Nog son- en windkrag

Augetto Graig
Die ministerie van myne en energie het sy nuwe kragopwekkingsprojekte vir die 2024 finansiële jaar bekendgemaak. Minister Tom Alweendo sê die jongste plan is om Namibië meer onafhanklik vir sy aanvraag na elektrisiteit te maak. Die projekte is ook ‘n stap om Namibië se kragnetwerk meer volhoubaar te maak, met die klem vir die opwek van krag wat aanstaande jaar volkome op hernubare energie sal val. Die ministerie het ook planne bekendgemaak vir die bykomende opwek van 330MW sonkrag. Tans kan Namibië slegs 40% van sy kragaanvraag self opwek, met die grootste meerderheid afkomstig van die Ruacana hidrokragstasie wat 374MW kan opwek wanneer die rivier sterk vloei. Namibië voer krag vanaf die Suider-Afrika Kragpoel (SAPP) in danksy vorige beleggings in die land se transmissienetwerk. Sedert 2018 beoog die regering om 'n bykomende 250MW plaaslik te laat opwek. Projekte wat voortduur en nog nie voltooi is nie, sluit in die Anixas II 50MW olieaangedrywe kragstasie in Walvisbaai, wat op 30 September verlede jaar met kommersiele bedrywighede begin het. Die amptelike inwyding van Anixas II word vroeg in die nuwe jaar verwag. Daar is ook vordering gemaak met die vestiging van die Otjikoto 40MW biomassa-kragstasie teen ‘n belegging van sowat N$2,3 miljard. Die sooispitgeleentheid vir bouwerk aan die Otjikoto-kragstasie het in November plaasgevind, met kommersiële bedrywighede wat na verwagting teen 2027 moet begin. Verder sal die 20MW Khan-sonkragaanleg buite Usakos teen Februarie voltooi te word, terwyl bouwerk aan ‘n 70MW-sonkragaanleg op Rosh Pinah teen koste van N$1,5 miljard in Januarie behoort te begin. Die aanleg moet teen Mei 2026 kommersieel begin krag opwek. Met ‘n omgewingsklaringsertifikaat en kragopwekkingslisensie reeds verseker, verwag die ministerie ook dat die 50MW-windkragprojek naby Lüderitz teen Desember 2026 krag sal begin lewer. Die Diaz 44MW-windkragprojek behoort teen April 2026 kommersieel krag op te wek. Nampower se 54MW-batterystoorstelsel by die Omburu-sonkragaanleg sal vanaf Februarie tot September gebou word. Die regering bou ook ‘n 400kV-transmissielyn vanaf Obib na Oranjemund wat teen Julie 2025 verder die land se kragnetwerk sal versterk. Die Auas-Gerus 400kV lyn het reeds in Maart 2024 in werking getree, terwyl finansiering vir die Auas-Kokerboom 400kV lyn vanaf die Wêreldbank teen US$138,5 miljoen verseker is. Dit vorm deel van Nampower se N$4 miljard 400kV uitbreidingsprogram. Namibië beplan nog 800 km se 400kV-kraglyne. Die Wêreldbank finansier ook ‘n beplande 45MW Lithops-batterykragstoorstelsel , waarvoor die boukontrak teen Julie 2025 toegeken moet word. Namibië en Angola het op 18 November ooreengekom om saam die 880MW Baynes hidrokragstasie op die Kunenerivier te bou, met finansiering wat voor die einde van 2026 verseker moet word. Dit sodat bouwerk aan die nodige dam in die eerste kwartaal van 2027 kan afskop. Die ministerie se jongste plan is dat 120MW se nuwe kragopwekkingskapasiteit deur onafhanklike kragopwekkers gebou moet word. Nampower is verantwoordelik vir 210MW se sonkragkapasiteit. Ses 20MW-sonkragaanlegte moet deur onafhanklike kragopwekkers in //Kharas, Hardap, Oshikoto, Otjozondjupa, Kavango-Wes en Zambezi gebou word.

Kommentaar

Republikein 2025-01-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 18° | 31° Oshakati: 20° | 31° Ruacana: 18° | 31° Tsumeb: 18° | 28° Otjiwarongo: 16° | 24° Omaruru: 18° | 25° Windhoek: 18° | 24° Gobabis: 20° | 30° Henties Bay: 18° | 22° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 21° Rehoboth: 19° | 26° Mariental: 20° | 29° Keetmanshoop: 21° | 27° Aranos: 21° | 31° Lüderitz: 17° | 25° Ariamsvlei: 23° | 31° Oranjemund: 17° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 24° Mbabane: 19° | 31° Maseru: 19° | 31° Antananarivo: 16° | 30° Lilongwe: 19° | 25° Maputo: 24° | 38° Windhoek: 18° | 24° Cape Town: 18° | 25° Durban: 24° | 35° Johannesburg: 19° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 20° Harare: 17° | 24° #REF! #REF!