Namcor, Mulunga bespreek glo uittreepakket

Sedert April 2023 geskors
Die geheime besprekings fokus nou glo op die bedrag wat Mulunga sal ontvang om sy pos te verlaat.
Yandi Du Plessis
Ogone Tlhage - Die nasionale oliemaatskappy Namcor, wat hom in ’n benarde finansiële situasie bevind, is glo in geheime samesprekings gewikkel om die diens van sy geskorste besturende direkteur, Immanuel Mulunga, te beëindig.

Dit volgens bronne in die maatskappy, wat beweer partye is naby daaraan om ’n ooreenkoms te bereik, met besprekings wat nou fokus die bedrag wat Mulunga sal ontvang om sy pos te verlaat.

Namcor het die afgelope paar maande om al die verkeerde redes die hoofopskrifte gehaal, hoofsaaklik weens Mulunga se skorsing wat gevolg het op bewerings dat hy die betaling van N$100 miljoen vir ’n olieblok in Angola goedgekeur het, ’n aksie wat hy uitgevoer het sonder die goedkeuring van sy seniors.

PAD VORENTOE

Mulunga is sedert April 2023 geskors.

Die maatskappy gaan ook gebuk onder skuld, ’n situasie wat sy voortbestaan bedreig.

Maatskappy-binnestanders het aangedui dat prokureurs wat beide partye verteenwoordig tans ’n pad vorentoe bespreek om ’n uittreepakket vir Mulunga te finaliseer.

“Die prokureurs is in gesprek met mekaar. [Die] direksie wag op Namcor se prokureurs om op hoogte gebring te word van daardie onderhandelinge,” het ingeligte bronne gesê.

Beide Mulunga en Namcor se direksievoorsitter, Jennifer Comalie, het gesê hulle het geen inligting oor die onderhandelinge nie.

‘ONBEWUS’

Comalie wou egter nie die nuus van Mulunga se beplande skeidingspakket ontken of bevestig nie en sê dit is ’n interne proses.

“Die maatskappy respekteer privaatheid en vertroulikheid in sulke aangeleenthede, en ongelukkig kan ek nie tans enige besonderhede van die proses bekend maak nie,” het Comalie gesê.

Mulunga het op sy beurt gesê hy is onbewus van enige planne deur die maatskappy om vir hom ’n uittreepakket aan te bied.

“Ek is nie bewus van so iets nie. Ek is nie ingelig nie. Miskien wil hulle vir my iets aanbied,” het Mulunga gesê.

Ipumbu Shiimi, die minister van finansies en staatsondernemings, het gesê hy is nie bewus van pogings deur Namcor om met Mulunga te skik nie.

SKORSING UITGEDAAG

Mulunga het in Mei deur sy prokureur, Jermaine Muchali, ’n eis vir sy heraanstelling as Namcor se besturende direkteur gestel.

“Voordat enige skorsing deur die direksie van ’n staatsonderneming onderneem kan word, moet die direksie die minister verantwoordelik vir staatsondernemings en die portefeuljeminister raadpleeg. Indien daar geldige gronde is vir skorsing van ’n uitvoerende hoof, besturende direkteur of senior bestuurder van ’n staatsonderneming, moet die minister van staatsondernemings en die portefeuljeminister die direksie van die staatsonderneming skriftelik van die uitslag in kennis stel,” het Mulunga in regskorrespondensies gesê.

Mulunga het ook sy skorsing by Namcor betwis omdat dit glo nie in beginsel gegrond is nie.

“Die beweerde gronde van skorsing is nie groot oortredings nie, aangesien dit geen elemente van oneerlikheid, geen elemente van benadeling van Namcor, geen elemente van risiko vir die lewens van werknemers, en geen elemente van verontagsaming of belemmering van die interne ondersoeke by Namcor het nie – kwessies wat skorsing volgens Namcor se indiensnemingsbeleid regverdig,” het hy gesê.

Die Kabinet het in Augustus 2015 Mulunga se aanstelling as Namcor besturende direkteur ondersteun. Voor dit was hy die petroleumkommissaris.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!