BW Kudu besig met voorbereidings om volgende jaar met boorwerk by die Kudu-gasvelde te begin.Foto BW Energy
BW Kudu besig met voorbereidings om volgende jaar met boorwerk by die Kudu-gasvelde te begin.Foto BW Energy

Kudu-gasvelde: Boorwerk word beplan

Belanghebbers kan insette tot 18 Oktober lewer
Die boorgate sal na verwagting dieptes van tot 4 500 m onder die seebodem bereik en 100 dae word uiteengesit vir die boor van elke boorgat.
Augetto Graig
BW Energy, die regering se verkose ontwikkelaar vir Namibië se reuse- Kudu-gasvelde, se plaaslike filiaal, BW Kudu, beplan om volgende jaar met boorwerk te begin.

SLR Environmental Consulting is aangestel om die omgewingsklaringsproses te behartig.

Belanghebbendes kan tot 18 Oktober insette oor die plan lewer om vier evalueringsboorgate te boor. Enigiemand met verwante belange of wat voel dat hulle deur die projek geraak sal word, kan registreer en meer inligting is ook op die webwerf www.slrconsulting.com/public-documents/bwkudu-esia beskikbaar.

Afdrukke van die inligting is ook by die Walvisbaai- en Lüderitz-biblioteek beskikbaar.

BW Kudu wil binne Blok 2814A boor, binne die Kudu 3-produksie-lisensiegebied PPL003, wat sowat 150 km suidwes van Lüderitz en sowat 144 km wes van Oranjemund geleë is.

Die gasvelde is binne die Oranjekom geleë, waar olie oor die afgelope paar jaar ontdek is, en daar gretig op uitslae van evalueringsboorgate van reuse-oliemaatskappye gewag word.

BW Kudu het voorheen ’n 3D-seismiese opname in PPL003 in 2023 verkry, wat steeds geïnterpreteer word.

Die West Leo, ’n boorvaartuig wat net onder die wateroppervlakte dryf (semi-submersible), word in ’n drywende produksiefasiliteit omskep, om as ’n vloeistofverwerkingsaanleg te dien. Konsepstudie vir die verwagte produksiestelsel word tans voltooi en die ontwikkelingsfasiliteite se konseptuele studieverslag word steeds verwerk.

’n Hoëvlak-omgewings- en maatskaplike siftingstudie (ESS) ten opsigte van die voorgestelde Kudu-gas-tot-kragprojek is ook reeds voltooi.

Daar word eerstens beplan om in waterdieptes tussen 150 m en 750 m en oor ’n tydperk van tot ses weke, monsters vanaf die seebodem te versamel. Daarna sal die eerste twee van vier boorgate na verwagting in die derde kwartaal van 2025 geboor word, met die tweede stel gedurende die volgende jaar.

Die boorgate sal na verwagting dieptes van tot 4 500 m onder die seebodem bereik en 100 dae word uiteengesit vir die boor van elke boorgat.

Afgesien van die betrokke boortuig of boorskip, sal drie ondersteuningsvaartuie ook betrokke wees.

’n Logistieke basis word vir óf Walvisbaai óf Lüderitz beplan, en helikopterondersteuning sal vanaf Lüderitz of Oranjemund verskaf word.

Met inagneming van die betrokke omgewingsimpak, sal die beperkte veiligheidsgebied rondom die boor, van 500 m of meer, gedeeltelik oorvleuel met ’n mariene voëlgebied en ’n skeepsroete.

’n Studie oor die impak van spesifieke visvangbedrywighede word ook vir die projek beplan.

BW Kudu en SLR het reeds op 22 Augustus met die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme oor die plan vergader.

Openbare vergaderings vind op 8 Oktober om 11:00 by die Nest Hotel op Lüderitz plaas, en op 9 Oktober vanaf 12:00 by die Protea Indongo Hotel op Walvisbaai.

Namcor, die nasionale oliemaatskappy, het ook 'n aandeel van 5% in die ontwikkeling van die Kudu-gasvelde, terwyl BW Kudu die oorblywende 95% besit.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!