‘Olieproduksie nié ’n hersenskim’

Kudu-gas leef steeds
Augetto Graig
“Plaaslike inhoud is ’n móét. In Namibië is dit ’n moet.”

Dit was Namibië se petroleumkommissaris, Maggy Shino, se boodskap aan teenwoordigers by die opening van die olie- en gaskonferensie wat gister by die Mercure Hotel in Windhoek tot ’n einde geloop het.

Die tweedagkonferensie het meer as 700 afgevaardigdes gelok, insluitend meer as 200 internasionale gaste.

Plaaslike inhoud verwys na Namibiërs se deelname in die stormloop na die nuwe oliebedryf in Namibië, ná die onlangse ontdekkings van olie in die Atlantiese Oseaan langs die Suidkus.

Namibië het nie net onlangs ’n nuwe beleid oor plaaslike inhoud vir die oliebedryf ontwikkel nie, maar volgens Shino is daar ook ’n klousule in die standaardooreenkoms ingesluit wat oliemaatskappye met die regering moet onderteken.

“Namibiese mans en vroue moet nou hul plek volstaan. Namibiërs kan reeds deelneem deur dienste en goedere aan die eksplorasiesektor te lewer,” sê sy.

Shino het uitgebrei oor die ontdekkings wat in 2022 en vroeër vanjaar gemaak is.

Sy noem Shell se aanvanklike ontdekking by die Graff-1X-boorgat wat waarskynlik tot 250 miljoen vate ligte olie sal kan lewer, asook Shell se Jonker-1X-boorgat wat moontlik tot 300 miljoen vate sal kan lewer, en die Venus-1X boorgat van TotalEnergies met tot 2 miljard vate.

Dié syfers word gereeld opgedateer en kan verander, waarsku sy. Beide reuse-oliemaatskappye is op die oomblik besig met waardebepaling-boorwerk om vas te stel of die ontdekkings kommersieel vatbaar is. Shino het ook Shell se La Rona-1X-ontdekking uitgelig, maar sy het niks van Shell se vierde en nuutste sukses gesê nie.

LESEDI-ONTDEKKING?

Shell het sowat ’n maand gelede nog ’n olie-ontdekking by sy Lesedi-1X-boorgat aangekondig.

Die ministerie kan bevestig dat hulle in Julie ''n verslag van Shell oor die ontdekking van olie ontvang het.

"Die ministerie het 'n sterk verhouding met Shell, operateur van PEL 0039, en ons is in gereelde kontak met Shell oor die prestasie van sy buitelandse bedrywighede. Ons fokus is egter op die resultate wat die grootste potensiaal vir ekonomiese ontwikkeling toon," sê die petroliumkommissaris.

Shino voer aan dat dit nou ’n geskiedkundige tydperk vir olie in Namibië is, met vier booreilande wat tans in Namibiese waters werksaam is – die meeste nog op een slag.

Die Tungsten Explorer, die Deepsea Mira, die Maersk Voyager en die Deepsea Bollsta is almal in die Atlantiese Oseaan buite Lüderitz bedrywig.

“Namibië se reis na olieproduksie is nié ’n hersenskim nie, maar die werklikheid daarvan hang van die tydsberekening af,” sê sy.

KUDO LEEF VOORT

Nog ’n geleentheid wat die olie-ontdekkings bied, is danksy die bykomende natuurlike gas wat terselfdertyd gevind is.

Shino sê hierdie nuwe ontdekkings vergroot die moontlike hulpbron wat reeds in 1974 by die Kudu-gasvelde langs die Suidkus gevind is. Vanaf 1,3 TCF (triljoen kubieke voet) kan die hulpbron dalk nou 10 TCF bied, sê sy.

Om dit te ontwikkel, beplan die regering ’n drywende platform sowat 170 km vanaf die kus waarvan die gas per pyplyn na ’n kragvaartuig op Elizabethbaai by Lüderitz gelei sal word. Daar sal tot 420 MW krag opgewek word wat 20 km na Suid-Afrika, na Namibië en na die res van die Suider-Afrikaanse Kragpoel versprei sal word.

“Ons Kudu weier om te vrek en meer lewe word daarin gepomp,” sê sy en moedig beleggers aan om met nuwe oë na die projek te kyk. Weens die olie-ontwikkeling sal die Kudu-gasprojek binnekort met infrastruktuur ondersteun word, voeg sy by.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!