Olie-moontlikhede in die kollig
Energieminister waarsku oor slaggate
Meer as 200 buitelanders en sowat 500 Namibiërs woon vandeesweek die oliekonferensie in Windhoek by.
Die onlangse olie- en gasontdekkings is nie ’n outomatiese oplossing vir ons sosioëkonomiese uitdagings nie.
Só het die minister van myne en energie, Tom Alweendo, gister by die Mercure Hotel (voorheen Safari Hotel) in die hoofstad gesê.
Sy toespraak was deel van die amptelike openingseremonie vir die olie- en gaskonferensie wat vandag tot ’n einde loop.
“Terwyl potensieel beduidende oliebeleggings na verwagting na Namibië sal vloei, is dit nie ’n gegewe dat voorspoed sal volg nie. Voorspoed sal slegs volg as die beleggings en die gevolglike olie-inkomste goed bestuur word.
“As dít nie goed bestuur word nie, kan die daaropvolgende uitkomste wel verergerende sosioëkonomiese uitdagings wees,” het die minister gemaan.
Die konferensie word deur meer as 700 afgevaardigdes bygewoon, insluitend meer as 200 internasionale gaste vanaf 16 verskillende lande.
Die geleentheid spruit uit verskeie olievondste – verlede jaar en vanjaar – in die Atlantiese Oseaan langs die suidkus.
Namibië wag tans vir bewyse dat die ligte olie wat ontdek is, voldoende is vir kommersiële produksie, en beplan om ’n groot nuwe nywerheid daarvoor te vestig.
Die tema van vanjaar se konferensie is “Die benutting van olie-ontdekkings vir inklusiewe ekonomiese ontwikkeling”.
Een van die slaggate wat olie vir ’n land kan inhou, staan bekend as die “Dutch curse”. Dit is wanneer die oliebedryf ’n land se ekonomie in so ’n mate begin oorheers dat ander nywerhede nie ’n bestaan kan maak nie en die land té afhanklik van olie raak.
Die waarnemende besturende direkteur van die Nasionale Petroleumkorporasie van Namibië (Namcor), Shiwana Ndeunyema, het in sy voorlegging daarna verwys en gewaarsku dit kom as té veel kapitaal en menslike hulpbronne uitsluitlik in die oliebedryf aangewend word.
In Alweendo se toespraak was die ander hoofkwessies die bestuur van die olie- en gasnywerheid, die ontwikkeling van plaaslike vermoë en kapasiteit om aan die nywerheid deel te neem, en die impak van die wêreldwye oorgang na hernubare energie op Namibië se olie- en gassektor.
In terme van die behoefte om klimaatsverandering te versag deur weg te beweeg vanaf koolstofgebaseerde energiebronne, dring Alweendo aan op ’n regverdige oorgangsproses.
“Klimaatsverandering is ’n werklikheid,” sê hy, maar voeg by dit is onredelik wanneer sekere lande en internasionale groepe aandring dat die oorgang afgedwing word sonder dat die lewensbestaan van diegene wat beïnvloed word in aanmerking geneem word.
“Hierdie soort denkwyse is neerhalend, en dit dui op ’n totale gebrek aan kommer oor die geweldige sosioëkonomiese ontwikkelingsuitdagings wat ontwikkelende lande, soos ons s’n, in die gesig gestaar,” sê hy.
Namibië beplan dus om saam met groot oliebeleggers die plaaslike nywerheid vanaf die beginpunt teen die laagste koolstof-vrystellings te ontwikkel, sê hy.
Eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila het die konferensie geopen en in haar toespraak het sy Alweendo se ambisie vir Namibië herhaal: “Ons teenwoordigheid hier is nie net simbolies nie, maar dui op ons toewyding om Namibië die volhoubare energie-hoofstad van Afrika te maak,” sê sy.
Sy noem dat omgewingsbewaring deel is van Namibië se Grondwet en beklemtoon dat die ontwikkeling van die olie- en gassektor nie ten koste van ander nywerhede in die land moet geskied nie.
Sy stem saam met Alweendo dat Namibië al sy hulpbronne moet gebruik om ’n inkomste te genereer wat die oorgang na hernubare krag kan befonds.
Olie kan Namibië se bruto binnelandse produk (BBP) laat groei vanaf US$13 miljard na US$37 miljard teen 2040.
TotalEnergies beplan tans om N$5,5 miljard op die evaluering van sy Venus-ontdekking te bestee, die grootste besteding op eksplorasie in Afrika vanjaar.
Saam met Shell se Graff-ontdekking kan die twee oliebronne tot 4 200 nuwe werksgeleenthede skep, plus die indiensneming van nog 2 000 werknemers per jaar, oor die projekte se leeftyd van 20 jaar, voeg sy by.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie