Litium: Wêreldleiers raak betrokke by Uis
Vennootskap met SQM gesluit
Andrada Mining glo sy nuwe vennootskap met die litiumreus SQM sal eksplorasie versnel.
Uis se Andrada Mining Limited het gister bekend gemaak dat die maatskappy ’n vennootskap met een van die wêreldleiers in die litiumbedryf gesluit het.
Die vennootskap is met Sociedad Química y Minera de Chile SA (SQM) gesluit en die ooreenkoms bevat drie fases waardeur SQM 'n steeds groter aandeel in die ontwikkeling van die Lithium Ridge se litiumafsetting op mynlisensie ML133 kan verdien.
“Om ’n groot rolspeler in die globale litiummark te word, sal Namibië ook aan die voorpunt van die ontwikkelingstrajek van litium in Afrika plaas en waarde vir die Namibiese mynbedryf ontsluit,” sê Anthony Viljoen, Andrada se uitvoerende hoof.
Volgens Mark Fones, SQM se uitvoerende hoof vir sy internasionale litiumafdeling, is die Chileense litiumreus tevrede om eksplorasiewerk saam met ’n bewese vennoot soos Andrada Mining te begin.
“Ons is opgewonde om die afhandeling van hierdie ooreenkoms aan te kondig, wat ons verbintenis ten toon stel om die beste litiumbates ter wêreld te vind en wat ons portefeulje doeltreffend diversifiseer.
“Namibië is onder die top-mynboujurisdiksies in die streek,” het hy gesê.
In Augustus het Andrada die oorblywende 15% aandeelhouding in die Uis Tin Mining Company Limited (UTMC) van die Small Miners of Uis (SMU) verkry en met hierdie jongste ooreenkoms sal UTMC ’n nuwe filiaal Grace Simba Investments (GSI) stig om die regte tot die Lithium Ridge te behou.
Volgens Andrada bring die SQM-ooreenkoms die nodige finansiële en tegniese vermoë om die afsetting behoorlik te verken en te ontwikkel. SQM moet volgens die ooreenkoms vir die nodige eksplorasie en op ’n latere stadium vir ’n uitvoerbaarheidstudie betaal.
Met die ondertekening van die ooreenkoms, het SQM US$500 000 (byna N$9 miljoen) aan Andrada betaal, met nog US$1,5 miljoen wat betaalbaar word wanneer daar aan sekere vereistes voldoen word. Verder kan SQM US$20 miljoen oor drie en ’n half jaar belê om 40% van GSI te bekom en met finansiering van die uitvoerbaarheidsudie sal SQM ook 50% van die ontwikkeling verdien.
As Andrada kan bewys dat die afsetting meer as 40 miljoen ton litiumerts bevat, sal SQM nog ’n eenmalige bedrag betaal, gebaseer op die persentasie litium in die erts.
‘DIE IDEALE VENNOOT’
Volgens Viljoen help die vennootskap om Andrada te vestig as ’n polimetaalontginner en mynbouer met veelvuldige bates.
“Ons is ongelooflik bly om ons vennootskap met SQM aan te kondig en om deel te wees van die eerste Afrika-vennootskap wat SQM aanpak. Hierdie vennootskap bevorder ons geloof in die Lithium Ridge-bate as ’n potensiële wêreldklas hulpbron,” sê hy.
Volgens hom verhoog die vennootskap ook die waarde van Andrada se totale bate-portefeulje.
“SQM is die ideale vennoot om die volle potensiaal van Lithium Ridge te ontsluit, terwyl dit die voortgesette ontwikkeling van Uis deur ons bestaande finansieringsverhoudings moontlik maak.
“Die SQM-vennootskap strook perfek met ons strategiese doelwitte, wat ons in staat stel om ons litiumbate te ontwikkel en om eksplorasie-inisiatiewe te versnel,” sê Viljoen.
Lithium Ridge strek oor sowat 3 300 hektaar en is sowat 35 km vanaf Andrada se bestaande myn op Uis geleë. Daar is reeds ’n 6 km-gebied van hoëgraad-litium ontdek. Die ooreenkoms is egter steeds onderhewig aan die Namibiese Mededingingskommissie se goedkeuring.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie