Otjikoto-aanleg: Bouwerk begin dalk in 2024

NamPower vergader op Tsumeb
Boere is verseker dat NamPower ernstig oor die projek is, alhoewel dit al reeds vir langer as tien jaar onderweg is.
Elvira Hattingh
Namibië se sonkragbedryf is besig om soveel groei te toon, dat tot 50% van die elektrisiteit wat daagliks in die land gebruik word, binnekort deur dié proses verskaf sal kan word.

“Dit laat NamPower egter met die uitdaging dat die verskaffingsnetwerk versterk sal moet word, want sonkrag is wisselvallig.

“NamPower moet dus baie geld op oordrag-opgraderings bestee. Dít, of aanlegte soos die Otjikoto-biomassa-kragstasie van 40 megawatt (MW) moet ontwikkel word – wat voorsiening sal maak vir stabiele kragverskaffing.”

Dit was die woorde van NamPower se Tangeni Tshivute, wat die afgelope Vrydag boere en kontrakteurs op Tsumeb toegespreek het oor hul planne om hout vir die beplande Otjikoto-aanleg aan te koop.

Hy het gesê indien alles volgens plan verloop, kan konstruksie aan die aanleg volgende jaar in Maart of April begin, terwyl die aankoop van biomassa of hout dan 18 maande daarna sal begin.

OTJIKOTO

Tshivute het boere verseker dat NamPower ernstig oor die projek is, alhoewel dit al reeds vir langer as tien jaar onderweg is.

“Die projek is in 2012 van stapel gestuur, maar oponthoude met tenders met die langtermynverskaffing van houtskaafsels het vertragings veroorsaak.”

Hy sê ’n nuwe tender hiervoor is nou reeds onder evaluering, terwyl die tweede tenderproses vir die konstruksie van die aanleg op 1 Desember tot ’n einde kom. “As ons tevrede met die pryse is, sal die konstruksie van die Otjikoto-aanleg tussen Maart en April volgende jaar begin.”

ESKOM EN KRAGINVOER

“Baie mense is bekommerd oor wat met Eskom aan die gang is. Eskom is egter nie ons grootste buitelandse kragverskaffer nie. Zambië is ons grootste verskaffer,” het hy gesê.

Terwyl Namibië tans elektrisiteit vanaf Zambië, Zimbabwe en ook Suid-Afrika invoer, wek die Ruacana-hidrokragstasie tans binnelands die meeste elektrisiteit op.

“Die voordeel van elektristeit wat ingevoer word, is dat dit betroubare verskaffing is. As jy dit soek, is dit daar – anders as met plaaslike projekte waar elektrisiteit met behulp van die son of wind opgewek word,” het hy verduidelik.

Tshivute sê tans is dit egter ’n uitdaging met kragopwekkingsentrums wat ver geleë is van die plekke waar die meeste elektrisiteit benodig word. “Dit beteken dit moet oor groot afstande gelei word. Dit is ’n probleem, want NamPower moet dus dikwels oorbestee aan oordragkoste en het dan min oor om op kragopwekking te fokus,” het hy gesê.

Tshivute het ook gesê projekte soos Otjikoto sal Namibië mettertyd in staat stel om ingevoerde krag te vervang met elektrisiteit wat plaaslik opgewek word.

VOORDELE

Hy het bygevoeg die Otjikoto-aanleg sal veel nader geleë wees aan die gebiede in die land wat die grootste elektrisiteitsgebruikers is. “Dit sal die land en vir NamPower help. Boonop sal so ’n projek ’n direkte voordeel vir Namibië se landboubedryf inhou deur weiding met behulp van ontbossing te bevorder en werk te skep – met geld wat andersins ‘uitgevoer’ sou word wat binnelands gehou word,” het hy bygevoeg.

Tshivute het verduidelik dat die Otjikoto-aanleg net buite Tsumeb geleë sal wees en na raming tussen 210 en 300 gigawatt-uur (GWh) sal lewer – meer as ’n kwart van die elektrisiteit wat deur Ruacana verskaf word.

Otjikoto sal elektrisiteit opwek deur houtskaafsels van indringerbos te verbrand, wat van beide langtermynverskaffers asook ad-hoc verskaffers binne ’n radius van min of meer 100 km rondom Tsumeb sal kom.

Die aanleg het ’n lewensduur van 25 jaar en sal mettertyd ook – tydens ’n tweede fase – die moontlikhede verken om koolstof terug in die grond vas te vang. Sou die projek by Tsumeb suksesvol wees, kan soortgelyke projekte in ander dele van die land uitgerol word.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!