NaCC keur ooreenkoms tussen Andrada, SQM goed

Nuwe litium-eksplorasie kry hupstoot van miljoene
Uis se voorste litiummynbouer sluit ooreenkoms met wêreld- litiumleier.
Augetto Graig
Die Namibiese Mededingingskommissie (NaCC) het op Dinsdag 15 April sy besluit aangekondig om die transaksie tussen die Uis-tin- en litiummynbouer Andrada Mining en SQM goed te keur.

NaCC het die transaksie onvoorwaardelik vir SQM goedgekeur om ’n 50%-belang in Grace Simba Investments (GSI) te bekom, en het sodoende toegang tot litiumneerslae in die Lithium Ridge-mynlisensie ML133 toegestaan.

“Die voorgestelde transaksie is onvoorwaardelik goedgekeur,” lui NaCC se verklaring.

Andrada is verheug oor die ooreenkoms met die Australiese filiaal van Sociedad Química y Minera de Chile SA, beter bekend as SQM, een van die wêreld se voorste litiumprodusente- en verwerkersmaatskappye.

Volgens die plaaslike mynbouer is ’n gesamentlike ontwikkelingskomitee tussen die twee maatskappye vir die verdere ontwikkeling van GSI se Lithium Ridge reeds van stapel gestuur, terwyl US$1,5 miljoen aan Andrada oorbetaal word.

Verder sal SQM Australië nog US$7 miljoen belê om oor die komende agtien maande, in die ooreenkoms se eerste fase, 30%-belang in GSI te verdien.

“Ons is verheug om die Mededingingskommissie se goedkeuring vir die ooreenkoms met SQM te ontvang.

“Hierdie goedkeuring is die finale komponent wat nodig is vir ons om ’n transformerende vennootskap met een van die wêreld se grootste vervaardigers van litiumchemikalieë ten volle bekend te stel.

“Die ooreenkoms sal ons litium-tot-mark-strategie aansienlik versnel,” het Andrada se uitvoerende hoof, Anthony Viljoen, gesê.



OPWINDENDE VERWIKKELING

Volgens hom is dit ’n opwindende verwikkeling vir beide Andrada en Namibië.

“SQM se direkte buitelandse belegging van tot US$40 miljoen sal nie net die ontwikkeling van Lithium Ridge versnel nie, maar sal ook sosioëkonomiese groei in die Erongostreek aandryf.

“Hierdie strategiese vennootskap sal direkte en indirekte werksgeleenthede skep, plaaslike vaardighede ontwikkel en plaaslike verkryging van goedere en dienste versterk,” sê Viljoen.

Die eerste fase van die ooreenkoms sluit ’n uitgebreide boorveldtog oor die lisensiegebied in.

Hy sê die transaksie merk “ongetwyfeld ’n deurslaggewende oomblik in die maatskappy se trajek om ’n toonaangewende Afrika-produsent van kritieke grondstowwe te word”.

Hy voeg by dat Andrada se eksplorasiespan ten volle voorberei is om die eerste fase van die ooreenkoms spoedig uit te voer.

Mark Fones, die uitvoerende hoof, het namens SQM se internasionale litiumafdeling gesê hulle is gereed om met eksplorasie by Lithium Ridge te begin.

“Hierdie mylpaal is ’n sleutelstap in die uitbreiding van ons litiumbateportefeulje, wat ons verbintenis tot die wêreldwye energie-oorgang versterk,” sê hy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer