Namcor se waarnemende menslike kapitaal uitvoerende beampte Ramona Itembu sê Namibiërs met beroepsopleiding sal meer en meer geleenthede in die olie nywerheid vind.
Foto Namcor
Namcor se waarnemende menslike kapitaal uitvoerende beampte Ramona Itembu sê Namibiërs met beroepsopleiding sal meer en meer geleenthede in die olie nywerheid vind. Foto Namcor

Maak gereed vir oliewerk

Augetto Graig
Die staat se oliemaatskappy het onlangs twee aande by die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) gereël vir ’n konferensie en reeks voorleggings met die tema “Die wedloop na die eerste olie”.

Namcor se waarnemende uitvoerende hoof vir menslike kapitaal, Ramona Itembu, het onder meer uitgebrei oor die spesifieke vaardighede waarna die plaaslike oliebedryf tans op soek is en in die toekoms mag nodig hê.

Dit volg nadat ’n reeks olie-ontdekkings verlede jaar en vroeg vanjaar langs die suidkus van Namibië gemaak is.

Die internasionale oliereuse Shell en TotalEnergies is beide tans besig om te bepaal of hulle onderskeie ontdekkings kommersieel vatbaar is.

Itembu sê kundiges wat in dié stadium benodig word, is geowetenskaplikes, geofisici, booringenieurs, petrofisici, produksie-ingenieurs, reservoir-ingenieurs en petroleum-ekonome.

Die volgende fase in die ontwikkeling van olieproduksie in Namibië sal die ontwerp van aanlegkonsepte en lewensvatbaarheidstudies behels. Dit in aanloop tot die ingenieurs-, verkrygings- en boufase.

Vir die volgende fase sal dié ontluikende nywerheid van onder meer ingenieurs wat onderwater werk tot kommersiële prokureurs en belastingspesialiste benodig.

Tydens die boufase en daarna sal van pyplyn-ingenieurs tot nywerheidskenners om tenders op te stel benodig word, asook spesialiste in onder meer verkryging, gesondheid, veiligheid en die omgewing, volgens Itembu.

Gedurende die ingenieurswese, verkrygings-, bou- en installasiefase sal daar ook sweisers en ketelmakers benodig word, saam met logistieke spesialiste, instrumentasie en beheer-ingenieurs, asook elektriese en meganiese ingenieurs.

Geoloë, onderhoudsingenieurs en aanlegoperateurs sal by hierdie groeiende werksmag moet aansluit teen die tyd dat olieproduksie in Namibië amptelik afskop, voeg sy by.

Met die verwagte groei van die bedryf sal Namibiërs met beroepsopleiding meer en meer geleenthede in die oliebedryf vind, volgens Itembu.

Behalwe vir beroepsvaardighede sal werknemers teen dié tyd ook bewyse moet kan lewer dat hulle op die see kan werk en oorleef, en dat hulle aan organisasies behoort wat soortgelyke vaardighede sertifiseer en maklik vir werkgewers beskikbaar maak.

Studente word aangemoedig om die Petrofund te nader om meer oor geleenthede vir finansiering uit te vind. Oliemaatskappye dra by tot die fonds wat beurse vir minderbevoorregte hoërskoolleerlinge, plaaslike voorgraadse studente, nagraadse studente – plaaslik en in die buiteland, en ook internskapplasing vir graduandi bied.

Verder raai sy aan dat belangstellendes die nuus, maatskappye se webwerwe, die sosialemediaplatforms van rolspelers in die bedryf en ander bronne van die nuutste olie-ontwikkelinge in Namibië noukeurig volg.

“Identifiseer kapasiteitsbou-geleenthede vanaf onder meer Petrofund of die ministerie van myne en energie. Doen navorsing oor loopbaangeleenthede en bring jou studies in lyn om in die olie- en gassektor te spesialiseer. Bly op hoogte van die nuutste ontwikkelinge. Doen navorsing, en daarna nóg navorsing,” is haar raad.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!