Namibië raak spilpunt vir brandstofverspreiding

Augetto Graig
Namibië se rol as uitvoerder en verskaffer van brandstof aan sy plattelandse bure in die Suider-Afrikaanse streek neem toe.

Dit volgens Adell Samuelson, die algemene bestuurder van Puma Energy Namibia.

Dié stroomaf-verspreider van brandstofprodukte het onlangse navorsing aangehaal wat deur navorsers Citac uitgevoer is, wat byvoorbeeld aandui dat Botswana se brandstofinvoer deur Namibië teen 2040 met 152% sal toeneem. Brandstof vir die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK), dele van Suid-Afrika en Zambië word ook deur Namibië verskaf.

Die verwagting is dat Zambië se vraag ook sal groei. Die Namibiese regering en die regering van Zambië het reeds in 2022 ’n Memorandum van Verstandhouding (MoU) onderteken vir die bou van ’n brandstofpypleiding tussen dié twee lande. Volgens die Citac se navorsing sou hierdie pypleiding tot 120 000 vate brandstof per dag vervoer.

Die navorsers stel voor dat Namibië ook korter plaaslike pypleidings vanaf Walvisbaai oorweeg om Windhoek en Lüderitz van brandstof te voorsien.

Om Botswana egter beter van Walvisbaai af te voorsien, is die beste opsie die verlenging van die verbindingspoorlyn, en ook die verbetering van TransNamib se vermoë om brandstof daarheen te vervoer.

Volgens die navorsers sal die vraag na die vervoer van brandstof per spoor na verwagting met 65% teen 2040 groei.

Daarvoor is reeds N$2,6 miljard vir die verlenging van die Trans-Kalahari-spoorwegprojek verseker en ten minste 12 internasionale maatskappye toon belangstelling om deel van die projek te wees, waarvan drie van Namibië en Botswana is, volgens Citac se navorsing.

Die huidige tendens is egter dat al hoe meer brandstof per vragmotor op Namibië se paaie vervoer word.

In 2022 het sowat 28 000 vragte per vragmotor Walvisbaai verlaat, om ’n totaal van 20 miljoen kilometer af te lê, meestal binne Namibië se grense, dui die navorsing aan. Teen 2040 sal vragmotors wat brandstof vervoer na verwagting tot 40 000 toeneem.

Een rede is omdat TransNamib tans net tot by Ondangwa, Otjiwarongo, Tsumeb en Windhoek brandstof kan lewer.

TransNamib se woordvoerder, Abigail Raubenheimer, het vroeër vandeesweek gesê: “Ja, tans verskaf TransNamib hoofsaaklik brandstof aan Windhoek en die noordelike streke. Met die onlangse lening van DBSA en DBN (ontwikkelingsbanke van suidelike Afrika en Namibië) en die beplande verkryging van 20 tot 25 nuwe lokomotiewe, tesame met die hervervaardiging en opknapping van bestaandes, is ons vol vertroue dat brandstofmaatskappye nasionale ontwikkelingsdoelwitte sal ondersteun deur brandstofvervoer per spoor te verhoog.”

Sy wys daarop dat spoorvervoer beter is, aangesien een vol trein tot 30 brandstofvragmotors op Namibië se paaie kan vervang, en bied ook veiligheids- en logistieke voordele.

TransNamib wil brandstof na meer binnelandse bergingsgeriewe vervoer, maar die plan word deur verskeie kwessies gekniehalter.

“Die spoorlyn vir Engen/Puma benodig sekere veiligheidsverwante opgraderings, wat voltooi moet word sodat TransNamib weer brandstof aan Keetmanshoop kan verskaf, terwyl Karasburg, Mariental, Okahandja en Otavi onvoldoende bergingsgeriewe het.

“TransNamib word ook negatief geraak deur toestande van ons nasionale spoorinfrastruktuur. Byvoorbeeld, die Windhoek-Gobabis-roete is tans nie veilig vir spoorbedrywighede nie, weens die toestand van die spoorlyn, wat die regering beplan om op te gradeer,” brei sy uit.

TransNamib het op die oomblik 220 brandstofwaens in werkende toestand, met planne om meer te koop.

TransNamib vervoer maandeliks sowat 22,1 miljoen kiloliter brandstof, gelykstaande aan 18 000 ton, vanaf Walvisbaai, wat tot 30% van dié staatsonderneming se inkomste genereer. Dit is egter slegs sowat 12% van die totale brandstof wat maandeliks die hawe verlaat.

Die res word per pad vervoer en vervoerkoste vanaf die punte waar die spoorvervoer behoort te eindig, word uit ’n heffing op brandstofpryse aan verspreiders betaal.

Dié toelaag is in Julie met 15% verhoog, maar volgens Samuelson is dit steeds nie voldoende nie.

Verspreidingsmaatskappye kry die vergoeding wat TransNamib sou geniet as die staatsonderneming sy deel van die roetes kon dek, maar die tarief hiervoor is minder as die uitgawes wat per pad aangegaan word.

Samuelson sê egter die ministerie van myne en energie het Maandag met oliemaatskappye en verspreiders vergader en werk aan ’n oplossing.

Intussen verseker sy dat Puma toegewy is aan die verskaffing van brandstof aan sy vulstasies landswyd, en dat plaaslike aanbod nie deur Puma prysgegee sal word nie, al is uitvoer meer winsgewend.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!