• Tuisblad
  • ENERGIE
  • Moontlikheid van olie-eksplorasie by Omuthiya onder loep
Samesprekings is tans aan die gang oor moontlike olie- en gaseksplorasie in Oshikotostreek. Foto argief
Samesprekings is tans aan die gang oor moontlike olie- en gaseksplorasie in Oshikotostreek. Foto argief

Moontlikheid van olie-eksplorasie by Omuthiya onder loep

Britse maatskappy besig met konsultasies
Streek- en tradisionele leiers, private konsultante en belanghebbendes in die mynboubedryf het op Omuthiya vergader oor voorgestelde 2D-seismiese opnames vir moontlike olie- en gaseksplorasie in die Oshikotostreek.
Tunohole Mungoba
Monitor Exploration Limited (MEL), ’n olie- en gasmaatskappy wat in die Verenigde Koninkryk gebaseer is, soek tans regte vir eksplorasie in drie gebiede in die Oshikotostreek wat hoofsaaklik onder die Guinas-, Nehale LyaMpingana- en Eengondi-tradisionele owerhede val.

Vir die eerste gesprekke hieroor het streek- en tradisionele leiers, private konsultante en belanghebbendes in die mynboubedryf op Omuthiya vergader oor voorgestelde olie- en gaseksplorasie, aangesien die maatskappy van plan is om gemeenskapslede ook te betrek.

’n Aantal faktore is by die vergadering aangeroer, insluitend die agtergrond van olie- en gasoorsprong en die eksplorasieproses; uiteensetting van die voorgestelde petroleumeksplorasie (2D-seismiese opname), die natuurlike ontvangsomgewing rondom voorgestelde opnamelyne en die bepaling van positiewe en negatiewe omgewingsimpakte.

Monitor Exploration het dr. Sindila Mwiya en sy span van Risk Based Solutions as onafhanklike konsultante aangestel om omgewingsklaringsertifikate vir die voorgestelde aktiwiteite te bekom – soos deur die nasionale wetgewing vereis word.

Mwiya sê: “Een van vele sertifikate wat ons vir MEL moet bekom, is die permit vir die voorgestelde 2D-seismiese opname, soos die regulasies van die ministerie van myne en energie vereis. Dis hoekom ons hierdie vergaderings hou, om te verseker dat ons en die streekraadslede, tradisionele owerhede en gemeenskapsverteenwoordigers saamstem oor veldgebaseerde dorps- en gemeenskapsvergaderings.

“Die 2D-seismiese opnames is die proses om ’n ondergrondse gebied te karteer om die plek te vind wat geskik is vir boorwerk. Dit behels draadlose ontvangers wat die grond tref en dan golwe uitstuur wat die geskikte gebiede aandui,” het hy gesê.

Volgens die voorlegging wat Mwiya en sy span voorberei het, sal die proses om die seismiese opnames uit te voer vele voordele inhou, waaronder kontraktuele werksgeleenthede van drie tot vier maande vir die plaaslike gemeenskappe; ’n gemiddelde jaarlikse betaling van N$2 miljoen aan die Namibiese regering vir lisensiehuurgelde en jaarlikse bydraes van US$50 000 tot die Petroleum Opleiding- en Onderwysfonds (Petrofund).

Hierbenewens sal die data wat deur die seismiese opnames gegenereer word, insig gee in die soeke na minerale hulpbronne, watereksplorasie, geotermiese eksplorasie en algemene geowetenskaplike navorsing en ontwikkeling.

Mnr. Penda Ya Ndakolo, goewerneur van die Oshikotostreek, het sy raadslede egter dringend versoek om ook die risikofaktore verbonde aan die proses te oorweeg.

“Hoewel hierdie werkskepping en ekonomiese transformasie in die streek sal meebring, is dit belangrik om ook daarop te let dat koolwaterstof-bedrywighede riskant en uiters duur is.

“Dit het die potensiaal om die omgewing van ons wonderlike streek te verwoes as dit nie behoorlik oorweeg en beplan word nie.

“Daarom is hierdie konsultasie baie belangrik vir die inwoners van die streek, aangesien die voorgestelde opname langs ons gemeenskap se heinings, paaie en mahanguvelde uitgevoer sal word, sodat hulle van elke detail van die beoogde projekte bewus is,” het hy gesê.

Hy het ’n dringende beroep op MEL en die konsultante gedoen om die streek en al sy inwoners op hoogte te hou van hul vordering en hoe hul hulpbronne die beste benut kan word sonder om skade aan die omgewing aan te rig.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-31

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer