Die Rosh Pinah-sonkragpark (RPSP) se opwekkingsvermoë word uitgebrei. Foto Appian Capital Advisory
Die Rosh Pinah-sonkragpark (RPSP) se opwekkingsvermoë word uitgebrei. Foto Appian Capital Advisory

Nóg sonkrag vir Rosh Pinah-myn

Augetto Graig
Die Rosh Pinah-sinkmyn sal baat vind by Appian Capital Advisory se besluit om die meerderheidsbelang in die Rosh Pinah-sonkragpark (RPSP) van Emesco Energy te verkry.

Die ontwikkelingsplanne sluit die uitbreiding van die aanleg van ’n maksimum opwekkingsvermoë van 5,4 MW tot 16,3 MW in, volgens ’n Appian-verklaring wat Woensdag uitgereik is.

Ander voordele wat vir die myn beplan word, sluit in die vermindering van energiekoste met 8% oor die volgende 15 jaar en die voorsiening van tot 30% van die myn se energievraag met skoon hernubare sonkrag.

Met ’n vastekostekoersooreenkoms wat vir die volgende 15 jaar geldig is, trek die myn ook voordeel uit die voorafbepaalde sekerheid van energiekoste.

Volgens die verklaring verbeter die ontwikkeling die myn se volhoubaarheid en verminder die myn se koolstofvrystellings met 14 kt per jaar, gelykstaande aan die resultaat om 20 000 nuwe bome te plant.

Die verhoogde toevoer van sonkrag sal gebruik word om Rosh Pinah-sinkmyn se uitbreidingsprojek, bekend as RP2.0, te bevorder.

Dié uitbreiding, wat reeds 60% voltooi is, luidens die verklaring, sal die myn se produksie van 0,7 miljoen ton per jaar tot 1,3 miljoen ton per jaar verhoog.

“Die transaksie is deel van Appian se strategie vir skoon energie, wat die maatskappy se ambisies ondersteun om sy portefeulje koolstofvry te maak,” lui die verklaring.

Emesco Energy gaan voort om die sonkragaanleg te bestuur en toesig te hou oor die uitbreiding, sê Appian.

Michael Scherb, die stigter en uitvoerende hoof van Appian, word aangehaal wat sê dit is ’n belangrike belegging vir sy maatskappy, wat “tasbare kostevoordele aan Rosh Pinah Zinc bied, terwyl dit aantreklike risiko aangepaste opbrengste aan ons beleggers verskaf”.

Die projek is nog ’n belangrike stap vir Appian se strategie vir skoon energie na die ontwikkeling van ons sonkragaanlegbedrywighede in Brasilië,” sê hy.

Appian ontwikkel tans 20 sonkragaanlegte in die Minas Gerais-streek in dié Suid-Amerikaanse land.

Emesco se besturende direkteur, Rinus Strydom, word ook aangehaal: “Hierdie belegging deur Appian is ’n beslissende stap, nie net in die uitbreiding van RPSP se hernubare energie-aanleg nie, maar ook vir die uitbreiding van Namibië se energieopwekkingsektor in die algemeen,” sê Strydom.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer