LET'S ENGAGE: Russian miner Uranium One says it is keen to continue discussions regarding proposed mining in the Kalahari, despite resistance to the project. PHOTO: CONTRIBUTED
LET'S ENGAGE: Russian miner Uranium One says it is keen to continue discussions regarding proposed mining in the Kalahari, despite resistance to the project. PHOTO: CONTRIBUTED

Nóg kommer uitgespreek oor uraanmyn by Stampriet

Headspring sê data sal verskaf word
Headspring Investment sê dat besluite geneem sal word op grond van wetenskaplike feite en nie irrasionele vrese en ongegronde gerugte nie.
Kristien Kruger
Nadat kenners kommer uitgespreek het oor die tekortkominge van die omgewingsimpakstudie wat ingesluit is in die aansoek om ’n omgewingsklaringsertifikaat vir toetsmynbou vir die voorgestelde in situ-loging uraanmyn in die Stampriet-oorgrensakwiferstelsel, het Headspring Investments (HSI) met die sieninge saamgestem en verseker dat die nodige data verskaf sal word.

Dit kom nadat die Vereniging vir Uraanmynbou in die Stampriet-akwifer (Sauma) se klagskrif meer as 5 200 keer onderteken is. Die klagskrif poog om die Stampriet-akwifer te beskerm en die uraaneksplorasie en -ontginning in dié varswaterhulpbron teen te staan.

Op sy webtuiste beweer Sauma dat hy dié klagskrif aan die regering sal voorlê en die volgende stap in hierdie proses sal begin.

HSI hou tans agt aktiewe eksklusiewe eksplorasielisensies (EPL’s) en agt aktiewe omgewingsklaringsertifikate (ECC’s) vir die EPL’s.

KENNERS

Dr. Malcolm Siegel en Amie Legget van die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco), meen dat meer inligting, naamlik hidrogeologiese en hidrogeochemiese data nodig is om ’n kundige besluit te kan neem rakende die uraanmynprojek.

Volgens ’n verklaring het die kenners se kommentaar aan die lig gekom tydens ’n hoëvlakvergadering van Unesco en die ministerie van landbou, water en grondhervorming met belanghebbendes, rolspelers en besluitnemers by Lapa Lange naby Mariental op 17 Junie.

Volgens die verklaring stem HSI ten volle saam met die sienings van hierdie wetenskaplikes.

“Ons bevestig ook dat ons bereid is om voort te gaan en eksplorasieboorwerk te voltooi, omvattende studies te doen en die vereiste inligting (data) te verskaf waarna die Unesco-verteenwoordigers verwys,” lui die verklaring.

Republikein het ’n Sauma-komiteelid, Wolfi Teichert, genader vir kommentaar en hy meen daar is geen bewyse dat ’n grondwaterstudie reeds uitgevoer is nie.

“Hulle ignoreer ook geheel en al die drastiese invloed wat die besproeiingskemas se wateronttrekking op die vloei van die water in die waterdraers het nie. Hulle het ook in voorleggings gewys dat daar geen foute en krake in die kleilae tussen die waterdraende sandsteen lae is nie,” het hy gesê.

NAVORSING

HSI het ’n kenner van die Internasionale Atoomenergie-agentskap (IAEA), dr. Alexander Boytsov, genooi en hy het glo in sy voorlegging beklemtoon dat ’n toets sal plaasvind met die doel om die tegniese grense van die projek te bepaal en ’n besluit te neem oor die verdere ontwikkeling daarvan.

Boytsov het gesê grondwaternavorsing is deel van die fase van uraaneksplorasie wat plaasvind voor mynbou begin.

“Ondervinding van proefaanlegte sal ook help om ’n omvattende, gedetailleerde en akkurate waterontleding so gou as moontlik uit te voer om data te verkry oor die mate van natuurlike waterbesoedeling met uraanafvalprodukte (radionuclides) om dan maatreëls in plek te stel om risiko’s te verminder en mense se gesondheid te beskerm, veral dié van boere wat boorgate het in Auob 3,” lui die verklaring.

BESPREKINGS

“Headspring Investment is nie gekant teen enige tegniese bespreking nie en ons glo dat besluite rakende die projek geneem sal word op grond van wetenskaplike feite en nie irrasionele vrese en ongegronde gerugte nie.”

Hierdie punt is glo ook deur die goewerneur van die Omahekestreek, Pijoo Nganate, ondersteun, asook die omgewingskommissaris, Timotheus Mufeti, geopper.

“Headspring Investments waardeer die inisiatief van die minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein, wat ’n platform vir 'n oop dialoog skep en om ’n hoëvlakgesprek rakende uraaneksplorasie in die Stampriet-waterkom te fasiliteer.”

BOTSWANA OOK BEKOMMERD

Die nuut aangestelde hoof uitvoerende sekretaris Comfort Molosiwa van Botswana, het ook kommer uitgespreek oor die in situ-logingsmynbou, aangesien dit die water wat deur Botswana gebruik word, kan beïnvloed.

Hy het ook aangedui dat die werklike grootte van die Stampriet-oorgrensakwiferstelsel verder tot in Botswana strek as wat oorspronklik gedink is.

Molosiwa het dit onlangs tydens ’n vergadering met Orasecom in Suid-Afrika gedeel. Orasecom is die oorgrens-rivierkom-organisasie van vier lande – Botswana, Lesotho, Namibië en Suid-Afrika – wat die Oranje-Senqu-rivierkommissie vorm.

Orasecom is gestig om aktiwiteite te koördineer, besluite te implementeer en om die billike en volhoubare ontwikkeling van die hulpbronne van die Oranje-Senqurivier te bevorder. Orasecom bied ’n forum vir konsultasie en koördinering tussen die lande om geïntegreerde waterhulpbronbestuur en -ontwikkeling binne die kom te bevorder.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer