Oliesoektog vat vlam

Boorwerk begin reeds
Northern Ocean het in 'n verklaring bevestig sy booreiland het in Namibië aangekom en het reeds met boorwerk begin.
Augetto Graig
Die verkose booreiland van TotalEnergies het dié week in Namibië se waters aangekom en onmiddellik in die diep waters van die Atlantiese Oseaan langs Lüderitz se kusgebied begin boor.

Verskeie internasionale nuuswebwerwe berig dat die kontrakteur Northern Ocean die aankoms van die booreiland en die daaropvolgende boorwerk, bevestig het.

Dié maatskappy se booreiland, Deepsea Mira, het reeds in April vanjaar vanaf Noorweë vertrek. Dit nadat die booreiland reeds in Desember 2022 gekies is ná TotalEnergies in Maart 2022 olie by sy Venus-1X (PEL 56)-boorgat ontdek het.

Offshore-energy.biz berig dat die maatskappy vertragings ervaar het om die toerusting te laai en met die nodige instandhouding op pad na Namibië.

Dié aanlyn publikasie het ’n gedeelte van Northern Ocean se mediaverklaring aangehaal, waarin dit Woensdag bevestig is dat die booreiland in Namibië aangekom en reeds met boorwerk begin het.

Die vaste kontrak is daarvolgens vir 300 dae onderteken, met TotalEnergies wat twee opsies het om die tydperk vir nog 180 dae, en nog 90 dae te verleng. As beide opsies gebruik word, sal die booreiland tot diep in volgende jaar nog in Namibiese waters werksaam wees.

Martin Negonga, die batebestuurder van die regering se oliemaatskappy, Namcor, het Maandag by ’n geleentheid van die Kamer van Koophandel (NCCI) oor die nuutste verwikkelinge in olie-eksplorasie uitgebrei.

Volgens hom het TotalEnergies reeds boorwerk by die Venus-1A-boorgat in Junie voltooi, en word die klepstelsel ontplooi terwyl vloeistof-eienskappe ook tans getoets word.

Op 18 Junie is die Nara-1X (PEL 91)-boorgat ook geboor, sê hy, met boorwerk vir die beoordeling daarvan wat in die vierde kwartaal van vanjaar verwag word.

TotalEnergies wil spoedig tot produksie oorgaan, met die verwagting vir die eerste olie teen 2029, sê hy.

Northern Ocean voorsien ook aan Shell in Namibië die Deepsea Bollsta-booreiland se gebruik en volgens Offshore-energy.biz is hierdie kontrak tot Junie 2024 verleng.

Shell het reeds in Februarie 2022 by die Graff-1X (PEL 39)-boorgat olie ontdek, en in Februarie verlede jaar by die Jonker-1X (PEL 39)-boorgat, sê Negonga.

Shell benader die projek in fases, met sy eerste olie wat in 2030 verwag word, sê hy.

Volgens hom het Shell Namibia die Graff-1X se klepstelsel ontplooi en vloeistof-eienskappe reeds in April getoets.

In Mei is berig dat olie by Graff-1X raakgeboor is met die olie wat glo “soos ’n trein” op boorwerkers afgepyl het.

Shell het ook in Mei die Lesedi-1X (PEL 39)-boorgat geboor en sou vandeesmaand nog ʼn vierde boorgat laat boor.

Die Portugese olie- en gasmaatskappy Galp Energia het ook in Mei die Hercules-booreiland gehuur om twee gate in sy PEL 83-eksplorasiegebied te boor. Dit behoort in die vierde kwartaal van vanjaar te arriveer en is vir 115 dae, insluitend reistyd, gehuur om die boorwerk te kom doen.

Negonga sê Galp se beplande boorgate is noord van die Kudu-gasvelde en is in dieselfde omgewing as die ontdekkings.

Namcor besit 10% van Galp se PEL 83, asook 10% van Shell se Graff 1X, met QatarEnergy en Shell wat elk 45% besit.

In terme van TotalEnergies se twee eksplorasieblokke 2912 en 2913B, besit Namcor 15% en 10% onderskeidelik, met Impact Oil and Gas wat onderskeidelik 18,89% en 20% besit, en QatarEnergy met 28,33% en 30%.

Negonga se raad aan sakelui en plaaslike entrepreneurs is om vroegtydig voor te berei om deel te neem aan die ontluikende oliebedryf in Namibië: “Inligting is goud werd, leer en slyp jou vaardighede, maksimaliseer volhoubaarheid en onthou jou netwerk is koning.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!