Kragverskaffing aan landelike gebiede is ‘onekonomies’
Voorsiening van elektrisiteit Dinsdag gevier
Rolspelers vergader om landelike toegang tot elektrisiteit te takel.
“Ek sou wou sien dat ons die portefeulje vir elektrisiteit van dié van mynbou ontkoppel. Ons kan dit eerder met nywerheidsontwikkeling soos groenwaterstof koppel. Ons moet ekonomiese nodusse in landelike gebiede vestig, om die produktiewe aanvraag te vermeerder, en van daar af kan ons terugwerk na universele toegang tot elektrisiteit,” het die uitvoerende hoof van die sentrale elektrisiteitsverskaffer Cenored, mnr. Robert Kahimise, gesê.
Kahimise het Dinsdag aan ’n paneelbespreking in Windhoek deelgeneem om Elektrifiseringsdag deur die ministerie van myne en energie, die Elektrisiteitsbeheerraad (ECB) en die drie bestaande streek- elektrisiteitsverskaffers (RED’s) te vier. Die Duitse ontwikkelingsagentskap GIZ se Green People’s Energy-projek het die geleentheid gereël.
Kahimise se voorstel is een benadering wat ʼn oplossing vir ’n ingewikkelde kwessie kan bied.
Die ministerie se uitvoerende direkteur, mnr. Simeon Negumbo, het met syfers die probleem uitgebeeld.
Volgens Negumbo dui inligting tot die ministerie se beskikking dat Namibië se elektrifiseringskoers op 50% staan.
“Dit beteken sowat 300 000 huishoudings het steeds nie elektrisiteit nie,” het die uitvoerende direkteur gesê.
Verder beraam die ministerie dat 70% tot 80% van landelike huishoudings nie aan die sentrale elektrisiteitsnetwerk gekoppel is nie, in vergelyking met sowat 30% van huishoudings in stedelike gebiede, sê hy.
“’n Groot aantal mense het nie die middele om ’n skakelaar te druk en ligte aan te hê sodat hul kinders snags kan studeer nie, of om met moderne stowe te kook nie, of het ’n yskas nie, of ’n haarkapper wat krag nodig het om geld te maak en sy gesin te onderhou,” brei hy uit.
Namibië is ’n groot land met min mense wat die uitbreiding van die netwerk te duur maak en Negumbo erken dat universele toegang tot krag ʼn groot uitdaging is.
Voorleggings deur verteenwoordigers van Nored, Erongo Red en Cenored het gewys dat die voorsiening van krag aan landelike gemeenskappe onekonomies is.
Al die opsies wat oorweeg word, benodig steeds subsidies vanaf die regering om die beperkte vermoë van inwoners om vir krag te betaal, ʼn hupstoot te gee.
Verder is die gebrek aan data vir ingeligte besluitneming blootgelê deur die ECB se voorlegging wat staatmaak op syfers van 2017 wat die Namibiese Statistiekagentskap (NSA) verskaf het.
’n Kenner, mnr. David Jarret van RDJ Consulting, het egter aangedring dat data van uiterste belang is, en volgens hom is daar databronne wat gewillig is om inligting te deel.
Deelnemers vanaf die Universiteit van Toegepaste Wetenskappe in Duitsland, wat in vennootskap met die Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) werk, het ook gesê hulle sal hul data met die ECB deel. Mnr. Lameka Amuanyena van die ECB het gesê hy neem kennis van die aanbod.
Dit was egter Kahimise wat die struikelblokke in die voorsiening van krag aan alle burgers opgesom het.
Afstande, arm gemeenskappe sonder enige produktiewe kragverbruikers, hoë infrastruktuurkoste, en instandhoudings- en diensleweringkoste wat hoër is as wat verbruikers betaal, maak dit amper onmoontlik.
Hy het egter die idee verwerp dat ’n ander instansie eerder as ’n RED dalk beter sal vaar. Hy sê die regering sou so ’n nuwe instansie van vooraf moet finansier. Die RED’s is egter ook beperk in terme van hul eie oorlewing en vermoë om geld te maak.
Dus moet verbruikers vrede daarmee maak dat voorkeur aan gemeenskappe nader aan stede gegee sal word, terwyl landelike kragverskaffing as korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid benader word, sê hy.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie