief.

“Ons het vertroue dat die 8,97% NamPower sal help. En as NamPower uitstaande skuld van sy kliënte kan verhaal, nog beter,” het Kahimise gesê.

SKULDINVORDERING

“Ondanks vorige beroepe op kliënte met agterstallige rekeninge, wend min ’n poging aan om hul uitstaande rekeninge te vereffen,” het NamPower verlede week in ’n verklaring gesê.

Hy het twee plaaslike elektrisiteitsverspreiders, ’n streekraad en 19 plaaslike owerhede as van die skuldiges gelys en verder gedreig om beurtkrag te implementeer as skuld nie vereffen word nie.

Kahimise het egter gesê beide NamPower en sy wanbetalende kliënte moet hul skuldinvorderingsvermoë verbeter.

“Verskaffers moet skuldinvorderingstrategieë hê wat van tegnologie gebruik maak. As nutsdienste nie die meerderheid van hul kliënte laat voorafbetaal nie, staar die moontlikheid van groeiende skuld hulle in die gesig,” het hy gesê.

Kahimise het diensverskaffers – insluitend NamPower – versoek om hul debiteure minder as 60 dae te gee.

“Die kenmerke van die verskillende kragverspreiders verskil, soos hul kliëntebasisse. Die profiele van die verspreiders het ’n impak op hoe hulle hul kredietbeheerbeleide bestuur,” het die uitvoerende hoof gesê.

Hy het bygevoeg: “As jy kyk na NamPower se skuldinvordering wat gepubliseer is, sal jy sien dat die meerderheid van daardie plaaslike owerhede meestal in die Noorde en Suide is, met ’n kollektiewe skuld tussen ||Kharas en Hardap wat N$400 miljoen oorskry.”

NUWE MODEL

Kahimise het gesê daar is ’n behoefte om ’n model te skep wat kragverspreiding konsolideer om die beperkings wat NamPower tans in die gesig staar, te vermy.

In ’n poging om hul skuldinvorderingspogings te versterk, het sommige plaaslike owerhede hulle tot derde partye soos skuldinvorderingsagente gewend om geld namens hulle in te vorder.

Die besluit om skuldinvorderaars aan te stel het egter kritiek onder lede van die publiek ontlok, wat van mening is dat plaaslike owerhede nie derde partye moet betrek nie.

Kritici het ook bevraagteken waarom plaaslike owerhede bykomende geld bestee om skuldinvorderaars aan te stel terwyl daar personeel in diens is om te verseker dat die kredietbeleid, wat skuldinvordering insluit, ten volle geïmplementeer word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!