BW Kudu sê hulle het reeds so 'n boortuig gekoop en dat hulle dit omskep om as 'n platform vir die ontginning van die Kudu gasvelde te gebruik.
Foto SeaDrill
BW Kudu sê hulle het reeds so 'n boortuig gekoop en dat hulle dit omskep om as 'n platform vir die ontginning van die Kudu gasvelde te gebruik. Foto SeaDrill

Kudu-gas weer op die voorgrond

BW Kudu vorder met ontwikkeling
Nuwe hoop bestaan vir die massaprojek, gegrond op die olie-ontdekkings en moontlike samewerking met Suid-Afrika.
Augetto Graig
Namibië sien weer eens kans vir die massiewe ontwikkeling van die 1,3 triljoen kubieke voet van die Kudu-gasvelde langs die suidkus.

Die minister van myne en energie Tom Alweendo het laas week by die Namibië Internasionale Energiekonferensie buite Windhoek gesê die ekonomiese lewensvatbaarheid van die projek het verbeter.

Volgens Alweendo bied onlangse nabye ontdekkings van olie en moontlike samewerking met Suid Afrika nuwe hoop vir die yslike gas-tot-krag ontwikkeling.

Die olie-ontdekkings sluit ook gas in wat dalk saam met die Kudu gasvelde se opbrengs gebruik kan word, terwyl samewerking met Suid-Afrika volgens Alweendo die ekonomiese lewensvatbaarheid van die Kudu-projek baie kan verbeter.

“Daar is hernude positiwiteit oor die lewensvatbaarheid van Kudu,” het Alweendo die internasionale afgevaardigdes teenwoordig by die konferensie ingelig.

Nog ’n spreker by die geleentheid was die aangewese ontwikkelingsmaatskappy BW Kudu se adjunkhoofbestuurder, Manfriedt Muundjua.

KAPASITEIT

Alweendo sê Kudu behels reeds drie produksieputte wat ’n pyplyn na Elizabethbaai met gas voorsien.

Van daar af sou die gas na ’n kragaanleg 35 km buite Lüderitz geneem word, en daarna sou die krag met ’n transmissiekraglyn na NamPower se Obib-aanleg op Rosh Pinah oorgedra word, van waar dit in die nasionale netwerk sal vloei, brei hy uit.

Volgens Muundjua is Kudu volledig geïntegreer vir sukses en word beleggers nou gesoek om die drywende platform, die gaspyplyn, die kragaanleg en die transmissiekraglyne te help finansier. Hiermee word die geleentheid vir private belegging van meer as N$30 miljard geskep, sê hy.

Die pyplyn kan as ’n belegging in infrastruktuur deur openbare instansies gefinansier word, brei hy uit.

Indien die groter kragaanleg-opsie van 800 MW gekies word, kan die Kudu-projek op sigself Namibië se totale kweekhuisgasvrystellings uitskakel, sê hy.

Namibië se afhanklikheid vir kraginvoere sou ook omgekeer word, voeg hy by.

LISENSIE

Terwyl onderhandeling vir pryse met betrek tot kopers vir Kudu se gas voortduur, het BW Kudu in April aansoek gedoen vir ’n opwekkingslisensie, sê Muundjua.

Boonop gaan seismiese opnames in die 5 000 vierkante kilometer eksplorasiegebied voort, met 90% reeds voltooi. Dit sal toelaat dat verdere boorgate vir die vergroting van die bron wel geplaas kan word, sê hy.

Die moontlikheid van ’n bykomende aanleg vir vloeibare aardgas (LNG) by die kragaanleg word ook ondersoek, met sterk aanvanklike belangstelling vanaf mynbou en kliënte wat nie op die nasionale netwerk gekoppel is nie, voeg hy by.

Muundjua sê BW Kudu is deel van die BW-groep wat reeds olie- en gasproduksie in diep waters naby Noorweë en Singapoer behartig, en wat in Gaboen meer as 16 000 vate per dag vervaardig, wat nog vanjaar tot 40 000 vate per dag vergroot sal word.

Met meer as 400 vaartuie tot sy beskik spog BW met alles wat nodig is om van die Kudu-gasprojek ’n werklikheid te maak, sê hy.

In 2022 het die maatskappy ’n ooreenkoms onderteken om die boortuig West Leo vanaf Aquadrill LLC te koop, wat uitgerig word vir gebruik as platform vir Kudu, volgens BW Kudu se webwerf.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!