Plaaslike kragmark sprei sy vlerke
Uitvoer na SAPP lok aandag
Die gewysigde enkelkoperstelsel bring die oopstelling van markte, mededinging en keuses vir verbruikers mee.
Die Elektrisiteitsbeheerraad (ECB) het Solnam se aansoek goedgekeur om sy sonkragkapasiteit wat die maatskappy na die Suider-Afrikaanse kragpoel (SAPP) mag uitvoer, vanaf 13,2 megawatt-piek (MWp) tot 60,65 MWp te verhoog.
Die raad het ook Anirep se aansoek goedgekeur om 25,722 MWp aan Dundee Precious Metals in Tsumeb te voorsien, en Inceptus Energy se aansoek vir 0,9036 MWp-sonkrag aan die Universiteit van Namibië (Unam) se hoofkampus asook Paratus Telecom se aansoek om 0,9 MWp sonkrag vir eie gebruik op te wek.
SCA Trading het ook lisensies verkry om in elektrisiteit handel te dryf en om krag uit te voer.
Die raad het egter aansoeke van Windnam Energy, Ino Investment en Terrawatt Africa vir die uitvoer van krag na die SAPP afgekeur weens beperkte kapasiteit, asook ’n beperking in die hoeveelheid krag wat die netwerkverbindings na Zambië en Suid Afrika kan dra.
Tot op hede het die ECB lisensies vir die uitvoer van altesaam 1,2 gigawatt (GW) na die SAPP toegeken, terwyl die kragnetwerk se kapasiteit vir uitvoer tans net 780 megawatt (MW) is.
Die ECB se uitvoerende hoof, Robert Kahimise, sê die plaaslike vraag na elektrisiteit het tot 700 MW gestyg.
Hy sê onafhanklike kragverskaffers kan gelok word om elektrisiteit na die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) uit te voer, waar pryse hoër is. Die prys vir sonkrag in dié streek is soms N$2 per kilowatt-uur teenoor die plaaslike gemiddelde prys van sowat 70 sent per kilowatt-uur.
“Daar is ruimte vir meer plaaslike opwekking, maar verbruikers is op soek na laer pryse,” sê Kahimise.
Die ECB se algemene bestuurder vir ekonomiese regulering, Pinehas Mutota, sê uitvoere bied ’n groter mark, met ’n tekort van 9 000 MW wat tans ervaar word.
Volgens Kahimise verskuif die mark na kragvoorsiening na die SAPP en sal dit die ECB in staat stel “om die Namibiese droom van die uitvoer van krag ’n werklikheid te maak”.
Mutota sê op sy beurt “ons droom is om ’n uitvoerder van skoon krag te word”. Die beperking op die netwerk raak volgens hom slegs kraguitvoere en nie die ontluikende groenwaterstofbedryf nie.
Met betrekking tot die netwerk se uitvoervermoë, is beide Kahimise en Mutota dit eens dat dit nie net die nasionale kragvoorsiener NamPower is wat iets aan die kwessie kan doen nie.
“Daar is voorbeelde in die streek van onafhanklike transmissiemaatskappye wat self infrastruktuur bou en onderhou,” sê Mutota.
“Die ECB kan en sal aansoeke van dié aard en binne die raamwerk van ons wette oorweeg,” sê Kahimise, terwyl duplikasie en die standaard van infrastruktuur ook in ag geneem word.
Die verwikkelinge is moontlik danksy Namibië se gewysigde enkelkoperstelsel wat volgens Kahimise tans baie aandag van buurlande geniet.
“Almal kyk na die Namibiese model. Ons vorder met betrekking tot die liberalisering van die mark, groter mededinging en meer keuses vir verbruikers. Die stelsel stel onafhanklike kragverskaffer in staat om tot 30% van sekere grootmaatverbruikers se krag te voorsien.
Uit 26 verbruikers wat in aanmerking kom, het 20 reeds by die ECB geregistreer. Drie uit die oorblywende ses het aansoek gedoen om te registreer. Die drie aansoeke, insluitend Stad Windhoek, sal teen die einde van vandeesmaand voltooi wees, sê Kahimise.
Onafhanklike kragverskaffers wat reeds grootmaatverbruikers bedien, sluit Rosh Pinah Solar Park in, wat 5,7 MW aan die Rosh Pinah-sinkmyn voorsien, asook Skeleton Coast Trawling en Namibia Poultry Industries wat albei onderskeidelik 2,6 MW en 3,1 MW vir hul eie gebruik opwek.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie