BENEFITS ACCRUING: Finance minister Ipumbu Shiimi says Namibia stands to benefit massively from its oil and gas resources.
BENEFITS ACCRUING: Finance minister Ipumbu Shiimi says Namibia stands to benefit massively from its oil and gas resources.

Namibië sal glo meerderheid van olie-inkomste geniet

Toivo Ndjembela,Ogone Tlhage
Toivo Ndjembela en Ogone Tlhage – Namibië sal die grootste deel van sy oliebronne geniet hoofsaaklik weens die wet op petroleum wat daarvoor voorsiening gemaak het, meen die minister van finansies en staatsondernemings, Iipumbu Shiimi.

Volgens Shiimi sal Namibië tot 65% van die olie-opbrengs wat gegenereer word verdien en internasionale oliemaatskappye (IOC's), soos onder meer Shell, TotalEnergies en Galp, sal glo tot 35%-opbrengs op hul beleggings maak.

Dit is ten spyte van Namibië se vrydraende rente (free-carried interest) in die Graff-1-, Venus X-1- en Mopane-boorgate deur die Nasionale Petroleumkorporasie van Namibië (Namcor).

“As jy kyk na die wet op petroleumbelasting en ander wetgewing wat hierdie hulpbronne gaan bestuur, glo ons Namibië gaan die grootste deel van die koek kry. Om die waarheid te sê, ons dink op die oomblik sal 65% van die koek in Namibië bly, dus sal beleggers 35% kry,” het Shiimi gesê.

BELASTINGWETGEWING VERDUIDELIK

Ingevolge Namibië se huidige belastingwetgewing met betrekking tot petroleumbronne, word tantième bereken as 5% van die bruto inkomste.

Tantième is gewoonlik kwartaalliks betaalbaar en word bereken deur die markwaarde van die ruolie te gebruik.

Daarbenewens word petroleuminkomstebelasting gehef teen 35% van belasbare inkomste en ’n bykomende winsbelasting wat gehef word op die netto kontantvloei uit petroleumbedrywighede ná belasting, het die ouditeursfirma PWC Namibia in ’n olie- en belastinggids verduidelik.

“Daar word van lisensiehouers verwag om jaarlikse heffings ten bate van die fonds vir staatsinkomste te betaal. Dit word bereken deur die aantal vierkante kilometer wat in die blok of blokke ingesluit is, te vermenigvuldig met die bedrae waarvoor in Artikel 67 van die Petroleumwet voorsiening gemaak word.

“In die geval van eksplorasielisensies word die heffing soos volg bereken: gedurende die eerste vier jaar, N$60 per vierkante kilometer; gedurende die volgende twee jaar, N$90 per vierkante kilometer; gedurende die daaropvolgende twee jaar, N$120 per vierkante kilometer; daarna, N$150 per vierkante kilometer. In die geval van die produksielisensies is die heffing N$1 500 per vierkante kilometer,” het PWC gesê.

NAMIBIëRS DEEL OOK IN OPBRENGS

Shiimi het beklemtoon hoewel die regering aansienlike olie-inkomste in die vorm van belasting en tantième sal verdien, gewone Namibiërs ook direk in die opbrengs kan deel.

“Dit hang ook af van hoe ons die vaardighede gaan opbou, want om as Namibiërs deel te kan neem moet ons meer Namibiërs op die olieplatforms sien. Die inkomste gaan dus ook direk na individuele Namibiërs,” het hy gesê.

Die internasionale energiekonsultantfirma, Wood Mackenzie, raam dat Namibië se onlangse olie-ontdekkings in die Oranjekom ongeveer US$3,5 miljard se beleggings verteenwoordig, sowat N$527,8 miljard teen die heersende wisselkoers, en US$3,5 miljard (N$63,7 miljard) se inkomste uit belasting en tantième jaarliks ​​vir die regering sal genereer,

Wood Mackenzie het vroeër vanjaar egter gemaan dat die ontginning van olie en gas in die Oranjekom waarskynlik met uitdagings gepaard sal gaan omdat die bronne so diep is.

Nie een van die internasionale oliereuse wat betrokke is by aflandige eksplorasie aan die kus van Namibië het reeds besluit dat hul ontdekkings kommersieel ontginbaar is nie.

PDM LEWER KRITIEK

Die leier van die Popular Democratic Movement (PDM), McHenry Venaani, het in die verlede sy streng teenkanting teen Namibië se belangstelling in ontdekte olie- en gasbronne uitgespreek.

“Dit is as sodanig ’n groot kommer dat ’n eksplorasieblok wat in die buiteland van Namibië geleë is, in blok 2913B waarin TotalEnergies se Venus-1X-boorgat ’n 40%-werkbelang, saam met QatarEnergy (30%) , Impact Oil and Gas (20%) geniet en die regering met ’n skamele 10%-belang laat,” het Venaani betreur.

Hy meen sulke onderhandelinge is ’n voorbeeld van die regering “wat in swak geloof onderhandel het”.

Venaani het verder beklemtoon dat verkeerd gestruktureerde olie-eksplorasie-ooreenkomste verreikende gevolge het, en bygevoeg dat sulke onetiese praktyke selfs groter geword het in die mate dat dit dreig om ontwikkeling en groei binne die land en die vasteland te belemmer.

“Korrupsie heers in Namibië en as ons ooreenkomste sluit wat nie gunstig is vir die ontwikkelingsdoelwitte van die land nie, sal ons oliebronne nie Namibiërs bevoordeel nie,” het Venaani gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer